MATTEUS 20:17-34
MATTEUS 20:17-34 Bybel vir almal (ABA)
Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met 'n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.” Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra. Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.” Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. My Vader het klaar besluit wie daar moet sit.” Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers se ma gevra het, het hulle kwaad geword vir die broers. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat oor ander mense regeer en wat hulle verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander dien. As een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. Julle moet wees soos Ek is. Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.” Toe Jesus en sy dissipels uit Jerigo uitgaan, het baie mense saam met hulle geloop. Daar het twee blindes langs die pad gesit. Toe hulle hoor Jesus gaan daar verby, het hulle hard begin skree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Baie mense het met hulle geraas en vir hulle gesê hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder geskree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Jesus het gaan staan en Hy het hulle geroep en gesê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle sê toe: “Here, ons wil graag sien.” Jesus was baie jammer vir hulle en Hy het aan hulle oë geraak. Die mans kon dadelik sien en hulle het Jesus gevolg.
MATTEUS 20:17-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan. Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie. EN toe hulle uit Jérigo uitgaan, het 'n groot menigte Hom gevolg. En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.
MATTEUS 20:17-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.” Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra. “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” “Ons kan,” antwoord hulle. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.” Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers. Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.
MATTEUS 20:17-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het opgegaan na Jerusalem. Onderweg het Hy die twaalf dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “ Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en skrifkenners. Hulle sal Hom ter dood veroordeel, en Hom aan die heidene oorlewer om Hom te bespot, te gesel en te kruisig; maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit. ” Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink? ” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, •Seun van Dawid!” Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg.
MATTEUS 20:17-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus wat opgegaan het na Jerusalem, het die twaalf dissipels op die pad afsonderlik geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem; en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en aan die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel, en Hy sal Hom aan die heidene oorgee om te spot en te gésel en om Hom te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan. Toe het die moeder van Sebedeus se kinders met haar seuns na hom gekom en hom aanbid en iets van hom begeer. En hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy sê vir hom: Gee dat hierdie twee seuns van my mag sit, die een aan u regter- en die ander aan die linkerkant, in u koninkryk. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Is julle in staat om te drink uit die beker waaruit Ek sal drink, en om gedoop te word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir hom: Ons is in staat. En Hy sê vir hulle: Julle sal wel van my beker drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop is; maar om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit sal gegee word aan hulle vir wie dit deur my Vader berei is. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig teen die twee broers. Maar Jesus het hulle na hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die heidene oor hulle heers, en die groot is gesag oor hulle. Maar so sal dit nie onder julle wees nie; maar elkeen wat groot wil wees onder julle, laat hom julle dienaar wees; En elkeen wat onder julle die hoof wil wees, laat hom julle dienaar wees. Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie. En toe hulle van Jerigo af wegtrek, het 'n groot menigte Hom gevolg. En kyk, twee blindes sit langs die pad, toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons genadig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, omdat hulle moes swyg; maar hulle het des te meer uitgeroep en gesê: Wees ons genadig, Here, Seun van Dawid! En Jesus het stilgestaan en hulle geroep en gesê: Wat wil julle moet Ek aan julle doen? Hulle sê vir Hom: Here, dat ons oë geopen kan word. Toe het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.
MATTEUS 20:17-34 Die Boodskap (DB)
Op pad na Jerusalem het Jesus sy dissipels op ’n dag eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Soos julle weet, gaan ons nou Jerusalem toe. Daar gaan iets verskrikliks met My gebeur. Die godsdienstige leiers gaan My vang en My ter dood veroordeel. Dan sal hulle My oorgee aan die Romeine. Hierdie spul sal My daar voor almal spot en beledig en My slaan. Uiteindelik sal hulle My kruisig. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Kort daarna het die ma van Johannes en Jakobus saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy kniel toe voor Hom en sê dat sy vir Hom iets belangriks wil vra. “Wat het jy op die hart?” vra Jesus haar. “Belowe my asseblief dat wanneer U as Koning in God se nuwe wêreld heers, U vir my seuns die twee heel beste plekke daar sal gee. Laat hulle sommer reg langs U sit: een aan u linkerkant en een aan u regterkant.” “Jy en jou seuns weet nie wat julle vra nie,” antwoord Jesus. “Weet julle, Ek is op pad na my dood toe. Dit is soos ’n bitter beker wat Ek moet leegdrink. Sien julle daarvoor kans? Is julle ook bereid om ’n beker vol pyn en lyding leeg te drink?” “Waarom nie?” het hulle geesdriftig geantwoord. “Ja, eintlik is julle reg! Julle sal nog baie swaarkry, net soos Ek. Julle sal ook een van die dae julle beker van lyding moet leegdrink. Maar wat julle versoek oor die beste plekke in die hemel betref: Ek besluit nie daaroor nie. My Vader self sal besluit wie dit kry.” Toe die ander tien dissipels agterkom wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het, was hulle op die plek kwaad. Hulle het gedink dat die twee beste plekke nou voor hulle neus opgeraap is. Jesus wou egter nie hê dat hulle onder mekaar aan die stry moes raak nie. Daarom roep Hy hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet mos hoe dit in die wêreld gaan: politici en mense in magsposisies speel heeltyd baas oor al hulle onderdane. Hulle misbruik hulle gesag en doen net wat hulle wil. Julle mag egter nooit so maak nie. As een van julle in God se oë belangrik wil wees, moet hy bereid wees om ander te dien. “Is julle op soek na ’n leiersposisie in die kerk? Wel, word dan ander gelowiges se slaaf. ’n Slaaf het net een doel voor oë, en dit is om sy eienaar van vroeg tot laat tevrede te stel. Kyk na My: Ek is die Seun van die mens. Tog het Ek nie op ’n troon kom sit sodat mense My van kop tot tone kan bedien nie. Nee, Ek het gekom om te dien. Ek gaan binnekort selfs my lewe ter wille van julle almal opoffer. My lewe sal die losprys wees wat baie mense uit die mag van die dood loskoop.” Later, toe hulle uit Jerigo stap, het ’n groot skare mense agter Jesus aangekom. Hulle het by twee blindes verbygestap wat daar langs die pad gesit het. Toe hierdie mans hoor dat dit Jesus is wat by hulle verbystap, het hulle dadelik besef dit is hulle gelukkige dag. Hulle het skielik hard begin skreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Maar die ander mense het vir hulle gesê: “Bly stil! Hou op om so te skreeu!” Dit het egter nie gehelp nie. Die blindes het net nog harder geskreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Jesus stap toe tot by hulle en vra vir hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” “Ag, Here, ons wil so graag sien! Maak asseblief ons oë gesond,” antwoord hulle. Jesus het hulle baie jammer gekry omdat hulle so hulpeloos daar gesit het. Toe vat Hy aan hulle oë. Dadelik kon hulle weer sien. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Vol blydskap het hulle daar en dan by die res van die skare ingeval en agter Jesus aangestap.
MATTEUS 20:17-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus na Jerusalem onderweg was, het Hy sy dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die Romeine om gespot en gegésel en gekruisig te word. Maar op die derde dag sal Ek uit die dood opgewek word.” Daarop kom die ma van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe met haar twee seuns. Sy kniel toe eerbiedig neer om van Hom ’n guns te vra. “Wat is jou versoek?” het Jesus haar gevra. Sy het geantwoord: “In u koninkryk, wanneer U op u troon sit, mag my twee seuns op die ereplekke regs en links van U sit?” Daarop het Jesus gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie! Sien julle daarvoor kans om die bitter lydensbeker te drink wat vir My bestem is?” Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.” “Dis waar,” sê Hy, “julle sal ook daarvan drink. Maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. My Vader hou daardie plekke gereed vir dié wat Hy self uitgekies het.” Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers wou hê, was hulle bitterlik verontwaardig. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.” Toe Jesus en die dissipels uit Jerigo gaan, het baie mense agter Hom aangekom. Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het net nog harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Jesus het gaan staan en hulle laat roep. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle. Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!” Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan.