MALEAGI 3:1-10
MALEAGI 3:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal iemand stuur om vir julle 'n boodskap te bring. Hy sal vir My die pad gereedmaak. Julle soek die Here, en Hy sal gou na sy tempel kom. Julle wag vir die Engel wat 'n verbond gemaak het met julle. Dit is Ek, en Ek sal nou kom.” Maar wanneer die Here kom, dan sal niemand kan aanhou lewe nie. Hy is soos die vuur waarin hulle die klip smelt om goud en silwer te kry. Hy is soos die seep wat klere skoonmaak. Die Here sal die Leviete straf oor hulle sonde en Hy sal hulle skoonmaak soos iemand wat goud of silwer smelt en dit skoonmaak. Die Here sal vir hulle leer om vir Hom offers te bring soos Hy dit wil hê. Dan sal die Here weer hou van die offers van die mense van Juda en Jerusalem, soos voorheen, soos jare gelede. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal na julle toe kom om te sê wie is reg en wie is verkeerd. Ek sal die mense straf wat My nie eer nie. Hulle is mense wat toor, mense wat egbreuk pleeg, mense wat belowe maar wat nie wil doen wat hulle belowe nie, mense wat hulle werkers en weduwees en weeskinders verdruk, mense wat nie reg doen aan mense uit ander lande wat by hulle woon nie, mense wat My nie eer nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer. “Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het Ek julle nie almal doodgemaak nie, julle Israeliete wat die nageslag van Jakob is. Van die tyd toe julle voorvaders gelewe het, was julle nie gehoorsaam nie, julle het nie gedoen wat Ek vir julle gesê het nie.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Kom terug na My toe, dan sal Ek terugkom na julle toe. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkom?’ ” Die Here vra vir julle: “Mag 'n mens iets van God steel? Julle steel van My, maar julle vra: ‘Hoe het ons van U gesteel?’ Julle steel wanneer julle nie al die tiendes en die presente bring wat julle moet gee nie. Ek het opgehou om julle te seën, maar julle hou aan om van My te steel. Al die Israeliete doen dit.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet al julle tiendes na die tempel bring sodat daar kos in my tempel kan wees. Julle moet My toets en kyk of Ek julle sal seën. Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en vir julle baie reën gee, meer as genoeg.
MALEAGI 3:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KYK, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid 'n offer sal bring. Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd. En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare. Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie. Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer? Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort nie.
MALEAGI 3:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers. Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here 'n offer kan bring wat bestaan uit regdoen. Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby. Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige. Ek, die Here, het nie verander nie, daarom het julle nie te gronde gegaan nie, nageslag van Jakob. Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte afgewyk en nie daarvolgens geleef nie. Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe, sê die Here die Almagtige. Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?” Sal 'n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: “Waarvan beroof ons U?” Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds 'n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.
MALEAGI 3:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur en hy sal 'n pad voor My gereedmaak. Onverwags sal hy na sy •tempel kom, die heer na wie julle soek, die boodskapper van die verbond na wie julle uitsien. Kyk, hy gaan kom, ” sê die HERE, Heerser oor alle magte. Wie kan die dag van sy koms verduur, wie kan staande bly wanneer hy verskyn? Ja, daardie dag is soos die vuur van die smelter en soos die loog van wassers. Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer. Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer. Hulle sal aan die HERE behoort, en offers in geregtigheid bring. Dan sal Juda en Jerusalem se offers weer vir die HERE aangenaam wees, soos in die ou dae, soos in vroeër jare. “Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer 'n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat •vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Ek, die HERE, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie. Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. “Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’ Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My! En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’ Van tiendes en •wydingsgeskenke! Daar rus 'n vloek op julle, maar vir My bly julle beroof, julle hele nasie. Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie.
MALEAGI 3:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, Ek stuur my boodskapper, en hy sal die weg voor my uit berei; en die HERE wat julle soek, sal skielik na sy tempel kom, die boodskapper van die verbond in wie julle behae het; kyk, Hy kom, spreek die HERE van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms uithou? en wie sal bestaan as Hy verskyn? want hy is soos 'n smelter se vuur en soos seep van volmakers. En hy moet sit as 'n smelter en reiniger van silwer, en hy moet die seuns van Levi reinig en hulle reinig soos goud en silwer, dat hulle aan die HERE 'n offer in geregtigheid kan bring. Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die vorige jare. En Ek sal tot jou nader kom vir die oordeel; en Ek sal 'n vinnige getuie wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die valse sweerers en teen die wat die huurling in sy loon verdruk, die weduwee en die wees, en wat die vreemdeling van sy regterkant afwyk en vrees My nie, spreek die HERE van die leërskare. Want Ek is die HERE, Ek verander nie; daarom is julle seuns van Jakob nie verteer nie. Selfs van die dae van julle vaders af het julle van my verordeninge af weggegaan en dit nie onderhou nie. Keer terug na My toe, en Ek sal na julle terugkeer, spreek die HERE van die leërskare. Maar julle het gesê: Waarin sal ons terugkeer? Sal 'n man God beroof? Tog het julle my beroof. Maar julle sê: Waarin het ons U beroof? In tiendes en offergawes. Vervloek is julle met 'n vloek, want julle het My beroof, ja, hierdie hele nasie. Bring al die tiendes na die skathuis, dat daar spys in my huis kan wees, en beproef My nou hiermee, spreek die HERE van die leërskare, as Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en vir julle 'n seën sal uitstort nie, dat daar sal nie genoeg plek hê om dit te ontvang nie.
MALEAGI 3:1-10 Die Boodskap (DB)
Ek is die Here wat altyd reg optree; daarom stuur Ek solank my boodskapper voor My uit om alles reg te kry vir dié dag wanneer Ek na julle toe kom om hieroor met julle te praat. En as alles reg is, kom Ek gouer as wat julle kan dink om in die tempel hierdie saak met julle uit te maak. Ek weet julle is opgewonde oor die dag waarop my boodskapper julle sal kom besoek en met julle oor my ooreenkoms met julle gaan praat. En ja, dié dag is vinniger op pad as wat julle dink. Ek is net nie so seker dat julle weet wat op julle wag nie. Want wanneer dié dag kom, gaan dit ’n verskriklike dag wees. Hy sal julle laat dink aan ’n witwarm vuuroond waarin hulle yster smelt of aan die sterkste seep waarmee jy baie vuil klere moet was. Iemand wat silwer smelt, weet daar is vuilgoed in die silwer. As hy dit warm genoeg maak, dryf die vuilgoed naderhand bo-op. Al wat hy dan hoef te doen om die silwer skoon te kry, is om die vuilgoed af te skep en weg te gooi. Dit is wat hy met die priesters gaan kom doen. Hy gaan die verkeerde goed wat hulle doen, skoonmaak sodat hulle weer die regte soort offers vir die Here kan bring. Dan sal die Here weer die mense van Juda en Jerusalem se offers aanvaar soos Hy dit voorheen gedoen het. Ek gaan na julle toe kom soos ’n regter wat moet uitspraak lewer en ’n getuie wat nie bang is om die waarheid te praat nie, sê die Here wat reg doen. Die mense wat Ek gaan aankla, is: mense wat hulle met slegte dinge besig hou en almal bangmaak met hulle sondes; mense wat hulle eie huwelik en dié van ander opbreek omdat hulle ontrou is; mense wat leuens vertel; oneerlike werkgewers wat nie die mense wat vir hulle werk, betaal wat hulle werd is nie; mense wat misbruik maak van ander wat nie vir hulleself kan sorg nie, soos weduwees en kinders wat nie ouers het om na hulle te kyk nie; mense wat voordeel trek uit ander mense wat vreemd is in hulle dorp en nie weet hoe alles werk nie; en almal wat nie respek het vir My as die Here wat altyd reg doen nie. Ek is die Here. Daarom het Ek nog nooit verander soos julle beweer nie. Maar julle het ook nog nooit verander nie. Julle bly nog steeds Jakob se kinders wat net soos hy altyd loop en bedrieg. Ten spyte daarvan het Ek julle nog nooit aan julleself oorgelaat nie. Julle is net soos julle voorouers. Hulle het ook die rug vir My gedraai en nie gedoen wat Ek van hulle gevra het nie. Wil julle nie omdraai en weer terugkom na My toe nie? Ek wil graag weer my hande na julle toe uitsteek en julle terugvat. Maar nou vra julle: “Hoekom moet ons terugkom as ons nog nooit weg was nie?” Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg? Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel. Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë.
MALEAGI 3:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE, die Almagtige, sê: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die pad voor My gereedmaak. Die Here na wie julle soek, sal skielik na sy tempel toe kom. Die boodskapper van die verbond na wie julle so uitsien, kom beslis. Maar wie sal die dag van sy koms kan deurstaan? Wie sal kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy sal wees soos vuur wat metaal suiwer of soos seep wat klere spierwit was. Hy sal gaan sit en oordeel soos iemand wat silwer smelt en suiwer maak. Hy sal die Leviete suiwer en hulle soos goud en silwer louter. Dan sal hulle weer vir die HERE aanvaarbare offers bring. Dan sal die HERE weer offers aanvaar van Juda en Jerusalem se mense, soos vroeër.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Ek kom om julle te oordeel. Ek sal dadelik gereed wees om teen die towenaars, egbrekers en leuenaars te getuig. Ek sal getuig teen mense wat hulle werkers met lone bedrieg en weduwees en weeskinders onderdruk. Verder sal Ek ook getuig teen hulle wat vreemdelinge tussen julle laat swaarkry en teen hulle wat My nie respekteer nie.” HERE “Ek is die HERE, Ek verander nie. Daarom, nageslag van Israel, is julle nie heeltemal uitgewis nie. Van die tyd van julle voorouers af het julle afgewyk van my voorskrifte en hulle nie gehoorsaam nie.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Keer terug na My toe en Ek sal na julle toe terugkeer. Maar julle vra: ‘Hoe moet ons terugkeer?’ “Sal mense God ooit besteel? Tog het julle My bedrieg! Julle vra: ‘Wat bedoel U? Wanneer het ons U ooit bedrieg?’ Julle het die tiendes en offerandes gesteel! Daar rus ’n vloek op julle, want julle hele volk besteel My.” Die HERE, die Almagtige, sê: “Bring al die tiendes na die stoorkamers sodat daar genoeg kos in my tempel kan wees. Toets My hierin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak nie. Ek sal voorspoed op julle laat reën wat meer as genoeg vir julle sal wees!”