LUKAS 9:28-55
LUKAS 9:28-55 Bybel vir almal (ABA)
Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen 'n berg opgegaan om daar te bid. Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink. Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia, en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat 'n paar dae later in Jerusalem sou sterf. Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos 'n koning gelyk. Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie besef wat hy sê nie. Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar 'n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom. Die dissipels het gehoor God praat uit die wolk. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek gekies het. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe God klaar gepraat het, het die drie dissipels net vir Jesus daar gesien. Die dissipels het stilgebly, en terwyl Jesus by hulle op die aarde was, het hulle vir niemand vertel van die dinge wat hulle gesien het nie. Die volgende dag het Jesus en die drie dissipels afgekom van die berg. Baie mense het na Hom toe gekom. Een van die mense het hard gepraat en gesê: “Meneer, ek soebat U, help asseblief my seun. Hy is my enigste seun. Daar is 'n onrein gees wat my seun aanval, dan begin my seun dadelik skree. Die gees laat hom ruk en skop, en skuim kom by sy mond uit. Die gees los my seun amper nooit nie, en hy is besig om my seun dood te maak. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Toe sê Jesus: “Julle glo nie en julle is sleg! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring jou seun hiernatoe.” Toe die seun nader kom, het die duiwel hom op die grond laat val en hom laat ruk en skop. Jesus het hard met die onrein gees gepraat en Hy het hom uit die seun gejaag. Jesus het die seun gesond gemaak en hom vir sy pa teruggegee. Al die mense was verbaas omdat God so sterk is en dit alles kan doen. Al die mense was verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek vir julle sê. Die tyd is nou naby wanneer God vir My, die Seun van die mens, vir die mense sal gee sodat hulle My kan doodmaak.” Maar die dissipels het nie verstaan wat Jesus gesê het nie. God het nog nie vir hulle gewys wat hierdie woorde beteken nie, en hulle kon dit nie verstaan nie. Hulle was te bang om vir Jesus te vra wat hierdie woorde beteken. Die dissipels het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy neem toe 'n kindjie en Hy laat die kindjie by Hom staan. Jesus het vir die dissipels gesê: “Wanneer iemand vir hierdie kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom. Die een wat die minste belangrik is van julle almal, hy is die belangrikste by God.” Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.” Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.” Dit was amper Jesus se tyd om na die hemel te gaan. Hy het besluit om na Jerusalem te gaan. Hy het boodskappers gestuur en hulle het by 'n Samaritaanse dorpie gekom en vir die mense gevra hulle moet vir Jesus slaapplek en kos gereedmaak. Maar die mense wou nie vir Jesus daar hê nie, omdat Hy na Jerusalem wou gaan. Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het dit gesien, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, wil U hê ons moet bid dat vuur uit die hemel kom en hierdie mense verbrand?” Maar Jesus het omgedraai en met Jakobus en Johannes geraas.
LUKAS 9:28-55 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere skitterend wit. En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring. En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir Elía — hy het nie geweet wat hy sê nie. Maar toe hy dit sê, kom daar 'n wolk en oordek hulle, en hulle het bang geword toe daardie manne in die wolk ingaan. En daar kom 'n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na Hom! En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie. EN op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom 'n groot skare Hom tegemoet. En daar roep 'n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my seun, want hy is my enigste. En kyk, 'n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom. En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie. Toe antwoord Jesus en sê: O Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier. En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee. En almal was verslae oor die majesteit van God. En toe almal verwonderd was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense. Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor hierdie woord. EN daar het 'n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was. En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy 'n kindjie en laat dié by Hom staan en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees. EN Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie. Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie, is vír ons. EN toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis, en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak. En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was. En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen het? Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige gees julle is nie
LUKAS 9:28-55 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid. Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Petrus en die ander het intussen vas aan die slaap geraak, en toe hulle wakker word, sien hulle die hemelse glans van Jesus en ook die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne aanstaltes maak om van Hom af weg te gaan, sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie geweet wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi sy skaduwee oor hulle, en toe die wolk hulle insluit, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom.” Toe die stem praat, merk hulle dat Jesus alleen daar is. Hulle het hieroor stilgebly en in daardie tyd vir niemand anders enigiets vertel van wat hulle gesien het nie. Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het 'n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. Meteens roep daar 'n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 'n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.” Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee. Almal was verslae oor die grootheid van God. Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.” Maar hulle het hierdie uitspraak nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle bedek sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Jesus daaroor uit te vra. Daar het 'n stryery onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet met watter gedagtes hulle besig was, en Hy trek 'n kindjie nader om langs Hom te kom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.” Toe sê Johannes: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdryf, en ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus sê vir hom: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vír julle.” Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur. Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël. Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was. Toe die twee dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” Maar Hy het omgedraai en hulle skerp tereggewys.
LUKAS 9:28-55 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy •Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid. En terwyl Hy besig was om te bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het helderwit geskitter. Skielik was daar twee manne wat met Hom gesprek voer. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring. Maar Petrus en die ander twee wat saam met hom was, is deur slaap oorval, en toe hulle wakker word, sien hulle sy glansende heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan. Toe die manne van Hom afskeid neem, sê Petrus vir Jesus: “Meester, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U en een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie besef wat hy sê nie. Terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en gooi 'n skaduwee oor hulle. En terwyl hulle in die wolk verdwyn, het die dissipels bang geword. Daar kom toe 'n stem uit die wolk wat sê: “Dit is my •Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.” Nadat die stem gepraat het, het hulle Jesus alleen aangetref. Hulle het stilgebly en vir niemand in daardie tyd vertel wat hulle gesien het nie. Nadat hulle die volgende dag van die berg afgekom het, het 'n groot skare mense Hom tegemoet gekom. En skielik het 'n man uit die skare hard uitgeroep: “Meester, ek smeek U, kom kyk asseblief na my seun, want hy is my enigste kind. Kyk, 'n gees pak hom gereeld beet en dan gaan hy skielik aan die skreeu. Hy gee hom stuiptrekkings met skuim om die mond, en verniel hom en wil hom beswaarlik los. Ek het u dissipels gesmeek om hom uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? Bring jou seun hier.” En terwyl die seun nader kom, laat die demoon hom val en stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die •onrein gees bestraf, en die kind gesond gemaak en hom aan sy vader teruggegee. Almal was verstom oor die grootheid van God. Terwyl almal nog verbaas was oor al die dinge wat Hy gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Luister goed na hierdie woorde: Die •Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word. ” Hulle het hierdie uitspraak egter nie verstaan nie. Die betekenis daarvan was vir hulle verborge, sodat hulle dit nie kon begryp nie, maar hulle was te bang om Hom oor hierdie uitspraak uit te vra. 'n Argument het onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het geweet wat hulle in hulle harte dink, en trek toe 'n kindjie nader en laat hom langs Hom staan. Toe sê Hy vir hulle: “Wie hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My. En wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Die geringste onder julle almal, hý is die belangrikste.” Hierop het Johannes gesê: “Meester, ons het iemand in u Naam demone sien uitdryf, en ons het hom probeer keer, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle. ” Toe die tyd vir Jesus se hemelvaart nader kom, was Hy vasberade om die reis na Jerusalem te onderneem. Hy het boodskappers voor Hom uitgestuur. En hulle het vertrek en by 'n Samaritaanse dorpie aangekom om daar vir Hom voorbereidings te tref. Maar die Samaritane het Hom nie ontvang nie, omdat Hy doelgerig na Jerusalem op pad was. Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: “Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? ” Maar Hy het omgedraai en hulle tereggewys.
LUKAS 9:28-55 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En omtrent agt dae ná hierdie woorde het hy Petrus en Johannes en Jakobus geneem en op die berg geklim om te bid. En terwyl hy gebid het, het die mode van sy gelaat verander, en sy klere was wit en glinsterend. En kyk, daar het twee manne met hom gespreek, dit was Moses en Elia. Wat in heerlikheid verskyn het en van sy dood gespreek het wat hy in Jerusalem sou volbring. Maar Petrus en die wat by hom was, was swaar van die slaap; en toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by hom gestaan het. En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat ons hier is, en laat ons drie hutte maak; een vir jou en een vir Moses en een vir Elía, sonder om te weet wat hy gesê het. Terwyl Hy so spreek, het daar 'n wolk gekom en hulle oorskadu; en hulle was bang toe hulle in die wolk ingaan. En daar het 'n stem uit die wolk gekom wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na hom. En toe die stem verby was, is Jesus alleen gevind. En hulle het dit naby gehou en aan niemand vertel in daardie dae van die dinge wat hulle gesien het nie. En dit het gebeur dat die volgende dag, toe hulle van die heuwel afgekom het, baie mense hom teëgekom het. En kyk, 'n man van die skare het uitgeroep en gesê: Meester, ek bid U, kyk na my seun, want hy is my enigste kind. En kyk, 'n gees gryp hom, en hy roep skielik uit; en dit verskeur hom dat hy weer skuim, en om hom te verbrysel, wyk skaars van hom af. En ek het u dissipels versoek om hom uit te dryf; en hulle kon nie. En Jesus antwoord en sê: O ongelowige en verkeerde geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hierheen. En terwyl Hy nog aan die kom was, het die duiwel hom neergewerp en hom getrap. En Jesus het die onreine gees bestraf en die kind gesond gemaak en hom aan sy vader oorgegee. En hulle was almal verbaas oor die magtige krag van God. Maar terwyl hulle almal verwonder het oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: Laat hierdie woorde in julle ore insink, want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van mense. Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle verborge, sodat hulle dit nie bespeur het nie; en hulle was bevrees om hom na hierdie woord te vra. Toe het daar 'n redenasie onder hulle ontstaan, wie van hulle die grootste sou wees. En toe Jesus die gedagte van hulle hart bemerk, neem Hy 'n kind en sit hom by hom. En hy sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want hy wat die minste onder julle almal is, hy sal groot wees. En Johannes antwoord en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf; en ons het hom verbied, omdat hy nie met ons volg nie. En Jesus sê vir hom: Verbied hom nie, want wie nie teen ons is nie, is vir ons. En dit het gebeur, toe die tyd aangebreek het dat hy opgeneem sou word, het hy vasberade sy aangesig gerig om na Jerusalem te gaan, En hulle het boodskappers voor sy aangesig gestuur, en hulle het gegaan en in 'n dorpie van die Samaritane ingegaan om vir hom gereed te maak. En hulle het hom nie ontvang nie, want sy aangesig was asof hy na Jerusalem sou gaan. En toe sy dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: Here, wil U dat ons beveel dat vuur uit die hemel neerdaal en hulle verteer, net soos Elia gedoen het? Maar hy het omgedraai en hulle bestraf en gesê: Julle weet nie van watter soort gees julle is nie.
LUKAS 9:28-56 Die Boodskap (DB)
Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid. Terwyl Hy gebid het, het sy voorkoms skielik verander. Jesus se klere het ook helderblink begin skitter. Twee mans het skielik aan Hom verskyn. Dit was Moses en Elia. Hulle was self met glans omring. Hulle het met Jesus gepraat oor alles wat op Hom in Jerusalem wag. Intussen was Petrus en die ander twee dissipels vas aan die slaap. Toe hulle wakker word, sien hulle dat Jesus omring is met ’n hemelse heerlikheid en ook hoe Moses en Elia met Hom praat. Terwyl die dissipels nog oorbluf na die toneel voor hulle staan en kyk, het Moses en Elia gereedgemaak om te vertrek. Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis goed dat ons ook hier is. Nou kan ons gou drie tente maak, een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Die arme Petrus het natuurlik nie ’n benul gehad wat hy sê nie. Petrus se woorde was skaars koud, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle almal. Die dissipels het baie bang geword toe hulle sien hoe die twee mans in die wolk instap. Skielik praat ’n stem uit die wolk. Dit was God self. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek uitgekies het om my werk hier op die aarde te kom doen. Luister na Hom.” Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie. Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag. ’n Man daar in die skare het skielik hard uitgeroep: “Goeie Leermeester, ek smeek U, help my seun, asseblief. Hy is my enigste kind. En hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.” Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.” Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.” Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee. Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê. Tussen al die opgewondenheid deur het Jesus vir sy dissipels gesê: “Onthou baie goed wat vandag hier gebeur het, want dit gaan nie altyd so maklik wees nie. Binnekort gaan die mense My vang en My soos ’n misdadiger behandel.” Die dissipels het egter nie verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie. Hulle was ook te bang om te vra wat Hy bedoel. Maar dit was in elk geval nog nie die regte tyd vir hulle om te weet wat alles op Hom wag nie. Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur. “Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat sê Johannes, een van sy dissipels, vir Hom: “Here, party mense wat ons nie eens ken nie dryf deesdae al duiwels in u Naam uit. Ons het nou die dag op so iemand afgekom wat besig was om ’n duiwel in u Naam uit te dryf. Ons het hom dadelik verbied om dit te doen. Want hy is nie ’n volgeling van U nie.” “Moenie hom keer om dit te doen nie,” het Jesus dadelik geantwoord. “Want mense wat sulke dinge doen, is tog nie julle vyande nie. Hulle staan ten minste nie aan die duiwel se kant nie.” Jesus se taak om God se nuwe wêreld bekend te maak het nou stadig maar seker einde se kant toe begin staan. Hy moes binnekort na sy hemelse woonplek toe terugkeer. Maar eers moes Hy na Jerusalem toe gaan. Jesus het toe ’n paar van sy volgelinge vooruitgestuur om te sorg dat Hy oral langs die pad ’n plek het om oor te bly. Jesus se volgelinge het in ’n dorp in die gebied van die Samaritane aangekom om vir Jesus kos en slaapplek te reël. Maar toe die inwoners hoor dat Hy op pad was Jerusalem toe, wou hulle niks met Hom te doen hê nie. Die Samaritane en die Israeliete het immers glad nie met mekaar oor die weg gekom nie. Toe Jesus in dié Samaritaanse dorp aankom, het sy volgelinge vir Hom kom sê dat Hy nie daar welkom was nie. Jakobus en Johannes was op die plek woedend. “Here, sê net die woord, dan vra ons vir God om vuur uit die hemel te stuur om al hierdie mense te verbrand.” “Wat? Hoekom wil julle so iets verskrikliks doen?” het Jesus vir hulle gesê. “Kom ons gee liewer pad. In ’n ander dorp sal ons wel ’n plek kry.”
LUKAS 9:28-55 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omtrent agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n berg toe saamgeneem om te gaan bid. En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword. Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat. Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf. Petrus en die ander was baie vaak en het aan die slaap geraak. Hulle het wakker geskrik en Jesus se hemelse glans gesien en die twee mans wat by Hom staan. Terwyl Moses en Elia aanstaltes begin maak om te vertrek, sê Petrus, sonder om te besef wat hy sê: “Here, dis wonderlik! Ons sal drie hutte bou – een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Maar terwyl hy nog praat, kom daar ’n wolk en omvou hulle, en vrees het hulle beetgepak toe Moses en Elia in die wolk ingaan. ’n Stem kom toe uit die wolk en sê: “Dit is my Seun, my Uitverkore Een. Luister na Hom.” Toe die stem weggesterf het, was Jesus alleen daar. Hulle het vir niemand vertel wat hulle gesien het voor lank daarna nie. Die volgende dag, nadat hulle van die berg afgekom het, het ’n groot skare mense Jesus tegemoetgegaan. ’n Man uit die skare het na Hom geroep: “Leermeester, kyk asseblief na my seun, hy is my enigste kind. ’n Onrein gees hou aan om hom te pak en dan skree hy skielik. Dit laat hom stuiptrekkings en skuim om die mond kry. Die gees verniel en beseer hom altyd. Dit laat hom omtrent nooit los nie. Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” “Julle ontaarde en ongelowige mense!” het Jesus gesê. “Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring hom hier.” Terwyl die seun vorentoe kom, het die gees hom platgeslaan en hom hewige stuiptrekkings laat kry. Maar Jesus het die onrein gees bestraf en die seun gesond gemaak. Toe het Hy hom aan sy pa teruggegee. Die mense was verslae toe hulle hierdie wonderbaarlike uiting van God se krag sien. Terwyl almal verbaas was oor al die wonderlike dinge wat Hy doen, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Luister na My en onthou wat Ek sê. Ek, die Seun van die Mens, gaan uitgelewer word aan die mag van mense.” Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie. Die belang van wat Hy gesê het, was vir hulle verborge. Daarom het hulle nie begryp nie en was huiwerig om Hom daaroor uit te vra. Toe het daar ’n argument onder hulle ontstaan oor wie van hulle die belangrikste sou wees. Maar Jesus het hulle gedagtes geken. Daarom het Hy ’n klein kindjie langs Hom laat staan. Toe sê Hy vir hulle: “Enigiemand wat ’n klein kindjie soos hierdie namens My ontvang, ontvang My, en enigiemand wat My ontvang, ontvang my Vader wat My gestuur het. Wie die geringste onder julle is, hy is die belangrikste.” Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf. Ons wou hom keer omdat hy nie deel van ons groep is nie.” Maar Jesus het geantwoord: “Los hom. Enigiemand wat nie teen julle is nie, is vir julle.” Toe die tyd naderkom vir Jesus se terugkeer hemel toe, het Hy vasbeslote die tog na Jerusalem begin. Hy het boodskappers vooruit gestuur na ’n Samaritaanse dorpie om vir sy koms gereed te maak. Maar die mense van die dorpie wou niks met Jesus te doen hê nie omdat Hy van plan was om Jerusalem toe te gaan. Toe Jakobus en Johannes dit hoor, het hulle vir Jesus gesê: “Here, moet ons vuur uit die hemel laat kom om hulle te verbrand?” Maar Jesus het omgedraai en hulle tereggewys.