MATTEUS 12:38-45
MATTEUS 12:38-45 Afrikaans 1983 (AFR83)
Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona! Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”
MATTEUS 12:38-45 Bybel vir almal (ABA)
Party skrifgeleerdes en Fariseërs het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, ons wil hê U moet vir ons 'n wonderteken wys sodat ons kan sien U kom van God.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil 'n wonderteken hê, hulle wil 'n bewys sien. God sal nie 'n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona. Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis. So sal Ek, die Seun van die mens, ook drie dae en drie nagte in die graf wees. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.” “Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek 'n plek waar hy kan woon. As hy nie 'n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, na die mens toe in wie ek gewoon het.’ Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos 'n huis wat leeg en skoon en netjies is. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle kom almal saam met hom, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was. Dit sal gebeur met die slegte mense wat nou lewe.”
MATTEUS 12:38-45 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier! Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en — meer as Salomo is hier! En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.
MATTEUS 12:38-45 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het sommige van die skrifkenners en •Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag 'n teken van u sien.” Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona. Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor; en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. ” “Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, maar kry dit nie. Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.”
MATTEUS 12:38-45 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En sommige van die skrifgeleerdes en van die Fariseërs het geantwoord en gesê: Meester, ons sou 'n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek 'n teken; en daar sal geen teken aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van die walvis was; so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Nineve sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel, omdat hulle hulle bekeer het op die prediking van Jona; en kyk, hier is 'n groter as Jona. Die koningin van die Suide sal saam met hierdie geslag in die oordeel opstaan en dit veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde af gekom om die wysheid van Salomo te hoor; en kyk, hier is 'n groter as Salomo. Wanneer die onreine gees uit 'n mens uitgegaan het, loop hy deur droë plekke en soek rus en kry niks nie. Toe sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het; en as hy kom, vind hy dit leeg, uitgevee en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself saam, en hulle gaan in en woon daar; en die laaste toestand van daardie man is erger as die eerste. So sal dit ook wees met hierdie goddelose geslag.
MATTEUS 12:38-45 Die Boodskap (DB)
Van die geleerde Jode antwoord Jesus toe: “Ons sien jy leer die mense so. Ons wil egter nie net ’n gepraat hoor nie. Doen ’n bietjie vir ons iets dat ons kan sien of jy regtig aan God se kant is.” “Ai,” sê Jesus, “mense wat voeling met God verloor en die pad byster geraak het, soek allerhande tekens om hulle te help om by God uit te kom. Ek gaan julle nie in julle kwaad sterk en ’n spesiale teken vir julle gee nie. Tog gaan Ek een uitsondering maak. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met die profeet Jona gebeur het. Drie dae en nagte was Jona in die groot vis. Net so sal die Seun van die mens drie dae en nagte lank in ’n graf lê. “Die vergelyking gaan nog verder. Die mense van Nineve vir wie Jona gepreek het, sal by die finale oordeel skouer aan skouer met julle almal staan. Die gehoorsaamheid van die Nineviete sal julle egter in ’n baie slegte lig voor God stel. Die Nineviete het immers Jona se boodskap van God af met oop arms aanvaar. Dit is meer as wat van julle gesê kan word. Hier voor julle staan Iemand wat duisend maal belangriker is as Jona, en wat maak julle? Julle wil nie luister nie! En julle moenie dink dit is net die Nineviete wat julle in die verleentheid gaan bring nie. Daar is nog baie ander wat vir julle ’n goeie voorbeeld gestel het, as julle maar net wou luister. “Dink maar aan die koningin van Skeba wat die hele ent uit die verre Afrika gekom het om na die wyse koning Salomo te luister. En kyk, hier voor julle staan Een by wie Salomo kan gaan leer. En wat maak julle? Julle kibbel oor tekens. Julle sal sleg afsteek by die koningin van Skeba. Sy is die lewende bewys van hoe koppig julle regtig is. “Maar Ek kan dit in ’n sekere sin verstaan. Julle weet, as ’n onrein gees uit ’n mens verwilder word, soek hy ’n ander plek waar hy kan bly. As hy nie so ’n plek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’ Daar gekom, vind hy die plek dolleeg, mooi skoon en reg. Daarna gaan haal hy sommer nog ’n klomp ander bose geeste wat ook plek soek. Hulle is nog slegter as hy. Die hele bende van hulle bly dan sommer in die een huis. Sowaar, vir so ’n mens sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God maar liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die kans gehad het. Dit is ’n les wat die slegte mense onder julle nog nie geleer het nie.”
MATTEUS 12:38-45 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van u sien om te bewys dat u van God af kom.” Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona. “Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees. Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie. Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister! “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie. Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant. Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. “Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”