LUKAS 6:27-36
LUKAS 6:27-36 Bybel vir almal (ABA)
“Ek sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig. “As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee. “Jy moet vir elkeen gee wat vir jou iets vra. En as iemand jou goed vat, dan moet jy dit nie terugvra nie. “Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. As julle net lief is vir die mense wat lief is vir júlle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Want die sondaars is ook lief net vir die mense wat lief is vir húlle. “As julle goed doen net aan die mense wat goed doen aan julle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars doen dieselfde. “As julle net vir mense iets leen sodat julle later weer iets by hulle kan kry, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars leen ook vir mekaar sodat hulle weer iets kan terugkry. “Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is. Julle moet jammer wees vir ander mense, soos julle Vader jammer is vir almal.”
LUKAS 6:27-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.
LUKAS 6:27-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
LUKAS 6:27-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”
LUKAS 6:27-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Ek sê vir julle wat hoor: Julle moet julle vyande liefhê, doen goed aan die wat julle haat, Seën die wat jou vervloek, en bid vir die wat jou beledig. En aan hom wat jou op die een wang slaan, offer ook die ander; en hy wat jou mantel wegneem, moenie ook jou mantel wegneem nie. Gee aan elkeen wat van jou vra; en van hom wat jou goed wegneem, vra dit nie weer nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. Want as julle die liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? want sondaars het ook hulle lief wat hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? want sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan hulle van wie julle hoop om te ontvang, watter dank het julle? want sondaars leen ook aan sondaars om weer soveel te ontvang. Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om weer op niks te hoop nie; en julle loon sal groot wees, en julle sal kinders van die Allerhoogste wees, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.
LUKAS 6:27-36 Die Boodskap (DB)
“Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap. “As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.”
LUKAS 6:27-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan. Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie. Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit! En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook. En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry. “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”