MATTEUS 19:1-15

MATTEUS 19:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy weggegaan uit die provinsie Galilea. Hy het oor die Jordaan-rivier gegaan en Hy het toe in die provinsie Judea gekom. Baie mense het saam met Hom gegaan en Hy het hulle daar gesond gemaak. Daar het Fariseërs na Jesus toe gekom. Hulle wou hê Jesus moes iets sê wat vir Hom probleme kan gee. Hulle het vir Hom gevra: “Mag 'n man skei van sy vrou as hy dink sy het iets verkeerd gedoen, dit maak nie saak wat dit is nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Julle het gelees dat God wat in die begin alles gemaak het, die mense so gemaak het dat hulle mans en vroue is. God het toe gesê: “ Daarom sal 'n man weggaan van sy pa en sy ma en hy sal saam met sy vrou lewe. Hulle twee sal soos een mens wees. “Daarom is hulle nie meer twee mense nie, maar een. As God 'n man en 'n vrou saamgebind het, dan mag hulle nie skei nie.” Die Fariseërs vra toe vir Jesus: “ Maar Moses het 'n wet gemaak dat 'n man vir sy vrou 'n skeibrief moet gee wanneer hy van haar skei. Hoekom het hy dit gedoen?” Jesus het hulle geantwoord: “Dit is omdat julle so hardkoppig is. Daarom het Moses gesê julle mag van julle vroue skei. Maar in die begin toe God die mense gemaak het, was dit nie so nie. Ek sê vir julle: As 'n man van sy vrou skei, en met 'n ander vrou trou, dan pleeg hy egbreuk. 'n Man kan net van sy vrou skei as sy seks gehad het met 'n ander man.” Jesus se dissipels sê toe vir Hom: “As dit so is met 'n man en 'n vrou wat met mekaar getroud is, dan is dit beter om nie te trou nie.” Maar Jesus antwoord hulle: “Dit is nie al die mense wat kan verstaan wat Ek gesê het nie, net die mense vir wie God help, kan dit verstaan. Daar is mans wat nie kan trou nie omdat hulle so gebore is. Daar is ook mans wat nie kan trou nie omdat ander mense hulle ontman het. En daar is mans wat nie trou nie sodat hulle kan doen wat God wil hê, God, die Koning wat in die hemel is. Elkeen wat dit kan verstaan, moet dit doen.” Toe het die mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon sit en vir hulle kon bid. Maar die dissipels het met hulle geraas. Jesus sê toe vir hulle: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God wat in die hemel is, is Koning oor mense soos hulle.” Jesus het sy hande op die kindertjies gesit en Hy het daar weggegaan.

MATTEUS 19:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jesus hierdie woorde geëindig het, het Hy van Galiléa vertrek en in die gebied van Judéa oorkant die Jordaan gekom. En groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak. Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit 'n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om 'n skeibrief te gee en van haar te skei? Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk. Sy dissipels sê vir Hom: As die saak van 'n man met 'n vrou so is, dan is dit nie wenslik om te trou nie. Maar Hy sê vir hulle: Almal vat hierdie woord nie, maar net dié aan wie dit gegee is. Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat. TOE bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En Hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.

MATTEUS 19:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy uit Galilea vertrek en in die gebied van Judea anderkant die Jordaan gekom. Groot menigtes het agter Hom aan gegaan, en Hy het hulle daar gesond gemaak. Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag 'n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?” Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie.” Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou 'n skeibrief gee, hy van haar kan skei?” Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie. Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met 'n ander een trou, pleeg egbreuk.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit is hoe die saak met man en vrou staan, is dit beter om nie te trou nie.” Maar Hy sê vir hulle: “Wat julle nou sê, is nie vir almal moontlik nie, net vir dié aan wie dit gegee is. Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. “Wie dit kan doen, laat hy dit doen.” Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Nadat Hy hulle die hande opgelê het, het Hy daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 19:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Jesus sy redevoering voltooi het, het Hy van Galilea af vertrek en na die gebied van Judea oorkant die Jordaan gegaan. 'n Groot skare het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak. Die •Fariseërs het na Hom gekom, en om Hom te toets, gevra: “Is dit toelaatbaar dat 'n man om enige rede van sy vrou skei?” Hy antwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af manlik en vroulik gemaak het nie? ” Verder sê Hy: “ ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” Toe vra hulle Hom: “Waarom het Moses dan bepaal dat 'n man sy vrou 'n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei?” Hy antwoord hulle: “Moses het julle weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin af was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.” Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie. ” Hy het egter vir hulle gesê: “Nie almal kan hierdie saak begryp nie – slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad eunugs wat so gebore is, daar is eunugs wat deur mense so gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die •koninkryk van die hemele. Laat enigeen wat kan, dit begryp.” Toe is kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid. Maar die dissipels het hulle berispe. Jesus het egter gesê: “Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die •koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” Hy het hulle toe die hande opgelê en daarvandaan vertrek.

MATTEUS 19:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Jesus hierdie woorde voltooi het, het Hy van Galiléa af vertrek en in die gebiede van Judéa oorkant die Jordaan gekom; En groot menigtes het Hom gevolg; en hy het hulle daar genees. Die Fariseërs het ook na Hom gekom en Hom versoek en vir Hom gesê: Is dit vir 'n man geoorloof om van sy vrou te skei om enige rede? En hy antwoord en sê vir hulle: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle aan die begin gemaak het, hulle man en vrou gemaak het nie? en gesê: Om hierdie rede sal 'n man vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees? Daarom is hulle nie meer twee nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. Hulle sê vir hom: Waarom het Moses dan bevel gegee om 'n skeibrief te gee en haar weg te gooi? Hy sê vir hulle: Moses het weens die hardheid van julle harte aan julle toegelaat om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. En Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; Sy dissipels sê vir Hom: As die man so met sy vrou is, is dit nie goed om te trou nie. Maar Hy sê vir hulle: Almal kan hierdie woord nie aanneem nie, behalwe hulle aan wie dit gegee is. Want daar is sommige eunugs wat so uit die skoot van hul moeder gebore is, en daar is sommige eunugs wat eunugs van mense gemaak is, en daar is eunugs wat hulself eunug gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan ontvang, laat hom dit ontvang. Toe is kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle die hande oplê en bid; en die dissipels het hulle bestraf. Maar Jesus sê: Laat die kindertjies toe en verhinder hulle nie om na My toe te kom nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele. En hy het hulle die hande opgelê en daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 19:1-15 Die Boodskap (DB)

Jesus het daarna uit Galilea vertrek. Hy is na Judea toe, daar oorkant die Jordaan. Oudergewoonte het ’n groot skare mense na Hom toe gestroom. Jesus het al die siekes onder hulle gesond gemaak. ’n Klomp Fariseërs het ook daar opgedaag. Hulle wou Jesus verneder met ’n strikvraag. “Kom ons hoor ’n bietjie wat jy dink. Mag ’n man sommer om enige rede van sy vrou skei?” Jesus het dadelik ’n teenvraag vir hulle gereed gehad: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Weet julle nie daar staan geskryf dat God heel aan die begin man en vrou gemaak het om lewenslank by mekaar te bly nie? Daarom het God gesê: ‘Die dag wanneer ’n man trou, sal hy nie meer by sy ouers bly nie. Nee, hy en sy vrou sal dan op hulle eie gaan bly. Hulle sal dan liggaamlik en geestelik een word.’ “In die huwelik bestaan daar nie meer twee mense in God se oë nie, maar net een. Hierdie band tussen man en vrou is onbreekbaar. As God dan twee mense op hierdie manier in die huwelik aan mekaar verbind het, mag niemand op aarde dit verbreek nie.” Die Fariseërs het vinnig daarop gereageer: “Maar wat dan van Moses? Waarom het hy nie ’n probleem daarmee gehad dat ons kan skei nie? Al wat hy wel vir ons gesê het, is om te sorg dat ons vir ons vrou ’n wettige skeibrief gee wanneer ons hulle die dag laat loop.” “Ja, dit is waar,” het Jesus geantwoord. “Maar dit is omdat julle koppe en julle harte so hard soos klip is dat hy toegelaat het dat julle kan skei. Dit is omdat julle nie na God se voorskrifte wou luister nie. Maar dit was nie van die begin af so nie. Egskeiding is glad nie deel van God se oorspronklike plan nie. Daarom sê Ek nou eens en vir altyd vir julle: jy mag glad nie skei nie. Glad nie! As jy van jou vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg jy egbreuk. Want jou eerste huwelik bestaan nog steeds in God se oë. “Ek maak slegs een uitsondering: as jou vrou by ’n ander man slaap, mag jy van haar skei. Want dan het sy en daardie man liggaamlik een geword.” Na die tyd het Jesus se dissipels eenkant vir Hom kom sê: “Ons het gestaan en luister na wat U vir die Fariseërs oor die huwelik gesê het. Maar, Here, g’n mens kan dit wat U sê, nakom nie. Dis heeltemal te moeilik. Is dit dan nie maar beter om nie te trou nie?” “Ja, Ek weet dis nie maklik om te doen wat Ek vir julle sê nie,” het Jesus geantwoord. “Maar wanneer God met sy goedheid in julle lewens aan die werk is, kan julle doen wat Ek sê. Tog is dit nie vir almal moontlik om te trou nie. Daar is byvoorbeeld mense wat nie in staat is om te trou nie omdat hulle weens aangebore liggaamlike gebreke nie hulle normale seksuele funksies kan vervul nie. Daar is ook mans wat ontman is en nie in staat is om kinders te hê nie. En dan is daar ook mense wat self besluit het dat hulle nie wil trou nie sodat hulle al hulle tyd en energie aan God se diens kan wy. As julle egter kans sien om my voorskrifte oor die huwelik uit te voer, trou dan!” Kort daarna het ’n groep mense hulle kindertjies na Jesus toe gebring met die hoop dat Hy sy hande op hulle sou lê en vir hulle sou bid. Maar die dissipels het hulle verwilder. Hulle wou nie hê dat die mense Jesus onnodig moes lastig val nie. Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik vir sy dissipels: “Wag! Moenie die kindertjies wegjaag nie. Laat hulle na My toe kom. God se nuwe wêreld is juis vir almal soos hulle bedoel. By Hom is daar plek vir almal wat soos klein kindertjies afhanklik is van hulle hemelse Vader se sorg.” Jesus het toe sy hande op hulle geplaas en God se genade oor hulle afgebid. Daarna het Hy vertrek.

MATTEUS 19:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy van Galilea vertrek en in Perea aangekom. Hierdie gebied het aan Judea gegrens, maar was aan die oostekant van die Jordaan geleë. ’n Massa mense het Hom daarheen gevolg, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ’n poging om Hom in ’n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?” Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie? En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.” Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?” Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.” Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!” “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie. Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.” Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.” En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek.