MATTEUS 16:21-26
MATTEUS 16:21-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Van daardie tyd af het Jesus begin om aan sy dissipels te wys hoe Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes, en gedood word en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom en begin Hom te bestraf en sê: Laat dit ver van U wees, Here, dit sal U nie oorkom nie. Maar hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter my, Satan! Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; en elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel?
MATTEUS 16:21-26 Bybel vir almal (ABA)
Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom begin raas. Petrus het gesê: “Here, ek bid dat God dit sal keer, dit sal nooit met U gebeur nie!” Jesus het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy wil hê Ek moet verkeerd doen. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan 'n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe?
MATTEUS 16:21-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense. TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel?
MATTEUS 16:21-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe?
MATTEUS 16:21-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van toe af het Jesus begin om aan sy dissipels duidelik te maak dat Hy na Jerusalem moet gaan en baie moet ly deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners, en doodgemaak en op die derde dag opgewek moet word. •Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My 'n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe?
MATTEUS 16:21-26 Die Boodskap (DB)
Jesus het van toe af begin om vir sy dissipels te verduidelik waarom Hy regtig Jerusalem toe moes gaan. Hy het gesê dat Hy in die hande sou val van al die godsdienstige leiers en skrifkenners van die volk en dat hulle Hom baie sou laat ly. Uiteindelik sou Hy doodgemaak word. Op die derde dag sou God Hom egter weer lewendig maak. Petrus was baie geskok oor hierdie woorde. Hy het Jesus eenkant toe geneem en gesê: “Nooit aste nimmer nie! God sal mos nie toelaat dat so iets met U gebeur nie.” Jesus het egter vir Petrus waterpas in die oë gekyk en vir hom gesê: “Gee pad van my af, Satan! Dit is Satan self wat nou deur jou praat. Daarom probeer jy God se plan dwarsboom. Jy is nie aan sy kant nie, maar aan die kant van die mense.” Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg?
MATTEUS 16:21-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek. Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!” Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.” Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.