MATTEUS 1:18-24
MATTEUS 1:18-24 Bybel vir almal (ABA)
Dit is wat gebeur het voordat Jesus Christus gebore is: Sy ma, Maria, was verloof aan Josef. Hulle was nog nie getroud nie en hulle het nog nie saam geslaap nie, maar Maria het swanger geword. Dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Josef, Maria se verloofde, was 'n goeie man. Hy was gehoorsaam aan die Wette van Moses en hy wou nie haar naam sleg maak by die mense nie. Daarom het hy besluit om sy verlowing met Maria te breek, maar hy wou dit vir niemand sê nie. Terwyl Josef hieroor gedink het, het daar 'n engel van die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy wat van die nageslag van Dawid is, jy moenie bang wees om met Maria te trou nie. Sy verwag 'n baba, maar dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het. Sy sal 'n seun kry, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het gesê: “ Die maagd sal swanger word en sy sal 'n seun kry. Hulle sal Hom Immanuel noem.” Immanuel beteken “ God is by ons.” Nadat Josef wakker geword het, het hy gedoen wat die engel van die Here vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou.
MATTEUS 1:18-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei. Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem
MATTEUS 1:18-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal 'n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou.
MATTEUS 1:18-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die geboorte van Jesus Christus het só gebeur. Toe Maria, sy moeder, reeds aan Josef verloof was, maar nog voordat hulle gemeenskap gehad het, het dit geblyk dat sy swanger geraak het uit die Heilige Gees. Omdat Josef, haar man, wetsgetrou was maar haar nie in die openbaar wou verneder nie, het hy besluit om in die geheim van haar te skei. Terwyl hy daaroor nagedink het, het daar skielik 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. ” Dit het alles gebeur sodat wat die Here deur die profeet gesê het, vervul kon word: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem” – wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’ Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en haar as sy vrou by hom geneem.
MATTEUS 1:18-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die geboorte van Jesus Christus was so: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle bymekaar gekom het, is sy swanger gevind van die Heilige Gees. Toe was haar man Josef, wat 'n regverdige man was en nie bereid was om haar 'n openbare voorbeeld te stel nie, van plan om haar in die geheim weg te sit. Maar terwyl hy oor hierdie dinge nadink, verskyn die engel van die Here aan hom in 'n droom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om jou vrou Maria vir jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees. En sy sal 'n seun baar, en jy moet hom JESUS noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word wat van die Here gespreek is deur die profeet deur te sê: Kyk, 'n maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal hom Emmanuel noem, wat vertaal word: God met ons. Toe Josef uit die slaap opgewek is, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou na hom geneem.
MATTEUS 1:18-24 Die Boodskap (DB)
Nou kom ons by die verhaal van Jesus Christus se geboorte. Dit het so gebeur: Daar was ’n vrou met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef. Op ’n dag het hy uitgevind Maria verwag ’n kind. Josef was baie omgekrap hieroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind was nie. Natuurlik was dit die Heilige Gees wat Maria laat verwag het, maar Josef het dit toe nog nie geweet nie. Omdat Josef die wette van Moses goed geken het, het hy geweet dat dit ’n groot skande vir ’n ongetroude vrou was om ’n baba te verwag. Hy wou Maria nie verneder deur die verlowing in die openbaar te verbreek nie. Daarom het hy besluit om stilweg die verlowing te verbreek voordat almal van Maria se swangerskap te hore kom. Terwyl Josef besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag ’n droom gehad. ’n Engel van die Here het vir hom kom sê: “Trou met Maria. En moenie bekommerd wees nie. Dit is die Heilige Gees wat haar laat verwag het. Sy gaan een van die dae ’n Seun hê. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal sy volk binnekort van al hulle sondes vrymaak.” So het die woorde waar geword wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: “’n Jongmeisie wat nog nie by ’n man geslaap het nie, gaan binnekort geboorte aan ’n seun gee. Hulle sal hom Immanuel noem.” (As ’n mens hierdie Hebreeuse naam vertaal, beteken dit: God is hier by ons.) Toe Josef wakker word, het hy presies gedoen wat die engel vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou.
MATTEUS 1:18-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is hoe Jesus Christus gebore is: Maria, sy ma, was verloof aan Josef. Nog voor hulle getroud is en hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy verwagtend was deur die Heilige Gees. Josef, haar verloofde, was in ’n dilemma. Aan die een kant was hy ’n wetsgehoorsame man; aan die ander kant wou hy haar die openbare skande spaar. Daarom het hy hom voorgeneem om die verlowing privaat te verbreek. Met hierdie dinge in gedagte het hy aan die slaap geraak. Daarop verskyn ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: “Moenie huiwer om voort te gaan met jou huwelik met Maria nie. Die Kindjie wat sy dra, is verwek deur die Heilige Gees. Sy sal aan ’n Seun geboorte gee, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.” Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur die profeet te laat uitkom: “Die maagd sal swanger word! Sy sal aan ’n Seun geboorte gee. En die mense sal Hom Immanuel noem.” (Hierdie naam beteken: God is by ons.) Toe Josef wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het. Hy het Maria as sy vrou by hom in die huis geneem