LUKAS 9:49-62

LUKAS 9:49-62 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.” Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was. Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys. Daarna het hulle die reis voortgesit na 'n ander dorp toe. Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg waar U ook al gaan.” Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.” Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe.” Toe sê Jesus vir hom: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God.” Nog een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

LUKAS 9:49-62 Die Boodskap (DB)

Terwyl Jesus nog besig was om te praat sê Johannes, een van sy dissipels, vir Hom: “Here, party mense wat ons nie eens ken nie dryf deesdae al duiwels in u Naam uit. Ons het nou die dag op so iemand afgekom wat besig was om ’n duiwel in u Naam uit te dryf. Ons het hom dadelik verbied om dit te doen. Want hy is nie ’n volgeling van U nie.” “Moenie hom keer om dit te doen nie,” het Jesus dadelik geantwoord. “Want mense wat sulke dinge doen, is tog nie julle vyande nie. Hulle staan ten minste nie aan die duiwel se kant nie.” Jesus se taak om God se nuwe wêreld bekend te maak het nou stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Hy moes binnekort na sy hemelse woonplek toe terugkeer. Maar eers moes Hy na Jerusalem toe gaan. Jesus het toe ’n paar van sy volgelinge vooruitgestuur om te sorg dat Hy oral langs die pad ’n plek het om oor te bly. Jesus se volgelinge het in ’n dorp in die gebied van die Samaritane aangekom om vir Jesus kos en slaapplek te reël. Maar toe die inwoners hoor dat Hy op pad was Jerusalem toe, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Die Samaritane en die Israeliete het immers glad nie met mekaar oor die weg gekom nie. Toe Jesus in dié Samaritaanse dorp aankom, het sy volgelinge vir Hom kom sê dat Hy nie daar welkom was nie. Jakobus en Johannes was op die plek woedend. “Here, sê net die woord, dan vra ons vir God om vuur uit die hemel te stuur om al hierdie mense te verbrand.” “Wat? Hoekom wil julle so iets verskrikliks doen?” het Jesus vir hulle gesê. “Kom ons gee liewer pad. In ’n ander dorp sal ons wel ’n plek kry.” Langs die pad het iemand vir Jesus gesê: “Here, ek is bereid om u volgeling te wees. Maak nie saak waar U gaan nie, ek sal by U bly.” Toe sê Jesus vir hom: “Jy moet baie mooi dink wat jy sê, want Ek wat die Seun van die mens is, kan nie eens vanaand vir jou ’n ordentlike slaapplek aanbied nie. Selfs die voëls en die jakkalse in die veld is beter daaraan toe as Ek. Hulle het ten minste ’n blyplek van hulle eie.” Jesus draai toe na een van die ander mense wat ook saam met Hom gestap het en sê vir hom: “Volg My!” Die man antwoord vinnig: “Ek doen dit graag, maar ek moet net eers gou my pa gaan begrawe.” Maar Jesus was nie tevrede nie. “Los die dooies uit. Hulle het hulle kans gehad. Daar is in elk geval genoeg ander mense wat vinnig op pad is na die doderyk toe wat sal sorg dat jou pa begrawe word. Ek stuur jou nou na mense toe wat nog lewe. Gaan sê vir hulle God se nuwe wêreld is hier.” Iemand anders wat gehoor het wat Jesus alles sê, sê toe vir Hom: “Here, U hoef my nie te vra om U te volg nie. Ek bied sommer self aan om u volgeling te word. Ek wil net gou my familie gaan groet en hulle in kennis stel van my besluit.” Toe sê Jesus vir hom: “Daar’s nie nog tyd oor om jou familie te gaan groet nie. Los dit. Nou moet jy saam met My stap. As jy een van my volgelinge wil wees, moet jy al die ander dinge in jou lewe tweede stel, ook jou familie en vriende. Anders is daar nie vir jou plek in God se nuwe wêreld nie.”

LUKAS 9:49-62 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf. Ons wou hom keer omdat hy nie deel van ons groep is nie.” Maar Jesus het geantwoord: “Los hom. Enigiemand wat nie teen julle is nie, is vir julle.” Toe die tyd naderkom vir Jesus se terugkeer hemel toe, het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin. Hy het boodskappers vooruit gestuur na ’n Samaritaanse dorpie om vir sy koms gereed te maak. Maar die mense van die dorpie wou niks met Jesus te doen hê nie omdat Hy van plan was om Jerusalem toe te gaan. Toe Jakobus en Johannes dit hoor, het hulle vir Jesus gesê: “Here, moet ons vuur uit die hemel laat kom om hulle te verbrand?” Maar Jesus het omgedraai en hulle tereggewys. Hulle het toe na ’n ander dorpie toe gegaan. Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal U volg, maak nie saak waar U gaan nie.” Maar Jesus het geantwoord: “Jakkalse het gate om in te bly, en voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het nie eers ’n plek om my kop neer te lê nie.” Hy het vir ’n ander persoon gesê: “Kom, wees my dissipel.” Die man het ingestem, maar gesê: “Here, laat ek net eers huis toe gaan en my pa begrawe.” Jesus het geantwoord: “Laat dié wat geestelik dood is, omsien na hulle eie dooies. Jou plig is om die begin van die koningsheerskappy van God te gaan verkondig.” ’n Ander een het gesê: “Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil eers my familie gaan groet.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Enigiemand wat die hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”

LUKAS 9:49-62 Bybel vir almal (ABA)

Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.” Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.” Dit was amper Jesus se tyd om na die hemel te gaan. Hy het besluit om na Jerusalem te gaan. Hy het boodskappers gestuur en hulle het by 'n Samaritaanse dorpie gekom en vir die mense gevra hulle moet vir Jesus slaapplek en kos gereedmaak. Maar die mense wou nie vir Jesus daar hê nie, omdat Hy na Jerusalem wou gaan. Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het dit gesien, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, wil U hê ons moet bid dat vuur uit die hemel kom en hierdie mense verbrand?” Maar Jesus het omgedraai en met Jakobus en Johannes geraas. Jesus en sy dissipels het toe na 'n ander dorpie gegaan. Toe Jesus en sy dissipels besig was om na Jerusalem te gaan, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls het neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie 'n plek waar Ek kan woon nie.” Jesus het vir iemand anders gesê: “Kom saam met My.” Maar die man het gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, maar ek moet eers wag tot my pa dood is sodat ek hom kan begrawe.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het. Jy moet vir die mense gaan vertel God is Koning.” Iemand anders het ook vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, maar ek wil asseblief eers vir my familie gaan totsiens sê.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Iemand wat begin ploeg en aanhou om agtertoe te kyk, is nie gereed om vir God te werk nie, God wat Koning is.”

LUKAS 9:49-62 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons. EN toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis, en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak. En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het? Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie; want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red. En hulle het na 'n ander dorp vertrek. EN terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En Hy sê aan 'n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. En 'n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

LUKAS 9:49-62 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hierop het Johannes gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle. ” Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by 'n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? ” Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys. Hulle het toe na 'n ander dorpie gegaan. Terwyl hulle op pad was, het iemand vir Hom gesê: “Ek sal U volg, waar U ook al gaan.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die •Seun van die Mens het geen plek waar Hy sy kop kan neerlê nie.” Vir 'n ander een het Hy gesê: “Volg My!” Maar hy het geantwoord: “Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe.” En Jesus het vir hom gesê: “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar jy, gaan verkondig jy die •koninkryk van God.” Nog 'n ander een het gesê: “Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om net eers van my huismense afskeid te neem. ” En Jesus het vir hom gesê: “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en dan omkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”

LUKAS 9:49-62 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Johannes antwoord en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf; en ons het hom verbied, omdat hy nie met ons volg nie. En Jesus sê vir hom: Verbied hom nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons. En dit het gebeur, toe die tyd aangebreek het dat hy opgeneem sou word, het hy vasberade sy aangesig gerig om na Jerusalem te gaan, En hulle het boodskappers voor sy aangesig gestuur, en hulle het gegaan en in 'n dorpie van die Samaritane ingegaan om vir hom gereed te maak. En hulle het hom nie ontvang nie, want sy aangesig was asof hy na Jerusalem sou gaan. En toe sy dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: Here, wil U dat ons beveel dat vuur uit die hemel neerdaal en hulle verteer, net soos Elia gedoen het? Maar hy het omgedraai en hulle bestraf en gesê: Julle weet nie van watter soort gees julle is nie. Want die Seun van die mens het nie gekom om mense se lewens te vernietig nie, maar om hulle te red. En hulle het na 'n ander dorp gegaan. En terwyl hulle op die pad gegaan het, het 'n sekere man vir Hom gesê: Here, ek sal U volg waar U ook al gaan. En Jesus sê vir hom: Jakkalse het gate en voëls van die hemel neste; maar die Seun van die mens het geen plek om sy hoof neer te lê nie. En hy sê vir 'n ander: Volg My. Maar hy sê: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul dooies begrawe, maar gaan heen en verkondig die koninkryk van God. En 'n ander het ook gesê: Here, ek sal U volg; maar laat ek hulle eers gaan groet, wat tuis by my huis is. En Jesus sê vir hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en terugkyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.