MATTEUS 11:7-30

MATTEUS 11:7-30 Bybel vir almal (ABA)

Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets van Johannes vertel. Jesus vra toe vir hulle: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee! Die mense wat mooi en duur klere dra, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Niemand is belangriker as Johannes die Doper nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar waar God is, die Koning wat in die hemel is, daar is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes die Doper. Johannes die Doper het begin preek in die woestyn. Maar van toe af tot nou toe is mense opstandig teen God, die Koning wat in die hemel is. Hulle wil self konings wees. Die hele Ou Testament, al die boeke van die profete en van Moses, het gesê wat sal gebeur totdat Johannes gekom het. As julle glo wat die profete gesê het, dan sal julle weet Johannes die Doper is Elia wat moes kom. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!” “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: “ ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ “En die ander kinders sê: “ ‘Ons het vir julle 'n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’ “So doen die mense met Johannes en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie feesgevier nie. Toe sê die mense: ‘Daar is 'n duiwel in hom.’ Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê die mense: ‘Hy is 'n vraat en 'n dronklap. Hy is 'n vriend van tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’ Die dinge wat Ek en Johannes doen, wys dat ons van God kom. Mense wat in ons glo, weet regtig wat die wysheid van God is.” Jesus het die meeste van sy wonderwerke gedoen in 'n paar stede. Maar die mense in hierdie stede het nie verander nie en hulle het nie begin lewe soos God wil hê mense moet lewe nie. Jesus het toe kwaai begin praat met hulle en gesê: “Dit sal baie sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal baie sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle wys dat hulle verander het en wil begin lewe soos God wil hê. Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle. En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel. Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke in Sodom gedoen het, dan sou daardie mense verander het en begin lewe het soos God wil hê. En dan was Sodom vandag nog daar. Maar Ek sê vir julle: Op die dag wanneer God sal oordeel, sal Hy die mense van Sodom minder straf as vir julle.” In daardie tyd het Jesus gebid en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. Ja, Vader, U het dit gedoen omdat U dit graag wou doen.” Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig vir My, die Seun van God nie, net die Vader ken My. En niemand ken regtig die Vader nie, net Ek, die Seun van God, ken die Vader. En watter mense ken die Vader? Net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader. “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaarkry omdat julle wil doen wat die Wette van Moses sê. Ek sal julle help sodat julle kan rus. Julle moet gehoorsaam wees en luister na wat Ek vir julle leer, want Ek het 'n sagte hart en Ek is nederig. Julle sal vir altyd by My kan rus. Die wette wat Ek vir julle gee, is nie moeilik nie, en as julle My volg, sal julle nie swaarkry nie.”

MATTEUS 11:7-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe hulle vertrek, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as 'n profeet! Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld. Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. En as julle dit wil aanneem: hy is Elía wat sou kom. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie getreur nie. Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom — Hy eet en drink, en hulle sê: Dáár is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur sy kinders. TOE het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou. IN daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.

MATTEUS 11:7-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy. Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit. Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom. Wie ore het, moet luister. “Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep: “ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!’ “Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie: “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, dink jy “ ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ “As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.” Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

MATTEUS 11:7-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Met hulle vertrek het Jesus begin om met die skare oor Johannes te praat: “Maar wat wou julle gaan sien toe julle na die woestyn uitgegaan het? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Kyk, mense met deftige klere woon in konings se paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “•Amen, Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie; en tog is die geringste in die •koninkryk van die hemele groter as hy. Maar sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe ly die koninkryk van die hemele onder geweld en probeer geweldenaars dit in besit neem. Want al die Profete en die Wet, tot en met Johannes, het daaroor geprofeteer. En as julle dit wil aanvaar – hy is Elia wat sou kom. Laat dié wat ore het, luister! “Maar met wie kan Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is soos kindertjies wat op die markpleine sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie weeklaag nie!’ “Want Johannes het gekom, en hy eet en drink nie, “en hulle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “Die •Seun van die Mens het gekom, en Hy eet en drink, “en hulle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van •tollenaars en sondaars.’ “Maar die wysheid word deur haar dade reg bewys.” Toe het Jesus begin om die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie. “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “ ‘Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal!’ “Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir die gebied van Sodom op die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.” In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.”

MATTEUS 11:7-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hulle weggaan, begin Jesus vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te sien? 'n Riet geskud deur die wind? Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Man geklee in sagte klere? kyk, die wat sagte klere dra, is in koningshuise. Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? ja, Ek sê vir julle, en meer as 'n profeet. Want dit is hy van wie geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou aangesig, wat jou weg voor jou sal regmaak. Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het geen groter as Johannes die Doper opgestaan nie; maar die minste in die koninkryk van die hemele is groter as hy. En van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele onder geweld gebuk, en die geweldenaars neem dit met geweld. Want al die profete en die wet het geprofeteer tot op Johannes. En as julle dit wil ontvang, dit is Elia wat sou kom. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. Maar waarmee sal ek hierdie geslag vergelyk? Dit is soos met kinders wat op die markte sit en na hulle maats roep, en gesê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het oor julle getreur, en julle het nie getreur nie. Want Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en eet en drink, en hulle sê: Daar is 'n vraat man en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar wysheid word deur haar kinders geregverdig. Toe het hy begin om die stede waarin die meeste van sy magtige werke gedoen is, te verwyt, omdat hulle hulle nie bekeer het nie. Wee jou, Chorasin! wee jou, Betsaida! want as die kragtige werke wat in julle gedoen is, in Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle hulle lank gelede in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle: Dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapernaum, wat tot die hemel toe verhef is, sal na die hel neergewerp word; want as die magtige werke wat in jou gedoen is, in Sodom plaasgevind het, sou dit gebly het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou. In daardie tyd het Jesus geantwoord en gesê: Ek dank U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir wyse en verstandiges verberg het en dit aan kindertjies geopenbaar het. Net so, Vader, want so het dit goed gelyk in u oë. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun, en aan wie die Seun hom ook al wil openbaar. Kom na My toe, almal wat vermoeid en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My; want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele. Want my juk is sag, en my las is lig.

MATTEUS 11:7-30 Die Boodskap (DB)

Johannes se volgelinge is toe daar weg. Intussen het Jesus egter met die groep mense om Hom verder oor Johannes gesels. “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? ’n Opportunis wat niks beteken nie? Nee! Of dalk ’n ryk man in ’n duur pak klere? Ag nee, julle weet mos sulke mense bly nie in die woestyn nie, maar sit gemaklik in groot huise. Ek vra weer, wat het julle verwag om te sien? As julle ’n boodskapper van God verwag het, is julle heeltemal reg. Johannes is regtig so ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die belangrikste profeet wat daar ooit was. Die woorde van Maleagi is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om almal te vertel dat jy kom; so sal hy alles en almal voorberei om dit vir jou makliker te maak.’ “Laat Ek verduidelik: in die geskiedenis was daar nie ’n belangriker man as Johannes nie. Tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei, belangriker as hy. Van die dag dat Johannes begin preek het tot nou toe het die onkeerbare krag van God se nuwe wêreld al keer op keer oor die mense gespoel. Mense wat op en wakker is, gryp elke geleentheid aan om deel te word daarvan. As julle die moeite doen om die profete, asook die vyf boeke van Moses, goed te lees, sal julle agterkom dat dieselfde God wat deur julle Bybel praat, ook deur Johannes praat. Luister mooi: Johannes is die Elia vir wie julle wag om julle aan die Messias voor te stel. Hoor julle wat Ek sê? “Laat Ek aan ’n voorbeeld dink om die mense mee te vergelyk wat so hardkoppig weier om dit te glo. Wel, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel musiek, maar dit is julle wat nie wil dans nie. Ons sing liedjies, maar julle sit daar soos ’n klomp lyke asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie kinders is met niks en niemand tevrede nie. Kyk net wat doen hulle: Johannes het nie in die woestyn lekker kos geëet nie. En wat sê daardie mense toe? Hulle sê hy is van sy sinne beroof. “Daarna kom Ek toe onder skoot. Ek het mos lekker saam met my vriende geëet. Ook dit was nie goed nie. Oor My het hulle weer die volgende kwytgeraak: ‘Het julle gesien hoe baie eet hy? Skande, dat iemand hom darem so te buite kan gaan! En wat nog erger is, hy doen dit saam met daardie skurke wat ons wet so minag.’ “Ja-nee, al wat hierdie mense kan doen, is kritiseer. Maar hoe voel God daaroor? Wel, God kyk na die gevolge van wat iemand doen. Dan besluit Hy of dít wat daardie persoon doen, goed of sleg is.” Iets anders het Jesus ook gepla. In sekere dorpe het Hy baie gepreek en ook baie wonderlike dinge daar gedoen. Eintlik kon die mense nie oor sy wonderkrag twyfel nie. Ten spyte van dit alles het hulle bloot hulle skouers opgetrek en aangegaan asof niks gebeur het nie. Dit het Jesus ontstel: “Gorasin, Betsaida, julle is soos mense wat met die volgende tree by ’n vernietigende afgrond gaan afstort en julle gee nie eens om nie. Weet julle, as die ongodsdienstige mense van Tirus en Sidon die wonders kon sien wat julle gesien het, was hulle binne sekondes op hulle knieë voor My. Maar toemaar, die finale oordeel van God is op pad. “Daardie dorpe sal lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref. “Mense van Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle spesiale plekke in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering! Julle plekke is eerder in die warm plek bespreek. Julle onthou mos nog hoe daardie sondige stad Sodom deur God vernietig is? Wel, sê nou Ek kon in Sodom gepreek en die wonders gedoen het wat Ek by julle gedoen het. Weet julle, hulle sou hulle lewe so vinnig verander het dat dit glad nie meer vir God nodig sou gewees het om een van hulle te straf nie. Wees gewaarsku! God se oordeel was nie naastenby so erg oor hulle as wat dit oor julle gaan wees nie.” Jesus maak toe sy oë toe en begin bid. “Baie dankie, Vader, U wat oor die hemel en die aarde heers, dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles nie u boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde redenasies laat net hulle eie koppe draai. Uiteindelik begryp hulle minder van u boodskap as die kindertjies. Dankie, Vader, dat U besluit het om so duidelik en eenvoudig met ons te praat. Amen.” Na die gebed gesels Jesus toe verder met die mense: “My Vader het My gevra om al hierdie dinge op die aarde te kom doen. Hy het ook vir My alles gegee wat Ek nodig het om dit wel te kan doen. Ek en my Vader het geen geheime vir mekaar nie. Ons ken mekaar deur en deur. Niemand ken Ons soos Ons mekaar ken nie. Wil julle die Vader so leer ken? Ek kan julle aan Hom voorstel. “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. “Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. “Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.”

MATTEUS 11:7-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie? Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie. Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet. Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou gereedmaak.’ “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy! Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie. Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd. As julle bereid is om te aanvaar wat Ek vir julle sê – hý is die Elia wat sou kom. Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê! “Waarmee sal Ek vandag se mense vergelyk? Hulle is soos kinders wat op die dorpsplein speel en mekaar verwyt deur te sê: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het vir julle ’n begrafnislied gesing, maar julle het geweier om te huil.’ “Want Johannes het soos ’n askeet gelewe – hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie. Toe het julle gesê: ‘Hy is van ’n bose gees besete.’ Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink wyn – en julle sê: ‘Hy’s ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van die slegste soort sondaars.’ Ja, die toets vir die wysheid is die resultate wat dit voortbring.” Jesus het die dorpe waar die meeste van sy wonderdade plaasgevind het, ernstig aangespreek omdat hulle hulle nie bekeer het nie: “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! Want as in die nie-Joodse stede Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal sakke aangetrek en as op hulle koppe uitgegooi het om te wys dat hulle tot inkeer gekom het. Ek verseker julle dat dit vir Tirus en Sidon makliker sal wees op die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapernaum, jy dink tog seker nie jy sal hemelhoog verhoog word nie? Die realiteit is dat jy in die doderyk sal beland. “Want as in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit tot vandag toe bly voortbestaan het. Ek verseker jou, dit sal vir die land Sodom makliker wees op die oordeelsdag as vir jou.” Toe het Jesus hierdie gebed gebid: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het. Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen! “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak. “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry. Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”