MATTEUS 15:32-38
MATTEUS 15:32-38 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur huis toe nie, want hulle sal flou word voordat hulle by die huis is.” Die dissipels vra toe vir Jesus: “Waar sal ons so baie brood kry dat ons vir hierdie klomp mense genoeg kan gee om te eet? Ons is ver van 'n stad, hier woon niemand nie.” Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?” En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode en 'n paar klein vissies.” Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode en die visse geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies opgetel wat oorgebly het, dit was sewe groot mandjies vol. Daar was 4 000 mans wat geëet het. Daar was ook nog vroue en kinders.
MATTEUS 15:32-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Jesus sy dissipels na Hom geroep en gesê: Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie; en Ek wil hulle nie graag honger wegstuur nie, sodat hulle nie miskien op die pad beswyk nie. En sy dissipels sê vir Hom: Waar sal ons in die woestyn soveel brode vandaan kry om so 'n groot skare te versadig? Toe sê Jesus vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle antwoord: Sewe, en 'n paar vissies. En Hy het bevel gegee aan die skare om op die grond te gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword; en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol. En die wat geëet het, was vierduisend manne buiten die vroue en kinders.
MATTEUS 15:32-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.” Sy dissipels sê vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?” “Hoeveel brood het julle?” vra Hy vir hulle. “Sewe,” antwoord hulle, “en 'n paar vissies.” Hy het gesê die mense moet op die grond gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse en dank God daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan die dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. Almal het geëet en genoeg gekry. En die dissipels het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was vier duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.
MATTEUS 15:32-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarop het Jesus sy dissipels nader geroep en gesê: “Ek voel innig jammer vir die skare, want hulle is reeds drie dae by My en het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur nie, anders kan hulle onderweg beswyk.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar kry ons in hierdie verlate plek genoeg brood om so 'n groot skare te voed? ” Jesus sê vir hulle: “Hoeveel brode het julle?” Hulle antwoord: “Sewe, en 'n paar vissies.” En nadat Hy die skare beveel het om op die grond te gaan sit, het Hy die sewe brode en die visse geneem, gedank, dit gebreek en vir die dissipels gegee, en die dissipels weer vir die skare. Hulle het almal geëet en versadig geword. Hulle het van die stukke wat oorgebly het, sewe mandjies vol opgetel. Afgesien van die vroue en kindertjies, was daar vierduisend mans wat geëet het.
MATTEUS 15:32-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe roep Jesus sy dissipels na Hom en sê: Ek het medelye met die skare, want hulle bly nou drie dae by My en het niks om te eet nie; en Ek sal hulle nie laat vas nie, sodat hulle nie op die pad beswyk nie. En sy dissipels sê vir Hom: Waarvandaan sou ons soveel brood in die woestyn hê om so 'n groot menigte te versadig? En Jesus sê vir hulle: Hoeveel brode het julle? En hulle sê: Sewe en 'n paar vissies. En Hy het die skare bevel gegee om op die grond te gaan sit. En Hy het die sewe brode en die visse geneem en gedank en dit gebreek en aan Sy dissipels gegee en die dissipels aan die skare. En hulle het almal geëet en versadig geword, en van die stukkende vleis wat oorgebly het, het hulle sewe mandjies vol opgetel. En die wat geëet het, was vierduisend man, buiten vroue en kinders.
MATTEUS 15:32-38 Die Boodskap (DB)
Terwyl die skare nog in vervoering was oor wat om hulle gebeur het, het Jesus sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Ek voel innig jammer vir hierdie mense. Hulle is al ’n volle drie dae hier by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle nie honger huis toe stuur nie. Dalk maak hulle dit nie op die lang pad terug nie.” Die dissipels vra verbaas vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg kos kry vir so ’n menigte?” “Hoeveel brood het julle by julle?” vra Hy. “Sewe brode en ’n paar vissies,” antwoord hulle. Jesus laat toe al die mense sit. Daarna neem Hy die sewe brode en die vissies in sy hand. Na ’n dankgebed begin Hy om dit te breek en aan sy dissipels te gee. Hulle het dit weer aan die skare uitgedeel. Daar was uiteindelik oorgenoeg kos vir almal. Die mense het geëet totdat hulle versadig was. Na die tyd is daar sewe mandjies met oorskietkos opgetel. Net die mans by hierdie ete was sowat 4 000. Dit is behalwe al die vroue en kinders wat ook daar was.
MATTEUS 15:32-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het sy dissipels nadergeroep met die woorde: “Ek voel baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en hulle het niks om te eet nie. Ek wil hulle ook nie met leë mae wegstuur nie; anders beswyk hulle dalk van honger langs die pad.” Daarop sê sy dissipels vir Hom: “Waar sal ons in hierdie verlate wêreld genoeg brood kry om so ’n massa te voed?” Jesus vra hulle toe: “Hoeveel brode het julle?” Hulle het geantwoord: “Sewe, en ’n paar vissies.” Jesus sê toe dat almal op die grond moet gaan sit. Toe neem Hy die sewe brode en die visse, bid om God se seën, breek die brood in stukke, en gee dit aan sy dissipels, en die dissipels weer aan die skare. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was! Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel. 4 000 mans het van hierdie kos geëet, afgesien van al die vroue en kinders!