LUKAS 9:23-25
LUKAS 9:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks.
LUKAS 9:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?
LUKAS 9:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou. “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?
LUKAS 9:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het?
LUKAS 9:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe ter wille van My verloor, hy sal dit red. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en homself verloor of verwerp word?
LUKAS 9:23-25 Die Boodskap (DB)
Later het Jesus vir die mense gesê: “Dit is baie moeilik om een van my volgelinge te wees. Om dit reg te kry moet jy jou eie belange tweede stel. Jy moet as’t ware jou doodsvonnis teken deur elke dag jou kruis op te tel en agter My aan te stap. As jy egter kies om vir jouself te leef, gaan jy op die ou end alles verloor. Maar as jy bereid is om alles prys te gee ter wille van My, sal jy vir altyd lewe. “As jy net vir jouself leef, kan jy dalk die hele wêreld aan jou voete hê. Maar wat help dit alles? Want uiteindelik beland jy in die hel. Dan het jy regtig alles verloor: vir altyd.
LUKAS 9:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen?