MATTEUS 13:47-58
MATTEUS 13:47-58 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?” En hulle wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.” Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.
MATTEUS 13:47-58 Bybel vir almal (ABA)
“Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer vissermanne 'n visnet in die see gooi, en hulle vang baie soorte visse. Wanneer die visnet vol visse is, dan trek die vissermanne dit uit die see tot op die sand. Dan gaan sit hulle en gooi die goeie visse bymekaar in bakke, maar hulle gooi die visse weg wat hulle nie kan eet nie. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die engele sal kom en hulle sal al die slegte mense wegvat, weg van die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here. En die engele sal dan al die slegte mense in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hard op hulle tande byt van pyn.” Jesus vra toe vir sy dissipels: “Verstaan julle al hierdie dinge?” Hulle sê vir Hom: “Ja.” Toe sê Jesus vir hulle: “Elke skrifgeleerde wat 'n dissipel word van God, die Koning wat in die hemel is, is soos iemand wat 'n huis het en wat nuwe goed en ook ou goed uithaal uit sy stoorkamer wanneer hy dit nodig het.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy weggegaan. Hy het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het vir die mense in hulle sinagoge geleer. Hulle was baie verbaas oor wat Hy vir hulle geleer het. Hulle vra toe: “Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen? Ons weet hy is die seun van die man wat houtwerk doen. Sy ma se naam is Maria, en sy broers is Jakobus, Josef, Simon en Judas. Sy susters is ook almal by ons. Hoe kan Jesus dit alles doen?” Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in die stad waar hy grootgeword het en die mense in sy eie huis respekteer hom nie.” Jesus het nie baie wonderwerke daar gedoen nie, want die mense het nie in Hom geglo nie.
MATTEUS 13:47-58 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat 'n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos 'n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. EN toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan. En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan? En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis. En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.
MATTEUS 13:47-58 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n treknet wat in die see uitgewerp is en van elke soort vis gevang het. Toe dit vol was, het hulle dit op die strand getrek. Hulle het toe gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar die slegtes uitgegooi. So sal dit wees by die voleinding van die tyd: Die engele sal uitgaan, en hulle sal die bose mense tussen die •regverdiges uithaal en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. ” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat 'n leerling in die •koninkryk van die hemele geword het, soos 'n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan. Toe Jesus in sy tuisdorp aankom, het Hy hulle in hulle •sinagoge geleer, sodat hulle verstom was en gesê het: “Waar kom hy aan hierdie wysheid en kragtige dade? Is hy dan nie die seun van die skrynwerker nie? Staan sy moeder nie bekend as Maria en sy broers as Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En woon sy susters dan nie almal hier onder ons nie? Waar kom hy dan aan al hierdie dinge?” En hulle het aan Hom aanstoot geneem. Jesus het egter vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp en in sy huis.” Vanweë hulle ongeloof het Hy nie baie kragtige dade daar gedoen nie.
MATTEUS 13:47-58 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n net wat in die see gegooi en van elke soort bymekaargemaak is. En toe dit vol was, het hulle na die wal getrek en gaan sit en die goeies in potte bymekaargemaak, maar die slegtes weggegooi. So sal dit wees aan die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die goddelose onder die regverdiges verskei, en sal hulle in die vuuroond gooi: daar sal 'n geween en gekners van die tande wees. Jesus sê vir hulle: Het julle al hierdie dinge verstaan? Hulle sê vir Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat aan die koninkryk van die hemele onderrig word, soos 'n man wat 'n huisbewoner is, wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. En toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan. En toe Hy in sy land gekom het, het Hy hulle in hulle sinagoge geleer, sodat hulle verbaas was en gesê het: Waar het hierdie man hierdie wysheid en hierdie magtige werke vandaan? Is dit nie die timmerman se seun nie? word sy moeder nie Maria genoem nie? en sy broers, Jakobus en Joses en Simon en Judas? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kom hierdie man dan al hierdie dinge vandaan? En hulle was aanstoot in hom. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy eie land en in sy huis. En hy het nie baie magtige werke daar gedoen vanweë hulle ongeloof nie.
MATTEUS 13:47-58 Die Boodskap (DB)
“Julle weet mos dat allerhande soorte vis gewoonlik met nette in die meer gevang word. As die net vol vis is, sleep hulle dit wal toe. Dan soek hulle eers die vis uit. Die eetbare vis hou hulle, en hulle raak ontslae van die vis wat hulle nie wil hê nie. “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan. “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs. “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!” Jesus sê toe vir hulle: “Iemand wat geleerd is in die Joodse wet ken die ou boodskap. As hy My begin volg en verstaan, leer hy ook die nuutheid van God se boodskap ken. Hy is soos iemand wat ou en nuwe dinge in sy huis het en presies weet waar elkeen se plek is.” Jesus is van die meer af terug huis toe. Later is Hy na die byeenkoms van die Jode toe waar Hy lank met die mense oor God se nuwe wêreld gesels het. Hy het aan hulle verduidelik hoe hulle dit moet verstaan. Dit het die mense baie nuuskierig aan die praat gesit. “Waar kom hy aan al hierdie kennis en die krag om hierdie wonderlike dinge te doen?” het hulle gewonder. “Is sy pa nie maar ’n eenvoudige skrynwerker nie? By hom kon hy dit sekerlik nie geleer het nie! En die res van sy familie? By hulle ook nie. Ons ken hulle almal goed, van sy ma Maria af, sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas en sy susters ook, die hele klomp van hulle. “Hulle is maar ongeleerde mense net soos ons. Dit kon nie een van hulle gewees het wat hom dit geleer het nie. Nou wonder ons, waar kom hy aan alles?” Met alles wat Hy geweet en gedoen het, het Hy vir hulle soos ’n vreemdeling gevoel. Hulle kon Hom nie verstaan nie en het nie gevoel dat Hy deel van hulle was nie. Daarom het hulle hul skouers vir Hom opgetrek en gemaak asof hulle Hom nie raaksien nie. Jesus was gelate daaroor: “Nou ja, so gaan dit maar. Oral erken mense dat hulle by My die boodskap van God duidelik hoor. Maar hier by die huis hou my eie mense hulle snaaks en wil niks hoor en nie na rede luister nie.” Jesus het nie eens verder gesukkel nie. Omdat hulle Hom so sleg behandel het, het Hy nie juis veel wonderwerke daar gedoen nie.
MATTEUS 13:47-58 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Verder is God se koninkryk soos ’n treknet wat in die see uitgegooi word en allerhande soorte vis bymekaarbring. Wanneer dit vol is, sleep die vissers dit op die strand uit. Hulle gaan sit, sorteer die goeie vis in kratte en gooi die slegtes weg. So sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Die engele sal kom, die slegte mense wegneem van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. Verstaan julle dit alles?” Hulle antwoord Hom: “Ja, ons verstaan.” Hy voeg toe by: “Elke skrifkenner wat ’n ware student in God se koninkryk geword het, is soos ’n huiseienaar wat nuwe sowel as ou dinge uit sy stoorkamer te voorskyn haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan vertrek. In Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het, het Hy die mense in hulle sinagoge onderrig. Hulle was verbaas en het gesê: “Waar kry hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan? Is hy dan nie maar net die timmerman se seun nie? En is Maria nie sy ma en Jakobus, Josef, Simon en Judas sy broers nie? En sy susters, hulle woon tog almal hier onder ons. Wat maak hom so danig belangrik?” Hulle was verontwaardig en wou niks van Hom weet nie. Daarop het Jesus vir hulle gesê: “’n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring.” As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke gedoen.