LUKAS 6:27-35

LUKAS 6:27-35 Bybel vir almal (ABA)

“Ek sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig. “As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee. “Jy moet vir elkeen gee wat vir jou iets vra. En as iemand jou goed vat, dan moet jy dit nie terugvra nie. “Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. As julle net lief is vir die mense wat lief is vir júlle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Want die sondaars is ook lief net vir die mense wat lief is vir húlle. “As julle goed doen net aan die mense wat goed doen aan julle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars doen dieselfde. “As julle net vir mense iets leen sodat julle later weer iets by hulle kan kry, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars leen ook vir mekaar sodat hulle weer iets kan terugkry. “Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is.

LUKAS 6:27-35 Die Boodskap (DB)

“Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap. “As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste.

LUKAS 6:27-35

LUKAS 6:27-35 AFR83LUKAS 6:27-35 AFR83LUKAS 6:27-35 AFR83