MATTEUS 15:7-11
MATTEUS 15:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Huigelaars! Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom toe hy gesê het: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. ” Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak 'n mens onrein.”
MATTEUS 15:7-11 Die Boodskap (DB)
Julle is ’n klomp skynheiliges. Jesaja was reg toe hy oor julle geskryf het: ‘Hierdie mense sê al die regte dinge vir God, maar hulle dien Hom nie met hulle hart nie. Hulle gebruik mooi godsdienstige woorde terwyl hulle skewe leerstellings kwytraak.’” Daarna het Jesus die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister nou goed na wat Ek sê: niks wat julle eet, maak julle onrein in God se oë nie. Nee, dit wat van binne af oor julle lippe kom, maak julle lewe onrein. As julle hart vol boosheid is, sal julle woorde dit wys.”
MATTEUS 15:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het julle raak beskryf: ‘Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike voorskrifte voor as wette van God.’” Daarop het Jesus die skare nadergeroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan goed. ’n Mens word nie onrein gemaak deur wat jy eet nie, maar deur wat jy sê.”
MATTEUS 15:7-11 Bybel vir almal (ABA)
Julle is skynheilig. Dit is waar wat die profeet Jesaja oor julle gesê het. Hy het gesê: “ Hierdie volk sê hulle respekteer My, maar dit is nie waar nie, hulle harte is ver van my. Dit help niks om God so te dien nie. Want hulle leer vir die mense wette wat hulle self gemaak het en dan sê hulle dit is God se wette.” Jesus het die mense na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle moet luister, sodat julle kan verstaan wat Ek sê. Dit is nie die kos wat by 'n mens se mond ingaan wat hom onrein maak nie. 'n Mens word onrein van die dinge wat uit sy mond uitgaan, die dinge wat hy sê.”
MATTEUS 15:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan! Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.
MATTEUS 15:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Skynheiliges, Jesaja het tereg oor julle geprofeteer, “ ‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’ ” Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: Dit is nie wat by die mond ingaan wat 'n mens •onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak 'n mens onrein. ”
MATTEUS 15:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geveinsdes, goed het Jesaja van julle geprofeteer deur te sê: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met hulle lippe; maar hulle hart is ver van my af. Maar tevergeefs aanbid hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. En Hy het die skare geroep en vir hulle gesê: Hoor en verstaan! Nie wat in die mond ingaan, maak 'n mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.