LUKAS 7:23-34

LUKAS 7:23-34 Bybel vir almal (ABA)

En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.” Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets oor Johannes vertel. Jesus het gevra: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee, die mense wat mooi klere aantrek en blink goed het, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en hy sal die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, niemand is belangriker as Johannes nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar wanneer God Koning is, dan is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes.” Al die mense, ook die tollenaars, het gedink God oordeel reg oor hulle, en daarom het hulle gevra dat Johannes hulle moet doop. Maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes wou nie vir Johannes vra om hulle te doop nie, want hulle wou nie God se plan aanvaar nie, God se plan om hulle te red. Jesus het ook gesê: “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ En die ander kinders sê: ‘Ons het vir julle 'n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’ So doen die mense ook met Johannes die Doper en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie saam feesgevier nie. Toe sê julle: ‘Daar is 'n duiwel in hom.’ Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê julle: ‘Hy is 'n vraat en 'n dronklap. En Hy is ook 'n vriend van die tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’

LUKAS 7:23-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet! Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy. En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie. Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk? Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie. Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars.

LUKAS 7:23-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.” Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.” Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie. Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! “Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’

LUKAS 7:23-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.” Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan, “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie , en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.” Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie. “Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie huil nie!’ “Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, “en julle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “En die •Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, “en julle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van tollenaars en sondaars. ’

LUKAS 7:23-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En geseënd is hy elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie. En toe die boodskappers van Johannes vertrek het, het hy met die volk oor Johannes begin praat: Wat het julle in die woestyn uitgegaan om te sien? 'n Riet geskud deur die wind? Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Man geklee in sagte klere? Kyk, die wat pragtig geklee is en deftig lewe, is in die voorhowe van die konings. Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, en veel meer as 'n profeet. Dit is hy van wie geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou aangesig, wat jou weg voor jou sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen groter profeet as Johannes die Doper nie; maar die minste in die koninkryk van God is groter as hy. En die hele volk wat hom gehoor het, en die tollenaars, het God geregverdig deurdat hulle met die doop van Johannes gedoop is. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God teen hulleself verwerp, omdat hulle nie deur Hom gedoop is nie. En die Here het gesê: Waarmee sal Ek dan die manne van hierdie geslag vergelyk? en hoe is hulle? Hulle is soos kinders wat op die mark sit en die een na die ander roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het oor julle getreur, en julle het nie geween nie. Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie; en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en eet en drink; en julle sê: Daar is 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars!

LUKAS 7:23-34 Die Boodskap (DB)

“Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.” Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’ “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.” Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles. “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’ “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’

LUKAS 7:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’” Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word? Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie. Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet. Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit, en hy sal die pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!” Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word. “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk? Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het ’n begrafnislied gesing, maar julle het geweier om te huil.’ “Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van ’n bose gees besete.’ “En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’