MATTEUS 14:1-12

MATTEUS 14:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Koning Herodes het in daardie tyd oor die provinsie Galilea regeer. Hy het gehoor wat die mense oor Jesus sê. Hy sê toe vir sy amptenare: “Hierdie man is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.” Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om vir Johannes die Doper te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het dit gedoen omdat Johannes aangehou het om vir hom te sê hy mag nie trou met Herodias, sy broer Filippus se vrou nie. Herodes wou toe vir Johannes laat doodmaak, maar hy was bang vir die mense, omdat hulle gedink het Johannes is 'n profeet. Op Herodes se verjaarsdag het die dogter van Herodias tussen al die mense gedans. Dit was vir Herodes baie mooi, daarom het hy belowe om vir haar enige iets te gee wat sy vra. Haar ma het vir haar gesê wat sy moet vra, en daarom het sy gesê: “Bring vir my die kop van Johannes die Doper hier in 'n skottel.” Die koning het baie hartseer geword, maar hy het dit vir haar belowe en al die mense wat saam geëet het, het dit gehoor. Daarom het hy gesê sy soldate moet doen wat sy gevra het. Hy het soldate gestuur om Johannes die Doper se kop in die tronk af te kap. Die soldate het sy kop in 'n skottel gebring en hulle het dit vir die meisie gegee, en sy het dit vir haar ma gegee. Die dissipels van Johannes die Doper het gekom en hulle het sy liggaam weggeneem en dit begrawe. Toe het hulle gegaan en vir Jesus vertel wat gebeur het.

MATTEUS 14:1-12 Die Boodskap (DB)

In daardie tyd het Herodes Antipas, die heerser van Galilea, te hore gekom dat Jesus baie gewild onder die mense is. Hy het vir die amptenare wat in sy paleis gewerk het, gesê: “Dit kan net Johannes die Doper wees wat uit die dood teruggekom het. Daarom doen hy nou al hierdie wonderwerke.” Johannes het natuurlik vroeër vir Herodes in die openbaar van owerspel beskuldig omdat hy sy broer, Filippus, se vrou afgevat het. Haar naam was Herodias. Johannes het reguit vir Herodes gesê: “Dit is verkeerd dat jy haar vir jou vat!” Herodes was so kwaad hieroor dat hy Johannes in die tronk gegooi het. Hy wou Johannes daar en dan doodmaak. Maar hy het besef dat dit tot ’n opstand onder die mense kon lei omdat hulle Johannes as ’n spesiale boodskapper van God beskou het. ’n Rukkie later het Herodias haar verjaardagpartytjie gehou. Haar dogter het vir al die gaste gedans. Herodes was baie beïndruk met haar. Hy het haar nader geroep en plegtig voor almal beloof om haar enigiets te gee wat sy vra. Op aandrang van haar ma sê sy toe vir Herodes: “Ek wil graag Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord hê.” Hierdie versoek het Herodes heeltemal onkant betrap. Hy was baie omgekrap hieroor, maar hy het besef dat hy sy woord moes hou. Sy eer was op die spel voor al die gaste. Daarom het hy sy soldate gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap. Hulle het daarna sy kop op ’n skinkbord vir die meisie gebring. Sy het dit na haar ma toe gevat. Later het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en gaan begrawe. Hulle het vir Jesus gaan vertel wat gebeur het.