MATTEUS 21:28-32
MATTEUS 21:28-32 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het gesê: “Wat dink julle, wie het reg gedoen? 'n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste seun toe gegaan en vir hom gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in my wingerd.’ Die seun het geantwoord: ‘Ek wil nie gaan nie.’ Maar later was hy jammer en hy het gaan werk. Die man het daarna na die tweede seun toe gegaan en dieselfde vir hom gesê. Die seun het geantwoord: ‘Pa, ek sal gaan.’ Maar hy het nie gegaan nie.” Jesus vra toe vir die priesterleiers en die familieleiers: “Watter seun het gedoen wat sy pa wou hê?” Hulle het gesê: “Die eerste seun.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle ingaan daar waar God Koning is. Want Johannes die Doper het gekom om vir julle te wys hoe God wil hê julle moet lewe, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en die prostitute het hom geglo. En toe julle dit sien, was julle nie later jammer nie, julle het nie vir Johannes geglo nie.”
MATTEUS 21:28-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR wat dink julle? 'n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God. Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.
MATTEUS 21:28-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Wat sê julle hiervan? Daar was 'n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”
MATTEUS 21:28-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wat dink julle? 'n Man het twee kinders gehad. Hy gaan toe na die eerste een en sê, ‘My kind, gaan werk vandag in die wingerd. ’ Maar hy antwoord, ‘Nee, ek wil nie.’ Later het hy egter spyt gekry en tog gegaan. Die man het toe na die ander kind gegaan en dieselfde gesê. Hy het geantwoord, ‘Ek sal, heer,’ maar hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van hulle vader gedoen?” Hulle sê: “Die eerste een.” Jesus sê vir hulle: “•Amen, Ek sê vir julle, die •tollenaars en prostitute sal voor julle in die •koninkryk van God ingaan. Want Johannes het na julle gekom met die pad van •geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en prostitute het hom geglo. En hoewel julle dit gesien het, het julle tog nie later berou gekry en hom geglo nie. ”
MATTEUS 21:28-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar wat dink julle? 'n Sekere man het twee seuns gehad; en hy het by die eerste gekom en gesê: Seun, gaan werk vandag in my wingerd. Hy antwoord en sê: Ek wil nie, maar daarna het hy berou gehad en gegaan. En hy het by die tweede gekom en net so gesê. En hy antwoord en sê: Ek gaan, meneer, en het nie gegaan nie. Wie van hulle twee het die wil van sy vader gedoen? Hulle sê vir hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan voor julle in die koninkryk van God in. Want Johannes het na julle gekom op die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en die hoere het hom geglo; en julle, toe julle dit gesien het, het julle later nie bekeer om hom te glo nie.
MATTEUS 21:28-32 Die Boodskap (DB)
Voor die Joodse leiers nog kon padgee, sê Jesus: “Wag so ’n bietjie. Sê My, wat dink julle van hierdie verhaal? “Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed, Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. Nou vra Ek julle: Watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?” “Hoekom vra jy nog? Die eerste een natuurlik.” “Weet julle wat?” sê Jesus toe. “Julle gaan eendag staan en kyk hoe die mense op wie julle so neersien voor julle by God se nuwe wêreld instap. Ja, Ek praat van mense soos prostitute of die tollenaars van wie julle niks hou nie. Julle dink mos julle is beter as hulle! En weet julle hoekom gaan hulle voor julle instap? Johannes het julle die pad kom wys wat God wil hê julle moet loop, maar julle het julle natuurlik nie aan hom gesteur nie. Die prostitute en die tollenaars het egter aan sy lippe gehang en God se pad begin loop. Julle het die neus vir hulle opgetrek, en wat is die gevolg? Julle is nog steeds op die verkeerde pad!”
MATTEUS 21:28-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’ ‘Ek is nie lus nie,’ was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk. Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag. Dié antwoord toe: ‘Ek maak so, Pa,’ maar hy het tog nie gaan werk nie. Wie van die twee was die gehoorsame een?” Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan. Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie. Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar. En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”