LUKAS 7:11-17
LUKAS 7:11-17 Bybel vir almal (ABA)
Nie lank daarna nie het Jesus na die stad Nain gegaan. Sy dissipels en baie ander mense het saam met Hom gegaan. Toe Jesus naby die poort van die stad kom, sien Hy mense wat na 'n graf toe loop om iemand te begrawe. Dit was 'n weduwee se enigste seun wat gesterf het. Baie van die stad se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, was Hy baie jammer vir haar en Hy het vir haar gesê: “Jy moenie huil nie.” Jesus gaan toe nader en raak aan die kis waarin hulle die lyk van die jongman gedra het. Die manne wat die lyk gedra het, het gaan staan. Toe sê Jesus: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op.” Die jongman wat dood was, het regop gesit en hy het begin praat. So het Jesus die jongman teruggegee vir sy ma. Al die mense was verbaas en bang oor wat gebeur het. Hulle het God geprys en gesê: “'n Belangrike profeet het by ons gekom.” Hulle het ook gesê: “God het sy volk kom help.” Die mense in die hele provinsie Judea en die plekke daar naby het gehoor wat Jesus hier gedoen het.
LUKAS 7:11-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan. En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek. En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.
LUKAS 7:11-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan, en sy dissipels en 'n hele menigte mense is saam met Hom. Toe Hy naby die ingang van die dorp kom, word daar juis 'n dooie uitgedra om begrawe te word. Hy was die enigste seun van sy ma, en sy was 'n weduwee. Byna die hele dorp se mense was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy gaan toe nader en vat aan die baar. Die draers gaan staan toe, en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gaan sit en begin praat. En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Almal is met ontsag vervul en het God geprys deur te sê: “'n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” Die berig oor wat Hy gedoen het, het deur die hele Joodse land en die omliggende gebied versprei.
LUKAS 7:11-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kort daarna het Jesus na 'n dorp met die naam Nain gegaan. Sy dissipels en 'n groot skare het saam met Hom gereis. Hy het naby die poort van die dorp gekom. Juis toe word daar 'n dooie uitgedra – die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee. Daar was heelwat mense van die dorp saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” Hy het nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Toe sê Hy: “Jong man, Ek sê vir jou, staan op!” Die dooie het regop gesit en begin praat. En Jesus het hom aan sy moeder teruggegee. Vrees het almal beetgepak, en hulle het God geloof met die woorde “'n Groot profeet het onder ons opgestaan!” en “God het omgesien na sy volk!” Hierdie nuus oor Hom het deur die hele Judea en al die omliggende gebiede versprei.
LUKAS 7:11-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die dag daarna het hy in 'n stad gegaan met die naam van Nain; en baie van sy dissipels het saam met Hom gegaan, en baie mense. En toe hy naby die poort van die stad kom, word daar 'n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee, en baie mense van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer gevoel oor haar en vir haar gesê: Moenie huil nie. En hy het gekom en die baar aangeraak, en die wat hom gedra het, het stilgestaan. En hy sê: Jongman, ek sê vir jou: Staan op! En hy wat dood was, het regop gesit en begin praat. En hy het hom aan sy moeder oorgegee. En daar het 'n vrees oor almal gekom, en hulle het God verheerlik en gesê: Daar het 'n groot profeet onder ons opgestaan; en: Dat God sy volk besoek het. En hierdie gerug van hom het deur die hele Judéa en in die hele omtrek uitgegaan.
LUKAS 7:11-17 Die Boodskap (DB)
Die volgende dag het Jesus na ’n dorp toe gegaan met die naam Nain. ’n Groot klomp mense het saam met Hom soontoe gestap. Sy dissipels was ook by. Toe Jesus by die ingang van Nain kom, het hulle op ’n groot groep mense afgekom wat ’n dooie na die begraafplaas buitekant die dorp gedra het. Dit was die enigste seun van ’n weduwee. Baie mense van die dorp het ook opgedaag vir die begrafnis. Hulle was saam met die weduwee hartseer oor haar seun se dood. Toe die Here die weduwee sien, het Hy haar uit sy hart uit jammer gekry. Hy het vir haar gesê: “Moenie huil nie.” Voordat iemand iets kon sê, het Jesus na die draagbaar toe gestap en dit vasgegryp. Toe die verbaasde draers tot stilstand kom, sê Jesus vir die dooie: “Jongman, word lewendig. Ek sê vir jou: staan nou dadelik op!” Toe gebeur daar ’n groot wonderwerk. Reg voor almal het die seun lewendig geword. Hy het orent gekom en begin praat. Jesus het hom toe aan sy ma se sorg oorgelaat. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle hartseer het dadelik plek gemaak vir blydskap. Met groot ontsag het hulle God se Naam begin loof en prys. “God het ’n baie belangrike boodskapper na ons toe gestuur!” het hulle uitgeroep. Die nuus oor hierdie wonderwerk het soos ’n veldbrand deur die hele gebied versprei, selfs deur Judea.
LUKAS 7:11-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg. Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar. Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê. Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!” Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee. Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!” Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.