LUKAS 9:46-48
LUKAS 9:46-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”
LUKAS 9:46-48 Bybel vir almal (ABA)
Die dissipels het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy neem toe 'n kindjie en Hy laat die kindjie by Hom staan. Jesus het vir die dissipels gesê: “Wanneer iemand vir hierdie kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom. Die een wat die minste belangrik is van julle almal, hy is die belangrikste by God.”
LUKAS 9:46-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar het 'n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was. En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy 'n kindjie en laat dié by Hom staan en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.
LUKAS 9:46-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Argument het onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet wat hulle in hulle harte dink, en trek toe 'n kindjie nader en laat hom langs Hom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My. En wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Die geringste onder julle almal, hý is die belangrikste.”
LUKAS 9:46-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het daar 'n redenasie onder hulle ontstaan, wie van hulle die grootste sou wees. En toe Jesus die gedagte van hulle hart bemerk, neem Hy 'n kind en sit hom by hom. En hy sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want hy wat die minste onder julle almal is, hy sal groot wees.
LUKAS 9:46-48 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur. “Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.”
LUKAS 9:46-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het daar ’n argument onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste sou wees. Maar Jesus het hulle gedagtes geken. Daarom het Hy ’n klein kindjie langs Hom laat staan. Toe sê Hy vir hulle: “Enigiemand wat ’n klein kindjie soos hierdie namens My ontvang, ontvang My, en enigiemand wat My ontvang, ontvang my Vader wat My gestuur het. Wie die geringste onder julle is, hy is die belangrikste.”