MATTEUS 13:1-23

MATTEUS 13:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 'n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in 'n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: “'n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 'n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 'n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. Die ander saad het in goeie grond geval en 'n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. “Wie ore het, moet luister!” Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?” Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê: “ ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie. Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’ “Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.” “Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer 'n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.”

MATTEUS 13:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Daardie selfde dag het Jesus uit die huis gegaan en Hy het by die See van Galilea gaan sit. Baie mense het na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim en Hy het daarin gaan sit. Al die mense het op die strand gestaan. Jesus het vir hulle baie dinge geleer, Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. Toe hy die saad gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het daardie saad opgepik. “Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie. “Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei. “Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het gegroei en daar was baie koring. Een plant het 100 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant het 60 maal meer gegee, en 'n ander plant 30 maal meer. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” Die dissipels het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Hoekom vertel U gelykenisse wanneer U met die mense praat?” Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy wat in die hemel is, die Koning is en dat Hy regeer. Maar God het die ander mense nie gehelp om dit te verstaan nie. As iemand hierdie geheim net 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om dit nog beter te verstaan. Dan sal hy dit baie goed verstaan. Maar as iemand hierdie geheim nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie. Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie. Die profeet Jesaja se woorde is waar wat hy oor hulle geskryf het. Hy het geskryf: “ Julle sal hoor en hoor, maar julle sal niks verstaan nie. Julle sal kyk en kyk, maar julle sal niks sien nie. Hierdie volk het hardkoppig geword. Hulle het opgehou luister sodat hulle nie kan verstaan nie. Hulle het hulle oë toegehou sodat hulle nie kan sien nie en nie kan verstaan nie. Ek wil hulle gesond maak, maar hulle wil nie verander en lewe soos Ek wil hê nie.” Jesus het ook gesê: “Julle is gelukkige mense, want julle oë kan sien en julle ore kan hoor en julle kan verstaan. Ek sê vir julle, en dit is seker: Baie profete en mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, wou baie graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. En hulle wou baie graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” “Julle moet nou luister na wat die gelykenis van die saaier beteken. “Weet julle wat dit beteken wanneer die saad op die voetpad in die koringland geval het? Dit is wanneer iemand die boodskap hoor dat God Koning is, maar nie die boodskap verstaan nie. Die duiwel kom na hom toe en hy vat die woorde weg wat God in sy hart gesaai het. Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor en glo en bly is daaroor, maar hy is soos 'n plant wat nie diep wortels het nie en net 'n kort tydjie lewe. Hy hoor die boodskap en hy glo dit, maar wanneer die mense hom daaroor verdruk, en hy begin swaarkry, dan hou hy op om te glo. “En wanneer die saad tussen die dorings val, is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor, maar hy is bekommerd oor die dinge van die wêreld en hy dink hoe hy kan ryk word. Daarom kan die boodskap nie sy lewe verander nie, soos die saad wat nie vrugte dra nie. Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer 'n mens die boodskap hoor en dit verstaan. Die boodskap verander sy lewe, soos die saad wat vrugte dra. By party mense is die vrugte 100 maal meer as die saad wat die man gesaai het. By party mense is die vrugte 60 maal meer, en by party mense is dit 30 maal meer.”

MATTEUS 13:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in 'n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: 'n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val 'n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet. En 'n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En 'n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir 'n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.

MATTEUS 13:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daardie selfde dag het Jesus, nadat Hy van die huis vertrek het, langs die see gaan sit. 'n Groot skare het om Hom saamgedrom, sodat Hy in die boot geklim het om daar te gaan sit. Die hele skare het op die strand bly staan. Hy het dikwels met hulle deur gelykenisse gepraat. Hy het gesê: “Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai. Tydens die saaiery het 'n deel van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. Ander saad, weer, het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie, en dit het dadelik opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son opkom, is dit verskroei; omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. Ander saad weer het tussen die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik. En nog ander het op goeie grond geval, en dit het opbrengs gelewer – party honderd-, ander sestig- en ander dertigvoudig. Laat dié wat ore het, luister!” Die dissipels het toe nader gekom en vir Hom gevra: “Hoekom praat U deur gelykenisse met hulle?” Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die •koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Daarom praat Ek met hulle deur gelykenisse, omdat hulle siende blind en horende doof is en dus nie verstaan nie. Wat hulle betref, word die profesie van Jesaja vervul: “ ‘Met die ore sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien en glad nie insig kry nie. Want hierdie volk se hart is afgestomp – hulle kan beswaarlik met hulle ore hoor; hulle het hulle oë gesluit, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle harte verstaan en terugdraai en Ek hulle genees nie.’ “Maar gelukkig is julle oë, want hulle sien, en julle ore, want hulle hoor. •Amen, Ek sê vir julle, baie profete en •regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en hulle het nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie. “Maar wat julle betref, luister nou na die gelykenis van die saaier.” “Wanneer iemand die woord van die •koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is. Dit is die saad wat langs die pad gesaai is. Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net 'n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik. En die saad wat tussen die dorings gesaai is – dit is hy wat hierdie woord hoor, maar die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Die saad wat egter op die goeie grond gesaai is, dit is hy wat hierdie woord hoor en begryp. En hy dra vrug – die een honderd-, die ander sestig-, en die ander dertigvoudig.”

MATTEUS 13:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dieselfde dag het Jesus uit die huis gegaan en by die see gaan sit. En groot menigtes het by hom vergader, sodat hy in 'n skuit geklim en gaan sit het; en die hele menigte het op die strand gestaan. En Hy het baie dinge in gelykenisse met hulle gespreek en gesê: Kyk, 'n saaier het uitgegaan om te saai; En toe hy saai, het van die saad langs die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgeëet. Sommige het op klipperige plekke geval waar hulle nie baie grond gehad het nie, en dadelik het hulle opgeskiet, omdat hulle geen diepte van die aarde gehad het nie. En toe die son op was, is hulle verskroei; en omdat hulle geen wortel gehad het nie, het hulle verdor. En sommige het tussen die dorings geval; en die dorings het opgespring en dit verstik. Maar ander het in goeie grond geval en vrugte gedra, die een honderdvoudig, die ander sestigvoudig, die ander dertigvoudig. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U met hulle deur gelykenisse? Hy antwoord en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. Want elkeen wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal meer oorvloed hê; maar elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word selfs wat hy het. Daarom spreek Ek tot hulle in gelykenisse, omdat hulle siende nie sien nie; en terwyl hulle hoor, hoor hulle nie en verstaan hulle nie. En daarin is die profesie van Jesaja vervul, wat sê: Deur te hoor, sal julle hoor en nie verstaan nie; en siende sal julle sien en nie sien nie; Want die hart van hierdie volk is grof geword, en hulle ore is dof van gehoor, en hulle het hulle oë toegemaak; dat hulle nie ooit met hul oë sou sien en met hul ore hoor en met hul hart sou verstaan en hulle sou bekeer en Ek hulle sou genees nie. Maar geseënd is jou oë, want hulle sien, en jou ore, want hulle hoor. Want voorwaar Ek sê vir julle, dat baie profete en regverdiges begeer het om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle hoor en dit nie gehoor het nie. Hoor dan die gelykenis van die saaier. Wanneer iemand die woord van die koninkryk hoor en dit nie verstaan nie, dan kom die bose en vang wat in sy hart gesaai is. Dit is hy wat langs die pad saad ontvang het. Maar hy wat die saad op klipperige plekke ontvang het, dit is hy wat die woord hoor en dit met blydskap aanneem; Maar hy het nie wortel in homself nie, maar volhard vir 'n tyd lank, want as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, dan is hy aanstoot. Hy wat ook saad onder die dorings ontvang het, is hy wat die woord hoor; en die sorg van hierdie wêreld en die bedrog van rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. Maar hy wat saad in die goeie aarde ontvang het, is hy wat die woord hoor en dit verstaan; wat ook vrug dra en baar, die een honderdvoudig, die ander sestigvoudig, die ander dertigvoudig.

MATTEUS 13:1-23 Die Boodskap (DB)

Later die dag is Jesus af na die meer toe. Daar was so baie mense saam met Hom dat Hy in ’n bootjie moes klim sodat almal Hom kon sien. Die mense het op die wal bly staan. Jesus was lief om verhale in sy preke te gebruik om so sy boodskap vir die mense duideliker te maak. Met die bootjie as sy kansel het Hy begin preek: “Daar was ’n boer wat saad in sy land gaan saai het. Hy het die saad met sy hand oor die grond uitgestrooi. Met die strooi het van die saadjies op die voetpad deur die land geval. Die voëls was dadelik by en gou was daar niks van hierdie saad meer oor nie. Van die ander saad het op die groot rotse in die land geval. In die holtes van die rotse was daar grond. Die saad het gou opgekom, maar kon nie wortels maak in die vlak grond nie. Daarom kon die plantjies nie grootword nie. Die son het hulle gou doodgebrand. Van die saad het ook tussen lae doringbosse beland. Soos die bosse groter geword het, het dit die plantjies heeltemal doodgedruk. Dan het daar ook saad in die land self geval waar die grond goed voorberei was. Daardie plante het goed gegroei en ’n oes gegee wat alle verwagtings oortref het. “Hoor julle wat Ek vir julle sê? “Asseblief, luister mooi!” Voor Jesus verder kon praat, vra sy getrouste volgelinge Hom: “U vertel altyd verhale wanneer U preek. Hoekom?” “As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan. “Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie. “En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie. “Met julle is dit egter anders. Julle is gelukkig, want julle geestelike oë sien en julle geestelike ore hoor. Baie van julle voorgeslagte wat God gedien het (soos profete en ander gelowiges wat aan God getrou was), sou wat wou gee om net hier te kon wees waar julle is. Hulle sou so graag wou hoor en sien wat julle hoor en sien. Maar natuurlik kan hulle nie, want hulle het nie die kans gehad nie.” “Laat Ek nou eers vir julle verduidelik hoe julle die verhaal van die boer wat gaan saai het, moet verstaan. “Daar het saad op die voetpad geval ... Wel, baie mense luister na die boodskap van God se nuwe wêreld, maar dit sink nie in nie en hulle steur hulle nie daaraan nie. Die Bose sorg dan dat daardie mense baie gou vergeet wat hulle gehoor het. Die Bose pik as’t ware die woorde uit daardie mense se gedagtes uit. “Daar het ook saad in die holtes van die rotse geval ... Party mense hoor die boodskap van God en is dan baie opgewonde, maar net ’n rukkie lank. Sodra hulle geloof iets van hulle begin vra of hulle opofferings moet maak, is hulle skielik nie meer so opgewonde en oortuig van alles nie. Gou bly daar niks meer van hulle sogenaamde nuwe geloof oor nie. “Ander saad het weer tussen die doringbosse geval ... Dit is soos iemand wat God se boodskap gretig aanvaar. En tog, in die alledaagse lewe word die eise wat sy beroep stel en al die ander dinge waarmee hy hom besig hou, ja, selfs die gejaag na geld, vir hom belangriker as sy geloof. Hy het nie meer tyd of krag oor om vir die Here te werk nie. So verdring al hierdie ander dinge die geloof eenvoudig uit sy lewe uit. Later kan ’n mens nie eens meer agterkom dat hierdie persoon Jesus se boodskap so gretig aanvaar het nie. “Daar was ook goeie grond waarin die saad geval het ... Dit is iemand wat die boodskap van God gehoor het en diep daardeur getref is. Hy het met oorgawe reg begin leef. In alles wat hy doen of sê, borrel sy Christenskap eenvoudig uit. Daar is geen keer aan nie.”

MATTEUS 13:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Later daardie dag het Jesus uit die huis gegaan en langs die see gaan sit. ’n Groot klomp mense het rondom Hom saamgedrom. Gevolglik was Hy verplig om in ’n skuit te klim en daarin te gaan sit om die mense te onderrig. Hulle het almal op die strand bly staan om na Hom te luister. Hy het vir hulle baie ge-lykenisse vertel, soos die volgende een: “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai. In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik. ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet. Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog. Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik. Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het ’n oes voortgebring, party 100 maal, party 60 maal en party 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.” Sy dissipels kom toe na Hom toe en sê: “Waarom gebruik U altyd sulke diepsinnige gelykenisse as U met die mense praat?” Hy antwoord hulle toe: “Omdat julle bevoorreg word om die geheime van God se koningsheerskappy te verstaan. Húlle word nie so bevoorreg nie. Hulle wat reeds verstaan, vir hulle sal nog meer gegee word en hulle sal oorvloedige kennis hê. Maar hulle wat nie insig het nie, van hulle sal ook nog die bietjie weggeneem word wat hulle wel verstaan. Ek praat met hulle by wyse van gelykenisse, want hulle kyk en tog sien hulle nie, en hulle hoor, maar tog luister en verstaan hulle nie. Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid: ‘Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie. Julle sal sien wat Ek doen en dit tog nie werklik begryp nie. Ja, die hart van hierdie volk het verhard, en hulle hoor swaar met hulle ore, en hulle het hulle oë toegemaak sodat hulle nie dalk met hulle oë sien en met hulle ore hoor en met hulle hart begryp en tot bekering kom en Ek hulle gesond maak nie.’ “Maar julle – gelukkig is julle oë omdat hulle sien en julle ore omdat hulle hoor. Dít verseker Ek julle, baie profete en godvresende mense het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar dit was hulle nie beskore nie. “Luister julle nou wat die gelykenis van die saaier beteken: Hulle by wie die saad op die voetpad gesaai is, is elkeen wat die boodskap van God se koningsheerskappy hoor, maar dit nie begryp nie. Die Bose kom en roof wat in hulle harte gesaai is. Hulle by wie op klipperige grond gesaai is, is die mense wat die boodskap hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. Maar hulle wortels gaan nie diep nie en hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar swaarkry of vervolging ter wille van die boodskap kom, struikel hulle in hulle geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, is hulle wat die boodskap hoor, maar die bekommernis van hierdie lewe en die verleidelikheid van die rykdom verstik die boodskap en dit bly sonder vrug. Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan. Hulle dra vrug en bring ’n oorvloedige oes voort: 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid