MATTEUS 14:1-18
MATTEUS 14:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Koning Herodes het in daardie tyd oor die provinsie Galilea regeer. Hy het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Hy sê toe vir sy amptenare: “Hierdie man is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om vir Johannes die Doper te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het dit gedoen omdat Johannes aangehou het om vir hom te sê hy mag nie trou met Herodias, sy broer Filippus se vrou nie. Herodes wou toe vir Johannes laat doodmaak, maar hy was bang vir die mense, omdat hulle gedink het Johannes is 'n profeet. Op Herodes se verjaarsdag het die dogter van Herodias tussen al die mense gedans. Dit was vir Herodes baie mooi, daarom het hy belowe om vir haar enige iets te gee wat sy vra. Haar ma het vir haar gesê wat sy moet vra, en daarom het sy gesê: “Bring vir my die kop van Johannes die Doper hier in 'n skottel.” Die koning het baie hartseer geword, maar hy het dit vir haar belowe en al die mense wat saam geëet het, het dit gehoor. Daarom het hy gesê sy soldate moet doen wat sy gevra het. Hy het soldate gestuur om Johannes die Doper se kop in die tronk af te kap. Die soldate het sy kop in 'n skottel gebring en hulle het dit vir die meisie gegee, en sy het dit vir haar ma gegee. Die dissipels van Johannes die Doper het gekom en hulle het sy liggaam weggeneem en dit begrawe. Toe het hulle gegaan en vir Jesus vertel wat gebeur het. Jesus het gehoor wat gebeur het. Hy het toe in 'n boot weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Baie mense het gehoor waar Jesus is en hulle het na Hom toe geloop uit die stede. Jesus het uit die boot geklim en Hy het die klomp mense gesien. Hy was baie jammer vir hulle en Hy het die siek mense wat by hulle was, gesond gemaak. Toe dit begin donker word, kom die dissipels na Jesus toe en sê vir Hom: “Hierdie plek is ver van 'n stad en dit is al laat. Stuur die klomp mense weg sodat hulle na die dorpies kan gaan en vir hulle kos kan koop om te eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Nee, hulle moenie weggaan nie, dit is júlle wat vir hulle kos moet gee om te eet.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Ons het net vyf brode en twee visse.” Jesus het vir hulle gesê: “Bring dit hier vir My.”
MATTEUS 14:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in daardie tyd het Herodes, die viervors, die gerug van Jesus gehoor en aan sy knegte gesê: Hierdie man is Johannes die Doper. Hy het uit die dode opgestaan, en daarom werk dié kragte in hom. Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer. Want Johannes het vir hom gesê: Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie. En hoewel hy hom wou doodmaak, het hy die skare gevrees, omdat hulle hom vir 'n profeet gehou het. Maar by die viering van die verjaarsdag van Herodes het die dogter van Heródias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarom het hy met 'n eed beloof om haar enigiets te gee wat sy sou vra. Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op 'n skottel die hoof van Johannes die Doper. En die koning het treurig geword, maar ter wille van die eed en die feesgenote het hy beveel dat dit gegee moes word. En hy het gestuur en Johannes in die gevangenis onthoof. Sy hoof is toe op 'n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring. En sy dissipels het gekom en sy liggaam weggeneem en dit begrawe; en hulle het gegaan en dit aan Jesus vertel. En toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n skuit vertrek na 'n verlate plek alleen. En die skare het dit gehoor en Hom van die stede af te voet gevolg. EN toe Jesus uitgaan, het Hy 'n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My.
MATTEUS 14:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!” Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as 'n profeet beskou het. Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die Doper.” Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy met 'n skuit daarvandaan weggegaan na 'n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is 'n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.” Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” “Bring dit vir My hier,” sê Hy.
MATTEUS 14:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het Herodes, die tetrarg, die berigte omtrent Jesus gehoor. Hy het vir sy dienaars gesê: “Hierdie man is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood, en daarom werk hierdie kragte in hom.” Herodes het Johannes immers gevange laat neem, hom laat boei en in die tronk laat sit, en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou hê nie.” Hoewel Herodes hom wou doodmaak, was hy vir die skare bang, omdat hulle Johannes as 'n profeet beskou het. Tydens Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor almal gedans, en sy het Herodes bekoor. Daarom het hy met 'n eed beloof om wat sy ook al vra, aan haar te gee. Aangehits deur haar moeder, het sy gesê: “Bring vir my hier, op 'n skinkbord, die kop van Johannes die Doper.” En hoewel die koning hieroor ontsteld was, het hy, vanweë sy eed en hulle wat aangeleun het vir ete, beveel dat dit vir haar gebring moes word. Hy het toe iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. Sy kop is in 'n skottel gebring en vir die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder geneem. Sy dissipels het gekom, die liggaam geneem en hom begrawe; daarna het hulle dit vir Jesus gaan vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op sy eie te wees. Maar die skare het dit te hore gekom en Hom te voet uit die dorpe gevolg. Toe Hy uitklim, het Hy die groot skare gesien, hulle innig jammer gekry en hulle siekes gesond gemaak. Toe dit laat begin word, kom die dissipels na Hom en sê: “Die plek is verlate, en dit is reeds laat. Stuur die skare weg na die dorpies om vir hulleself kos te gaan koop. ” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.” Hy sê egter: “Bring dit hier vir My.”
MATTEUS 14:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In daardie tyd het Herodes, die viervors, van die roem van Jesus gehoor, En hy het aan sy dienaars gesê: Dit is Johannes die Doper; hy is opgewek uit die dood; en daarom word kragtige werke in hom openbaar. Want Herodes het Johannes gegryp en hom gebind en in die tronk gesit ter wille van Herodias, die vrou van sy broer Filippus. Want Johannes sê vir hom: Dit is nie geoorloof vir jou om haar te hê nie. En toe hy hom wou doodmaak, was hy bang vir die skare, want hulle het hom as 'n profeet gereken. Maar toe Herodes se verjaarsdag gehou is, het die dogter van Herodias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarop het hy met 'n eed belowe om haar te gee wat sy ook al sou vra. En nadat sy vantevore deur haar moeder onderrig was, sê sy: Gee my hier die hoof van Johannes Doper in 'n bak. En die koning was jammer; maar ter wille van die eed en die wat saam met hom aan tafel was, het hy beveel dat dit aan haar gegee moes word. En hy het gestuur en Johannes in die tronk onthoof. En sy kop is in 'n skottel gebring en aan die meisie gegee, en sy het dit na haar moeder gebring. En sy dissipels het gekom en die liggaam geneem en dit begrawe en gegaan en dit vir Jesus vertel. Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan per skip vertrek na 'n verlate plek afgesonder; en toe die skare dit hoor, het hulle Hom te voet uit die stede gevolg. En Jesus het uitgegaan en 'n groot menigte gesien, en Hy was innig jammer vir hulle, en Hy het hulle siekes gesond gemaak. En toe dit aand geword het, het sy dissipels na Hom gekom en gesê: Dit is 'n verlate plek, en die tyd is nou verby; stuur die skare weg, dat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel kan koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee vir hulle om te eet. En hulle sê vir hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. Hy sê: Bring hulle hier na my toe.
MATTEUS 14:1-18 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd het Herodes Antipas, die heerser van Galilea, te hore gekom dat Jesus baie gewild onder die mense is. Hy het vir die amptenare wat in sy paleis gewerk het, gesê: “Dit kan net Johannes die Doper wees wat uit die dood teruggekom het. Daarom doen hy nou al hierdie wonderwerke.” Johannes het natuurlik vroeër vir Herodes in die openbaar van owerspel beskuldig omdat hy sy broer, Filippus, se vrou afgevat het. Haar naam was Herodias. Johannes het reguit vir Herodes gesê: “Dit is verkeerd dat jy haar vir jou vat!” Herodes was so kwaad hieroor dat hy Johannes in die tronk gegooi het. Hy wou Johannes daar en dan doodmaak. Maar hy het besef dat dit tot ’n opstand onder die mense kon lei omdat hulle Johannes as ’n spesiale boodskapper van God beskou het. ’n Rukkie later het Herodias haar verjaardagpartytjie gehou. Haar dogter het vir al die gaste gedans. Herodes was baie beïndruk met haar. Hy het haar nader geroep en plegtig voor almal beloof om haar enigiets te gee wat sy vra. Op aandrang van haar ma sê sy toe vir Herodes: “Ek wil graag Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê.” Hierdie versoek het Herodes heeltemal onkant betrap. Hy was baie omgekrap hieroor, maar hy het besef dat hy sy woord moes hou. Sy eer was op die spel voor al die gaste. Daarom het hy sy soldate gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap. Hulle het daarna sy kop op ’n skinkbord vir die meisie gebring. Sy het dit na haar ma toe gevat. Later het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en gaan begrawe. Hulle het vir Jesus gaan vertel wat gebeur het. Toe Jesus die slegte nuus oor Johannes se dood hoor, het Hy in ’n skuit geklim en na ’n eensame plek weggevaar. Hy wou graag alleen wees omdat Hy hartseer was oor Johannes se dood. Die mense het egter gehoor waarheen Hy op pad was. Kort voor lank het inwoners van die dorpe rondom die See van Galilea daarheen begin stroom. Toe Jesus by sy bestemming aankom, het ’n groot skare Hom ingewag. Toe Hy hulle sien, het Hy hulle baie jammer gekry, veral toe Hy al die siekes sien wat op Hom wag. Hy het dadelik begin om hulle gesond te maak. Later, toe dit aand word, het die dissipels bekommerd geraak. Hulle het vir Jesus kom sê: “Ons is hier op ’n verlate plek en dit word al donker. Stuur die mense terug na hulle huise toe sodat hulle kan gaan eet.” “Dit is nie nodig dat hulle nou al huis toe gaan nie. Gee julle sommer vir hulle iets om te eet,” het Jesus geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse hier by ons,” het hulle verbaas gereageer. Jesus sê toe: “Bring dit hier.”
MATTEUS 14:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Juis in daardie tyd het Herodes Antipas van Jesus se optrede gehoor. Daarop sê hy vir sy paleispersoneel: “Hierdie man is niemand anders as Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het nie! Daarom kan hy sulke wonderwerke doen.” Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê: “Jy mag dit nie doen nie.” Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet. Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.” Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!” Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word. Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof. Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het. Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het. Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.” “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.” “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê.