MATTEUS 13:1-53

MATTEUS 13:1-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daardie selfde dag het Jesus, nadat Hy van die huis vertrek het, langs die see gaan sit. 'n Groot skare het om Hom saamgedrom, sodat Hy in die boot geklim het om daar te gaan sit. Die hele skare het op die strand bly staan. Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En nog ander het op goeie grond geval, en dit het opbrengs gelewer – party honderd-, ander sestig- en ander dertigvoudig. Laat dié wat ore het, luister!” Die dissipels het toe nader gekom en vir Hom gevra: “Hoekom praat U deur gelykenisse met hulle?” Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die •koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Wat hulle betref, word die profesie van Jesaja vervul: “ ‘Met die ore sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’ “Maar gelukkig is julle oë, want hulle sien, en julle ore, want hulle hoor. •Amen, Ek sê vir julle, baie profete en •regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en hulle het nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie. “Maar wat julle betref, luister nou na die gelykenis van die saaier.” “Wanneer iemand die woord van die •koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net 'n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik. En die saad wat tussen die dorings gesaai is – dit is hy wat hierdie woord hoor, maar die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig.” Hy het 'n verdere gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad op sy saailand gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom, drabok tussen die koring gesaai en weggegaan. Toe die spruitjies opskiet en in die aar kom, het die drabok ook begin wys. Die eienaar se slawe het vir hom kom sê, ‘Meneer, het u dan nie goeie saad op u saailand gesaai nie? Waar kom die drabok vandaan?’ Hy het hulle geantwoord, ‘'n Vyand het dit gedoen.’ Die slawe sê toe vir hom, ‘Wil u dat ons dit bymekaar gaan maak?’ Maar hy sê, ‘Nee, anders kan julle dalk, terwyl julle die drabok bymekaarmaak, die koring saam uittrek. Laat albei saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die drabok bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar maak die koring in my skuur bymekaar. ’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou: “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand geneem en in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar wanneer dit gegroei het, is dit die grootste van al die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls van die hemel in sy takke kom nesmaak. ” Hy het nog 'n gelykenis vir hulle vertel: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie saton koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is. ” Dit alles het Jesus deur gelykenisse aan die skare vertel, en sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: “Ek sal deur gelykenisse spreek; Ek sal uitbasuin wat van die grondlegging van die wêreld af verborge was.” Toe het Jesus die skare weggestuur en die huis binnegegaan. Sy dissipels het na Hom gekom en gesê: “Verklaar vir ons die gelykenis van die drabok in die saailand.” Hy het geantwoord: “Die een wat die goeie saad saai, is die •Seun van die Mens; die saailand is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die •koninkryk; die drabok is die kinders van die Bose; die vyand wat dit gesaai het, is die Duiwel; die oes is die voleinding van die tyd; en dié wat oes, is engele. Net soos die drabok dan bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, so sal dit wees by die voleinding van die tyd. Die Seun van die Mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk al die struikelblokke en dié wat wetteloosheid bedryf, bymekaarmaak en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. Dan sal die •regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Laat dié wat ore het, luister! ” “Die •koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in die veld begrawe lê. 'n Man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n handelaar op soek na goeie pêrels. Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop. “Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n treknet wat in die see uitgewerp is en van elke soort vis gevang het. Toe dit vol was, het hulle dit op die strand getrek. Hulle het toe gaan sit en die goeies in houers bymekaargemaak, maar die slegtes uitgegooi. So sal dit wees by die voleinding van die tyd: Die engele sal uitgaan, en hulle sal die bose mense tussen die •regverdiges uithaal en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal 'n geween en 'n gekners van tande wees. ” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” het hulle geantwoord. En Hy het vir hulle gesê: “Daarom is elke skrifkenner wat 'n leerling in die •koninkryk van die hemele geword het, soos 'n huiseienaar wat nuwe en ou dinge uit sy skatkamer haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 13:1-53 Bybel vir almal (ABA)

Daardie selfde dag het Jesus uit die huis gegaan en Hy het by die See van Galilea gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim en Hy het daarin gaan sit. Al die mense het op die strand gestaan. Jesus het vir hulle baie dinge geleer, Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Toe hy die saad gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het daardie saad opgepik. “Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. “Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei. “Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het gegroei en daar was baie koring. Een plant het 100 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant het 60 maal meer gegee, en 'n ander plant 30 maal meer. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” Die dissipels het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Hoekom vertel U gelykenisse wanneer U met die mense praat?” Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy wat in die hemel is, die Koning is en dat Hy regeer. Maar God het die ander mense nie gehelp om dit te verstaan nie. As iemand hierdie geheim net 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om dit nog beter te verstaan. Dan sal hy dit baie goed verstaan. Maar as iemand hierdie geheim nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie. Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie. Die profeet Jesaja se woorde is waar wat hy oor hulle geskryf het. Hy het geskryf: “ Julle sal hoor en hoor, maar julle sal niks verstaan nie. Julle sal kyk en kyk, maar julle sal niks sien nie. Hierdie volk het hardkoppig geword. Hulle het opgehou luister sodat hulle nie kan verstaan nie. Hulle het hulle oë toegehou sodat hulle nie kan sien nie en nie kan verstaan nie. Ek wil hulle gesond maak, maar hulle wil nie verander en lewe soos Ek wil hê nie.” Jesus het ook gesê: “Julle is gelukkige mense, want julle oë kan sien en julle ore kan hoor en julle kan verstaan. Ek sê vir julle, en dit is seker: Baie profete en mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, wou baie graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. En hulle wou baie graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” “Julle moet nou luister na wat die gelykenis van die saaier beteken. “Weet julle wat dit beteken wanneer die saad op die voetpad in die koringland geval het? Dit is wanneer iemand die boodskap hoor dat God Koning is, maar nie die boodskap verstaan nie. Die duiwel kom na hom toe en hy vat die woorde weg wat God in sy hart gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor en glo en bly is daaroor, maar hy is soos 'n plant wat nie diep wortels het nie en net 'n kort tydjie lewe. Hy hoor die boodskap en hy glo dit, maar wanneer die mense hom daaroor verdruk, en hy begin swaarkry, dan hou hy op om te glo. “En wanneer die saad tussen die dorings val, is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor, maar hy is bekommerd oor die dinge van die wêreld en hy dink hoe hy kan ryk word. Daarom kan die boodskap nie sy lewe verander nie, soos die saad wat nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer 'n mens die boodskap hoor en dit verstaan. Die boodskap verander sy lewe, soos die saad wat vrugte dra. By party mense is die vrugte 100 maal meer as die saad wat die man gesaai het. By party mense is die vrugte 60 maal meer, en by party mense is dit 30 maal meer.” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.” Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n vrou 'n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.” Jesus het al hierdie dinge vir baie mense gesê. Hy het gelykenisse vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. So het die woorde waar geword wat die profeet in die Ou Testament gesê het. Hy het gesê: “ Ek sal gelykenisse gebruik wanneer Ek met hulle praat. Daar is dinge wat mense nie geweet het nie, dit was 'n geheim. Ek sal dit vir almal vertel.” Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.” Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” Jesus het ook gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer iemand sy duur goed in die veld begrawe het. Eendag het 'n ander man die goed gekry. Hy het dit dadelik weer toegemaak. Hy was baie bly, en daarom het hy weggegaan en alles verkoop wat hy gehad het. Toe het hy daardie stuk grond gaan koop. “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer 'n man duur pêrels gesoek het en dit wou koop. Toe hy 'n baie duur pêrel sien, het hy alles verkoop wat hy gehad het en toe het hy die pêrel gaan koop.” “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer vissermanne 'n visnet in die see gooi, en hulle vang baie soorte visse. Wanneer die visnet vol visse is, dan trek die vissermanne dit uit die see tot op die sand. Dan gaan sit hulle en gooi die goeie visse bymekaar in bakke, maar hulle gooi die visse weg wat hulle nie kan eet nie. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die engele sal kom en hulle sal al die slegte mense wegvat, weg van die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here. En die engele sal dan al die slegte mense in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hard op hulle tande byt van pyn.” Jesus vra toe vir sy dissipels: “Verstaan julle al hierdie dinge?” Hulle sê vir Hom: “Ja.” Toe sê Jesus vir hulle: “Elke skrifgeleerde wat 'n dissipel word van God, die Koning wat in die hemel is, is soos iemand wat 'n huis het en wat nuwe goed en ook ou goed uithaal uit sy stoorkamer wanneer hy dit nodig het.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy weggegaan.

MATTEUS 13:1-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in 'n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: 'n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val 'n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En 'n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig. 'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: 'n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur. 'N ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en 'n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke. 'n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie; sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur die profeet: Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af. NADAT Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. VERDER is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat 'n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos 'n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. EN toe Jesus hierdie gelykenisse geëindig het, het Hy daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 13:1-53 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: “'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. “Wie ore het, moet luister!” Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?” Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê: “ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie. Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’ “Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.” “Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ” Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos 'n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit 'n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.” Hy het hulle nog 'n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat 'n vrou gevat en in 'n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.” Al hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n gelykenis het Hy hulle niks geleer nie. So moes vervul word wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.” Daarna het Jesus van die mense af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Verduidelik tog vir ons die gelykenis van die onkruid in die land.” Jesus antwoord: “Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad, dit is die mense van die koninkryk; die onkruid is die aanhangers van die Bose; die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld; dié wat oes, is die engele. “Soos die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die Seun van die mens sal sy engele stuur, en hulle sal uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet van God oortree, en sal hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners. Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. “Wie ore het, moet luister.” “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land. “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel. “Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met 'n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.” “Verstaan julle al hierdie dinge?” “Ja,” antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 13:1-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dieselfde dag het Jesus uit die huis gegaan en by die see gaan sit. En groot menigtes het by hom vergader, sodat hy in 'n skuit geklim en gaan sit het; en die hele menigte het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge in gelykenisse met hulle gespreek en gesê: Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai; En toe hy saai, het van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgeëet. Sommige het op klipperige plekke geval waar hulle nie baie grond gehad het nie, en dadelik het hulle opgeskiet, omdat hulle geen diepte van die aarde gehad het nie. En toe die son op was, is hulle verskroei; en omdat hulle geen wortel gehad het nie, het hulle verdor. En sommige het tussen die dorings geval; en die dorings het opgespring en dit verstik. Maar ander het in goeie grond geval en vrugte gedra, die een honderdvoudig, die ander sestigvoudig, die ander dertigvoudig. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U met hulle deur gelykenisse? Hy antwoord en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want elkeen wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal meer oorvloed hê; maar elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word selfs wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle in gelykenisse, omdat hulle siende nie sien nie; en terwyl hulle hoor, hoor hulle nie en verstaan hulle nie. En daarin is die profesie van Jesaja vervul, wat sê: Deur te hoor, sal julle hoor en nie verstaan nie; en siende sal julle sien en nie sien nie; Want die hart van hierdie volk is grof geword, en hulle ore is dof van gehoor, en hulle het hulle oë toegemaak; dat hulle nie ooit met hul oë sou sien en met hul ore hoor en met hul hart sou verstaan en hulle sou bekeer en Ek hulle sou genees nie. Maar geseënd is jou oë, want hulle sien, en jou ore, want hulle hoor. Want voorwaar Ek sê vir julle, dat baie profete en regverdiges begeer het om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle hoor en dit nie gehoor het nie. Hoor dan die gelykenis van die saaier. Wanneer iemand die woord van die koninkryk hoor en dit nie verstaan nie, dan kom die bose en vang wat in sy hart gesaai is. Dit is hy wat langs die pad saad ontvang het. Maar hy wat die saad op klipperige plekke ontvang het, dit is hy wat die woord hoor en dit met blydskap aanneem; Maar hy het nie wortel in homself nie, maar volhard vir 'n tyd lank, want as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, dan is hy aanstoot. Hy wat ook saad onder die dorings ontvang het, is hy wat die woord hoor; en die sorg van hierdie wêreld en die bedrog van rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. Maar hy wat saad in die goeie aarde ontvang het, is hy wat die woord hoor en dit verstaan; wat ook vrug dra en baar, die een honderdvoudig, die ander sestigvoudig, die ander dertigvoudig. 'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is vergelykbaar met 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het. Maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en weggegaan. Maar toe die lem opgespring en vrugte gedra het, het die onkruid ook verskyn. Toe kom die dienaars van die huisheer en sê vir hom: Meneer, het u nie goeie saad in u land gesaai nie? waar kom dit dan onkruid vandaan? Hy sê vir hulle: 'n Vyand het dit gedoen. Die dienaars sê vir hom: Wil jy dan dat ons hulle gaan bymekaarmaak? Maar hy sê: Nee! dat julle nie, terwyl julle die onkruid bymekaarmaak, ook die koring daarmee uitroei nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe; en in die tyd van die oes sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand; maar bring die koring bymekaar in my skuur. 'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy land gesaai het. Dit is wel die minste van al die saad, maar as dit gegroei het, is dit die grootste onder die kruie en word 'n boom, sodat die voëls van die hemel kom en vernag in die takke daarvan. 'n Ander gelykenis het Hy aan hulle vertel; Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou geneem en in drie mate meel weggesteek het totdat dit alles gesuur is. Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse aan die skare gesê; en sonder gelykenis het Hy nie met hulle gespreek nie. Sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is deur te sê: Ek sal my mond oopmaak deur gelykenisse; Ek sal dinge uitspreek wat van die grondlegging van die wêreld af geheim gehou is. Toe het Jesus die skare weggestuur en in die huis ingegaan, en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Vertel ons die gelykenis van die onkruid van die veld. Hy antwoord en sê vir hulle: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens; Die veld is die wêreld; die goeie saad is die kinders van die koninkryk; maar die onkruid is die kinders van die Bose; Die vyand wat hulle gesaai het, is die duiwel; die oes is die einde van die wêreld; en die maaiers is die engele. Daarom word die onkruid bymekaargemaak en met vuur verbrand; so sal dit wees aan die einde van hierdie wêreld. Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk versamel alle dinge wat aanstoot gee en die wat ongeregtigheid doen; en sal hulle in 'n vuuroond gooi: daar sal 'n geween en gekners van die tande wees. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n skat wat in 'n veld verborge is; wat, as iemand dit kry, wegsteek, en uit blydskap daaroor gaan en alles wat hy het verkoop, en daardie stuk grond koop. Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n handelaar wat mooi pêrels soek. Hy het, toe hy een baie kosbare pêrel gekry het, gegaan en alles wat hy gehad het verkoop en dit gekoop. Weereens, die koninkryk van die hemele is soos 'n net wat in die see gegooi en van elke soort bymekaargemaak is. En toe dit vol was, het hulle na die wal getrek en gaan sit en die goeies in potte bymekaargemaak, maar die slegtes weggegooi. So sal dit wees aan die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die goddelose onder die regverdiges verskei, en sal hulle in die vuuroond gooi: daar sal 'n geween en gekners van die tande wees. Jesus sê vir hulle: Het julle al hierdie dinge verstaan? Hulle sê vir Hom: Ja, Here! Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat aan die koninkryk van die hemele onderrig word, soos 'n man wat 'n huisbewoner is, wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring. En toe Jesus hierdie gelykenisse voltooi het, het Hy daarvandaan weggegaan.

MATTEUS 13:1-53 Die Boodskap (DB)

Later die dag is Jesus af na die meer toe. Daar was so baie mense saam met Hom dat Hy in ’n bootjie moes klim sodat almal Hom kon sien. Die mense het op die wal bly staan. Jesus was lief om verhale in sy preke te gebruik om so sy boodskap vir die mense duideliker te maak. Met die bootjie as sy kansel het Hy begin preek: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooi het van die saadjies op die voetpad deur die land geval. Die voëls was dadelik by en gou was daar niks van hierdie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die groot rotse in die land geval. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie wortels maak in die vlak grond nie. Daarom kon die plantjies nie grootword nie. Die son het hulle gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Daardie plante het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek vir julle sê? “Asseblief, luister mooi!” Voor Jesus verder kon praat, vra sy getrouste volgelinge Hom: “U vertel altyd verhale wanneer U preek. Hoekom?” “As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan. “Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie. “En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan. “Daar het saad op die voetpad geval ... Wel, baie mense luister na die boodskap van God se nuwe wêreld, maar dit sink nie in nie en hulle steur hulle nie daaraan nie. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval ... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Ander saad het weer tussen die doringbosse geval ... Dit is soos iemand wat God se boodskap gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat sy beroep stel en al die ander dinge waarmee hy hom besig hou, ja, selfs die gejaag na geld, vir hom belangriker as sy geloof. Hy het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. So verdring al hierdie ander dinge die geloof eenvoudig uit sy lewe uit. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat hierdie persoon Jesus se boodskap so gretig aanvaar het nie. “Daar was ook goeie grond waarin die saad geval het ... Dit is iemand wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur getref is. Hy het met oorgawe reg begin leef. In alles wat hy doen of sê, borrel sy Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan nie.” “Maar Ek het nog ’n verhaal vir julle. Vergelyk nou hierdie verhaal met ’n geestelike waarheid oor hoe God in die wêreld regeer. “Daar was ’n boer. Hy het skoon saad, sonder enige onkruid tussenin, in sy land gesaai. Daardie nag, terwyl almal slaap, kom sy vyand skelm en saai ’n klomp onkruid tussen sy koring. Hierdie onkruid het baie soos koring gelyk, maar toe die oes kom, was daar nie ’n enkele koringaar aan die plante nie. Die koring en die onkruid het natuurlik lustig saamgegroei. Toe die koringare begin vorm, kom die plaaswerkers die probleem agter. Hulle is toe reguit na die boer toe. ‘Meneer, jy het dan sulke mooi skoon saad gesaai. Hoe is dit moontlik dat die land so vol onkruid staan?’ Die boer sê toe: ‘Wie anders as die vyand sal so iets doen?’ “‘Moet ons die lande gaan skoonmaak?’ wou die werkers weet. ‘Nee,’ sê die boer, ‘netnou trek julle van die koring saam met die onkruid uit. Die onkruid moet nou maar saam met die koring groei tot die koring ryp is. As ons begin oes, sal ons eers die onkruid uithaal en verbrand. Dan kan ons die koring oes en in die skuur bêre.’” Jesus het voortgegaan met nog ’n verhaal: “God se nuwe wêreld kan met ’n baie klein saadjie, ’n mosterdsaadjie, vergelyk word. Iemand vat daardie klein saadjie en plant dit buite. Uit hierdie piepklein saadjie groei so ’n groot struik dat dit bo al die ander plante in die tuin uitstaan. Om die waarheid te sê, dit is so groot dat voëls selfs daarin nes kan maak.” Jesus het verder gepreek: “Luister nou na die verhaal oor die suurdeeg. God se nuwe wêreld werk net so. ’n Vrou vat ’n bietjie suurdeeg en knie dit goed in ’n groot skottel deeg in. Na ’n ruk sal die suurdeeg elke stukkie deeg in daardie skottel laat rys.” So het Jesus die een verhaal na die ander vertel. Die profete het mos al voorspel: “Ek sal verhale gebruik as Ek preek. So sal Ek julle dinge vertel wat niemand nog ooit gehoor het nie.” Daarna is Jesus en sy getrouste volgelinge alleen huis toe. Daar gekom, vra hulle Hom: “Ons verstaan nie mooi wat U met die verhaal van die onkruid bedoel het nie. Verduidelik dit asseblief vir ons.” Jesus het begin verduidelik: “Die boer wat die skoon saad saai, is die Seun. Die land waarin Hy saai, kan vergelyk word met die wêreld. Die goeie saad is die mense in die wêreld wat God dien. Die onkruid is die mense wat die Bose dien. Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel self. Die oestyd verwys na die tyd wanneer God die mense finaal kom oordeel. Die mense wat die oes insamel, is die engele van God. “Nou het ons die sleutel om die verhaal te verstaan. Kom ons sit nou alles bymekaar. Ons het gesien dat die onkruid ná die oes eenkant gegooi en verbrand word. Wanneer God mense finaal kom oordeel, gaan hierdie wêreld net so aan ’n einde kom. Die Seun gaan sy engele stuur om te kom oes. Hulle gaan eers al die mense bymekaarmaak wat ander so op die verkeerde pad lei en nie doen wat God wil nie. Vir hierdie mense is daar dan geen uitkoms meer nie, net die vlamme van die hel. Daar sal hulle van pyn krul en om hulp skreeu, maar alles tevergeefs. Die mense wat reg geleef het, sal dan die nuwe wêreld van hulle Vader skitterend versier. “Neem hierdie dinge ernstig op. “Luister mooi na wat Ek sê.” “Luister ook hierna. Om God as jou Here te hê is so spesiaal dat dit vergelyk kan word met ’n skat. Die skat het in die veld gelê. Toevallig ontdek iemand dit toe eendag, maar hy kon dit nie vat nie omdat dit nie sy grond was nie. Hy maak die skat toe weer mooi toe. Hy was so opgewonde daaroor dat hy al sy besittings gaan verkoop het. Met die geld het hy toe daardie stuk grond gaan koop. “Die vergelykings met ’n juwelier en ’n visnet kan julle ook help om te verstaan wat God se nuwe wêreld vir mense kan beteken. “’n Juwelier het die wêreld vol gereis op soek na goeie pêrels. Skielik loop hy ’n uitsonderlike en baie waardevolle pêrel raak. Hy wou dit vreeslik graag hê. Daarom gaan verkoop hy toe alles wat hy het en koop die pêrel. “Julle weet mos dat allerhande soorte vis gewoonlik met nette in die meer gevang word. As die net vol vis is, sleep hulle dit wal toe. Dan soek hulle eers die vis uit. Die eetbare vis hou hulle, en hulle raak ontslae van die vis wat hulle nie wil hê nie. “By die laaste oordeel sal dit ook so gaan met die mense. Die mense wat reg gelewe het, sal by God gaan staan. “Maar die hel is die voorland van hierdie klomp slegte mense wat niks vir God omgegee het nie. Daar sal hulle skreeu en kerm van pyn, maar alles tevergeefs. “Begin julle nou verstaan wat Ek vir julle wil sê?” Die dissipels antwoord: “Beslis!” Jesus sê toe vir hulle: “Iemand wat geleerd is in die Joodse wet ken die ou boodskap. As hy My begin volg en verstaan, leer hy ook die nuutheid van God se boodskap ken. Hy is soos iemand wat ou en nuwe dinge in sy huis het en presies weet waar elkeen se plek is.” Jesus is van die meer af terug huis toe.

MATTEUS 13:1-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Later daardie dag het Jesus uit die huis gegaan en langs die see gaan sit. ’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister. Hy het vir hulle baie ge-lykenisse vertel, soos die volgende een: “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Sy dissipels kom toe na Hom toe en sê: “Waarom gebruik U altyd sulke diepsinnige gelykenisse as U met die mense praat?” Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie. Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan. Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie. Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid: ‘Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen en dit tog nie werklik begryp nie. Ja, die hart van hierdie volk het verhard, en hulle hoor swaar met hulle ore, en hulle het hulle oë toegemaak sodat hulle nie dalk met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle hart begryp en tot bekering kom en Ek hulle gesond maak nie.’ “Maar julle – gelukkig is julle oë omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor. Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie. “Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken: Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.” Hy het ’n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: “God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ’n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ “‘Dis ’n vyand se werk!’ het hy uitgeroep. “‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ vra sy slawe hom. “Maar hy antwoord: ‘Nee, dalk trek julle die koring saam uit wanneer julle die onkruid in bondels uittrek. Laat albei saam groei tot oestyd. Dan sal ek vir die mense wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar. Bind dit dan in bondels vas om verbrand te word. Maar bring die koring bymekaar in my skuur.’” Hier is nog ’n gelykenis wat Hy vir hulle vertel het: “God se koningsheerskappy is soos ’n mosterdsaad wat iemand in sy tuin geplant het. Dit is die kleinste van alle saadsoorte, maar as dit groei, word dit groter as al die ander plante in die tuin. Dit word so ’n groot boom dat die voëls in sy takke kan kom nesmaak.” Hy het ook die volgende gelykenis vir hulle vertel: “God se koningsheerskappy is soos suurdeeg wat ’n vrou gebruik het om brood te bak. Al het sy net ’n bietjie suurdeeg in ’n groot baksel meel ingewerk, het dit uiteindelik alles deursuur.” Jesus het altyd gelykenisse soos hierdie gebruik as Hy met die skare praat. Om die waarheid te sê, Hy het nooit met hulle gepraat sonder om gelykenisse te gebruik nie. So het die uitspraak van die profeet uitgekom: “Ek sal deur middel van gelykenisse met julle praat. Ek sal bekendmaak wat geheim gebly het van die skepping van die wêreld af.” Daarna het Jesus van die skare af weggegaan huis toe. Sy dissipels kom toe na Hom toe en vra: “Verduidelik asseblief vir ons die gelykenis van die onkruid op die saailand.” “Goed,” antwoord Jesus. “Ek, die Seun van die Mens, is die boer wat die goeie saad saai. Die saailand is die wêreld. Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort. Die onkruid is hulle wat aan die Bose behoort. Die duiwel is die vyand wat die onkruid saai. Die oestyd is die voleinding van die wêreld en dié wat oes, is die engele. “Net soos die onkruid bymekaargemaak word en verbrand word, so sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. “Ek, die Seun van die Mens, sal my engele uitstuur. Hulle sal alles wat sonde veroorsaak en almal wat God se wet oortree uit my koninkryk verwyder en hulle in die brandende oond gooi. Daardie mense sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. “Dan sal dié wat reg voor God gelewe het, soos die son skitter in die koninkryk van hulle Vader. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” “God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n stuk grond weggesteek lê. Iemand kry dit daar, maar steek dit dadelik weer weg. Oorstelp van blydskap gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie stuk grond.” “God se koninkryk is ook soos ’n pêrelhandelaar op soek na mooi pêrels. As hy een baie kosbare pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop daardie pêrel.” “Verder is God se koninkryk soos ’n treknet wat in die see uitgegooi word en allerhande soorte vis bymekaarbring. Wanneer dit vol is, sleep die vissers dit op die strand uit. Hulle gaan sit, sorteer die goeie vis in kratte en gooi die slegtes weg. So sal dit ook wees by die voleinding van die wêreld. Die engele sal kom, die slegte mense wegneem van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners. Verstaan julle dit alles?” Hulle antwoord Hom: “Ja, ons verstaan.” Hy voeg toe by: “Elke skrifkenner wat ’n ware student in God se koninkryk geword het, is soos ’n huiseienaar wat nuwe sowel as ou dinge uit sy stoorkamer te voorskyn haal.” Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan vertrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid