MATTEUS 2:1-20

MATTEUS 2:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar 'n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ” Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan. Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is: “'n Stem is in Rama gehoor, 'n droewige gehuil en 'n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.” Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.”

MATTEUS 2:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag: “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.” Toe koning Herodes hiervan hoor, het dit hom hewig ontstel; so ook die hele Jerusalem. Hy roep toe al die priesterhoofde en skrifkenners bymekaar en hoor by hulle waar die Messias gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want die profeet het soos volg geskryf: ‘En jy, Betlehem, in die landstreek van Juda, jy is beslis nie die onbeduidendste dorpie in Juda nie; want uit jou sal daar ’n leier voortkom wat my volk Israel sal versorg soos ’n skaapwagter sy skape.’” Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was. Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom. Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre. Maar omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie weer na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander roete huis toe vertrek. Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.” Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek. En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is vervul wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het. Daarmee is Jeremia se uitspraak vervul: “’n Smartkreet word gehoor in Rama, ’n gesnik en ’n bitter geklaag. Ragel huil oor haar kinders. Sy wil maar net nie vertroos word nie, want hulle is dood.” Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.”

MATTEUS 2:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Jesus is gebore in die stad Betlehem in die provinsie Judea. Dit was in die tyd toe Herodes koning was. Ná Jesus se geboorte het daar sterrekykers in Jerusalem aangekom. Hulle het vir die mense gevra: “Waar is die Kind wat gebore is en wat koning van die Jode sal word? Ons het sy ster gesien opkom en ons het gekom om voor Hom te kniel en Hom te aanbid.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy en al die mense in Jerusalem baie geskok en bekommerd. Koning Herodes het die priesterleiers geroep en ook die skrifgeleerdes. Hulle het 'n vergadering gehou, en koning Herodes het baie vrae vir hulle gevra. Hy wou weet waar die Christus gebore sal word. Hulle het vir hom gesê: “Die Christus sal gebore word in die stad Betlehem in die provinsie Judea, want dit is wat die profeet geskryf het: ‘God het gesê: “ ‘ Jy, Betlehem, in die land Juda, jy is een van die belangrikste stede in Juda. Betlehem, daar sal 'n Leier in jou gebore word, en Hy sal vir my volk Israel sorg soos 'n skaapwagter vir sy skape sorg.’ ” Toe het koning Herodes die sterrekykers laat roep. Hy het gesê hulle moet na hom toe kom maar hulle moet vir niemand daarvan sê nie. Hy het lank met hulle gepraat om presies uit te vind wanneer hulle die eerste maal die ster gesien het. Herodes het die sterrekykers na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan vind alles uit oor hierdie Kindjie en soek Hom. As julle Hom kry, dan moet julle vir my kom sê. Ek wil ook gaan en voor Hom kniel en Hom aanbid.” Nadat die sterrekykers gehoor het wat die koning gesê het, het hulle weggegaan. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het hulle gelei tot by die plek waar die Kindjie was. Toe het die ster gestop. Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre. God het die sterrekykers in 'n droom gewaarsku en gesê hulle moenie weer na Herodes toe gaan nie. Daarom het die sterrekykers op 'n ander pad teruggegaan na hulle land. Nadat die sterrekykers weggegaan het, het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.” Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan. Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.” Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het. So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “ Hulle hoor hoe die mense huil, hoe hartseer hulle is in die stad Rama. Ragel huil oor haar kinders. Die mense probeer haar troos, maar sy bly hartseer, want haar kinders is dood.” Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. 'n Engel van die Here het in 'n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy ma en gaan terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie wou doodmaak, is nou dood.”

MATTEUS 2:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n leidsman voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad na hul land teruggegaan. EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie. EN ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.

MATTEUS 2:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur 'n profeet geskrywe: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal 'n leier voortkom wat vir my volk Israel 'n herder sal wees. ” Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. En omdat God hulle in 'n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met 'n ander pad na hulle land toe teruggegaan. Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.” Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

MATTEUS 2:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jesus in Betlehem in Judéa gebore is in die dae van koning Herodes, kyk, daar het wyse manne uit die ooste na Jerusalem gekom, en gesê: Waar is hy wat as Koning van die Jode gebore is? want ons het sy ster in die ooste gesien en gekom om hom te aanbid. Toe koning Herodes hierdie dinge hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En toe Hy al die owerpriesters en skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom het, het Hy van hulle gevra waar Christus gebore sou word. En hulle sê vir hom: In Betlehem in Judéa, want so is geskrywe deur die profeet: En jy, Betlehem, in die land van Juda, is nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal 'n goewerneur voortkom wat oor my volk Israel sal regeer. Toe Herodes, toe hy die wyse manne in die geheim geroep het, ywerig by hulle gevra het hoe laat die ster verskyn het. En hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan soek noukeurig na die seuntjie; en as julle Hom kry, bring dit vir my terug, dat ek ook kan kom en Hom aanbid. Toe hulle die koning hoor, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uit gegaan totdat hy gekom het en gaan staan oor die plek waar die kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle met groot blydskap verheug. En toe hulle in die huis kom, sien hulle die kindjie saam met Maria, sy moeder, en val neer en aanbid hom; en nadat hulle hul skatte oopgemaak het, het hulle geskenke aan hom gegee; goud en wierook en mirre. En toe hulle in 'n droom van God gewaarsku is dat hulle nie na Herodes sou terugkeer nie, het hulle op 'n ander pad na hul eie land getrek. En toe hulle weggegaan het, verskyn die engel van die Here aan Josef in 'n droom en sê: Staan op en neem die seuntjie en sy moeder en vlug na Egipte, en wees jy daar totdat Ek jou woord bring; want Herodes sal die jong kind soek om hom te vernietig. Toe hy opstaan, het hy die kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En was daar tot die dood van Herodes, sodat vervul sou word wat deur die profeet van die Here gespreek is deur te sê: Uit Egipte het Ek my seun geroep. Toe Herodes toe sien dat hy met die wyse manne bespot word, het hy baie kwaad geword en uitgestuur en al die kinders wat in Betlehem en in al die gebiede daarvan was, van twee jaar oud en onder, gedood volgens die tyd wat hy ywerig by die wyse manne navraag gedoen het. Toe is vervul wat gespreek is deur die profeet Jeremiah, deur te sê: In Rama is daar 'n stem gehoor, geween en geween en groot rou; Ragel het geween oor haar kinders en wou nie vertroos word nie, want hulle is nie. Maar toe Herodes dood was, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte, en gesê: Staan op en neem die kindjie en sy moeder en gaan na die land van Israel, want hulle is dood wat die lewe van die kindjie gesoek het.

MATTEUS 2:1-20 Die Boodskap (DB)

Jesus is in die dorp Betlehem gebore. Dit is in die landstreek van Judea. In daardie tyd was Herodes die Grote die koning van die mense in Palestina. ’n Paar sterrekenners uit die ooste het kort na Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom. Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.” Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf: “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.” Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.” Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre. Later het die geleerdes weer ’n droom gehad. ’n Engel het hulle gewaarsku om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Hulle het toe met ’n ander pad na hulle eie land teruggegaan. Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.) So het die woorde van Jeremia ook waar geword: “In Rama het die mense ’n harde stem gehoor. Dit klink soos iemand wat verskriklik huil. Dis Ragel! Sy huil oor al haar kinders. Niemand kan haar troos nie, want haar kinders is dood.” Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.”