LUKAS 9:12-17
LUKAS 9:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die son begin sak, kom die twaalf na Hom toe en sê: “Stuur die mense weg dat hulle by die dorpe en plase in die omtrek slaapplek en kos kan gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” “Gee julle vir hulle iets om te eet,” sê Hy toe vir hulle. Maar hulle antwoord: “Ons het hier niks meer as vyf brode en twee visse nie. Of moet ons self vir hierdie klomp mense gaan kos koop?” Net die mans bymekaar was al omtrent vyf duisend. Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Laat die mense in groepe van sowat vyftig gaan sit om te eet.” Hulle het toe so gemaak en almal laat regsit. Daarna het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Toe breek Hy dit en gee dit vir die dissipels om aan die mense voor te sit. Almal het geëet en genoeg gekry. Wat oorgebly het, het hulle bymekaargemaak, twaalf mandjies vol.
LUKAS 9:12-17 Die Boodskap (DB)
Later die middag toe dit begin donker word, het die dissipels Jesus eenkant toe geroep en vir Hom gesê: “U moet asseblief nou klaar praat. Stuur die mense weg om vir hulle iewers in die omgewing ’n slaapplek en iets te ete te kry. Ons is hier tussen niks en nêrens. Hier is nie kos of blyplek vir hulle nie.” Toe sê Jesus vir sy dissipels: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” “Wat? Dis onmoontlik,” het hulle almal tegelyk geantwoord. “Ons het net vyf brode en twee visse vir ons en vir U saamgebring. Dis al! Ons sal iewers moet gaan kos koop vir hierdie groot skare.” Net die mans alleen in die skare was by die 5 000. “Laat die mense gou in groepe van 50 sit,” het Jesus gesê. Die dissipels het dadelik aan die werk gespring en die skare in groepe laat sit. Toe almal ’n sitplek gehad het, vat Jesus die vyf brode en die twee visse, sê vir God daarvoor dankie, spreek sy seën daaroor uit en begin dit in kleiner stukkies breek. Hy het dit aan die dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het genoeg te ete gekry. Op die ou end was daar te veel kos. Na die tyd is twaalf mandjies vol kos opgetel wat oorgebly het.
LUKAS 9:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.” Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.” “Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?” Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar. “Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord. Toe het al die mense gaan sit. Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee. Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel.
LUKAS 9:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Dit het laat geword, en die twaalf dissipels het na Jesus toe gekom en gesê: “Stuur die mense weg sodat hulle na die dorpies en plase hier naby kan gaan om slaapplek en kos te kry. Hier waar ons is, is niks kos nie.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Júlle moet vir hulle kos gee om te eet.” Die dissipels het gesê: “Ons het net vyf brode en twee visse. Ons kan nie vir al hierdie mense kos gee nie, ons sal moet gaan kos koop.” Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Sê vir die mense hulle moet in groepe van omtrent 50 bymekaar sit.” Die dissipels het dit gedoen en hulle het gesê al die mense moet sit. Toe het Jesus die vyf brode en twee visse geneem. Hy het opgekyk na die hemel en Hy het God geprys en dankie gesê vir die kos. Daarna het Hy die kos in stukke gebreek en Hy het dit vir die dissipels gegee. Die dissipels het dit vir die mense gegee. Almal het genoeg geëet. Toe die mense klaar geëet het, het die dissipels twaalf mandjies vol stukkies kos opgetel wat oorgebly het.
LUKAS 9:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in 'n verlate plek. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense. Want daar was omtrent vyfduisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit. En hulle het dit gedoen en almal laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit. En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
LUKAS 9:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit het al skemer begin raak. Toe het die twaalf nader gekom en vir Hom gesê: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” Hy sê toe vir hulle: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Maar hulle antwoord: “Ons het niks meer nie as net vyf brode en twee visse, tensy ons gaan kos koop vir al hierdie mense.” Daar was ongeveer vyfduisend mans. Hy sê toe vir sy dissipels: “Laat hulle gaan sit in groepe van ongeveer vyftig.” Hulle het so gemaak en almal laat sit. Hy het die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
LUKAS 9:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die dag begin aanbreek het, kom die twaalf en sê vir hom: Stuur die skare weg, dat hulle na die stede en omstreke kan gaan en vernag en voedsel kry; want ons is hier in 'n woestyn plek. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle om te eet. En hulle sê: Ons het net vyf brode en twee visse; behalwe dat ons vir al hierdie volk moet gaan vleis koop. Want hulle was omtrent vyfduisend man. En Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle vyftig in 'n geselskap sit. En hulle het so gedoen en hulle almal laat sit. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel, seën dit en breek dit en gee aan die dissipels om voor die skare voor te sit. En hulle het geëet en almal versadig geword, en van die brokstukke wat vir hulle oorgebly het, is twaalf mandjies opgetel.