LUKAS 6:12-49
LUKAS 6:12-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring. Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name: Simon (Hy het hom ook Petrus genoem), Andreas (Petrus se broer), Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus (seun van Alfeus), Simon (die Yweraar), Judas (seun van Jakobus), Judas Iskariot (wat Hom later uitgelewer het). Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf. Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees. Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God is júlle deel. Gelukkig is julle wat nou honger is, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want die tyd sal kom dat julle van blydskap sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle uitsluit en beledig en julle naam deur die modder sleep ter wille van My, die Seun van die Mens. “Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.” “Ellende wag op julle wat nou ryk is, want julle het julle enigste geluk reeds nou. Ellende wag op julle wat nou versadig en voorspoedig is, want vir julle kom daar ’n tyd van ontsettende hongersnood. Ellende wag op julle wat sorgeloos lag, want julle gelag sal in rou en treur verander. Ellende wag op julle wat deur die skares geprys word, want hulle voorvaders het ook die vals profete geprys.” “Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak. As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan. Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie. Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen. “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit! En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook. En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry. “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word. As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.” Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek. ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie? Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.” “’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. ’n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra. Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie. ’n Goeie mens bring goeie dade voort uit ’n goeie hart, en ’n slegte mens bring slegte dade voort uit ’n bose hart. Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.” “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie? “Ek sal aan julle verduidelik hoe dit is wanneer iemand na My toe kom, na my onderrig luister en My gehoorsaam. Dis soos ’n man wat ’n huis bou op ’n sterk fondament wat op ’n rotsbasis gelê is. Wanneer die vloedwater styg en die huis tref, staan dit stewig, want dit is goed gebou. Maar enigeen wat luister en nie gehoorsaam nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament bou. Wanneer die vloedwater teen daardie huis aanbruis, sal dit tot ’n puinhoop inmekaarstort.”
LUKAS 6:12-49 Bybel vir almal (ABA)
Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op 'n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see. Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak. Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak. Jesus kyk toe na sy dissipels en Hy sê vir hulle: Julle wat arm is, is gelukkige mense, want God is julle Koning. Julle wat nou honger is, is gelukkige mense, want God sal vir julle genoeg gee om te eet. Julle wat nou huil, is gelukkige mense, want julle sal lag. Julle is gelukkige mense wanneer die mense julle haat en wegjaag en beledig en slegte dinge van julle sê omdat julle aan My behoort, aan My, die Seun van die mens. Julle moet bly wees wanneer dit gebeur, so bly dat julle rondspring, want in die hemel sal God baie goed wees vir julle. Kan julle onthou wat gebeur het met die profete? Die voorouers van die mense wat vir julle nou haat, het die profete lank gelede ook so gehaat. Maar God sal dit sleg laat gaan met julle wat ryk is, want dit het in hierdie lewe goed gegaan met julle. God sal dit sleg laat gaan met julle wat nou baie kos het, want julle sal eendag honger wees. God sal dit sleg laat gaan met julle wat nou lag, want julle sal eendag huil en treur. God sal dit sleg laat gaan met julle wanneer al die mense net mooi dinge van julle sê, want hulle voorouers het lank gelede ook net mooi dinge van die vals profete gesê. “Ek sê vir julle wat nou na My luister: Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir die mense wat vir julle haat. Julle moet die mense seën wat vir julle vloek. Julle moet bid vir die mense wat vir julle beledig. “As iemand jou op jou wang slaan, dan moet jy jou gesig draai sodat hy jou ook op jou ander wang kan slaan. As iemand jou bo-kleed vat, dan moet jy ook jou onderkleed vir hom gee. “Jy moet vir elkeen gee wat vir jou iets vra. En as iemand jou goed vat, dan moet jy dit nie terugvra nie. “Julle moet aan ander mense doen soos julle graag wil hê hulle moet aan julle doen. As julle net lief is vir die mense wat lief is vir júlle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Want die sondaars is ook lief net vir die mense wat lief is vir húlle. “As julle goed doen net aan die mense wat goed doen aan julle, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars doen dieselfde. “As julle net vir mense iets leen sodat julle later weer iets by hulle kan kry, dan doen julle net wat julle moet doen, julle doen niks beter nie. Die sondaars leen ook vir mekaar sodat hulle weer iets kan terugkry. “Nee, julle moet anders wees. Julle moet lief wees vir julle vyande. Julle moet goed wees vir mense, julle moet vir hulle dinge leen, maar julle moenie hoop om iets terug te kry nie. Dan sal die Here goeie dinge vir julle gee. Julle sal kinders van die Hoogste God wees. Want God is goed vir almal, ook vir die mense wat nie dankbaar is nie en wat sleg is. Julle moet jammer wees vir ander mense, soos julle Vader jammer is vir almal.” “Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. Ja, julle moenie altyd ander mense wil oordeel nie, dan sal niemand vir julle wil oordeel nie. Julle moet ander mense vergewe, dan sal God julle ook vergewe. “Dit moet vir julle maklik wees om vir ander mense iets te gee, want dan sal hulle vir julle ook iets gee. Ja, hulle sal vir julle baie meer gee, want wat julle aan ander mense doen, sal hulle aan julle doen.” Jesus het die volgende voorbeelde gebruik om vir hulle nog iets te sê: “'n Blinde mens kan nie 'n ander blinde mens lei nie. Want hulle sal saam in 'n sloot val. “'n Dissipel is nie belangriker as die meneer by wie hy leer nie. Maar as hy alles geleer het, dan sal hy wees soos sy meneer. Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sê vir jou broer: ‘Ek wil daardie stukkie hout uithaal uit jou oog,’ maar jy sien nie die groot stuk hout in jou eie oog nie. As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens. Nee, jy moet eers die groot stuk hout uit jou eie oog haal, dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal. “'n Mens ken 'n boom wanneer jy sien watter vrugte die boom dra. 'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra nie goeie vrugte nie. Hoe weet 'n mens watter soort boom dit is? Jy kyk na die boom se vrugte. 'n Mens pluk nie vye van 'n doringboom nie. Jy kan ook nie druiwe van 'n doringbos pluk nie. Dit is dieselfde by mense: 'n Goeie mens praat en doen goeie dinge omdat hy in sy hart goed is. En 'n slegte mens praat en doen slegte dinge omdat hy in sy hart sleg is. Ja, 'n mens praat oor die baie dinge wat in sy hart is.” “Hoekom sê julle so baie maal Ek is julle Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie? Ek sal vir julle verduidelik hoe is iemand wat na My toe kom en hoor wat Ek sê en wat dit doen. Hy is soos 'n man wat 'n huis gebou het, en hy het die fondament van die huis diep in die grond gegrawe, tot op die rots. Toe kom daar 'n watervloed. Die rivier het vol water geword en die water het tot teen die huis gekom. Maar die rivier kon nie die huis wegspoel nie, want die man het die fondament goed gebou. Maar hoe is iemand wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie? Hy is soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het. Die huis het nie 'n fondament gehad nie. Toe die rivier vol water word en tot teen die huis kom, het die huis dadelik inmekaar geval. Daar het niks van die huis oorgebly nie.”
LUKAS 6:12-49 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die gebed tot God deurgebring. En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het: Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes; Filippus en Bartholoméüs; Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem word; Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het. EN Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af, wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak. Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag. Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen. Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween. Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen. Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig. Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie. Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? Want die sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang. Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En Hy het vir hulle 'n gelykenis uitgespreek: 'n Blinde kan tog nie 'n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie? 'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat in jou eie oog is, merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal. Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie. Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond. En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen — Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was. Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.
LUKAS 6:12-49 Afrikaans 1983 (AFR83)
In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy ook apostels genoem het. Hulle was Simon, wat Hy ook Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot, Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat die verraaier geword het. Hy het saam met hulle van die berg afgekom en op 'n gelykte by 'n groot aantal volgelinge gaan staan. Van die hele Joodse land en Jerusalem en van die kusgebied van Tirus en Sidon af was daar 'n menigte mense wat gekom het om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook dié wat onder onrein geeste gely het, is gesond gemaak. Al die mense het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan het en Hy almal gesond gemaak het. Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: “Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak. “Maar ellende wag vir julle wat ryk is, want julle het julle lekker lewe al weg. Ellende wag vir julle wat julle nou vol eet, want julle sal honger ly. Ellende wag vir julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak.” “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet. En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so. En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle 'n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en vir julle sal gegee word: 'n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word.” Hy het ook met beeldspraak vir hulle gesê: “Kan 'n blinde miskien 'n ander blinde lei? Sal hulle nie altwee in 'n sloot val nie? 'n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees. “Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.” “Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk 'n mens mos nie vye nie, en van 'n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgegrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou. Maar as iemand luister en nie doen wat Ek sê nie, is hy soos 'n man wat sy huis bo-op die grond gebou het sonder 'n fondament. Toe die vloedwater dit tref, het dit dadelik ingestort, en daardie huis het een groot puinhoop geword.”
LUKAS 6:12-49 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God. Teen dagbreek het Hy toe sy dissipels nader geroep en twaalf van hulle uitgekies, en Hy het hulle •apostels genoem. Hulle was Simon, wat Hy ook •Petrus genoem het, en sy broer Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Simon met die naam “Seloot”, en Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot, wat 'n verraaier geword het. Nadat Hy saam met hulle van die berg af gekom het, het Hy op 'n gelykte gaan staan. Daar was 'n groot groep van sy dissipels en ook 'n menigte mense uit die volk – van oor die hele Judea en Jerusalem, en ook uit die kusstreke rondom Tirus en Sidon. Hulle het gekom om na Hom te luister en van hulle siektes genees te word. Ook mense wat deur •onrein geeste gepla is, is daarvan genees. En die hele skare het Hom probeer aanraak, omdat daar krag van Hom uitgegaan en Hy almal genees het. Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die •koninkryk van God behoort aan julle. Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die •Seun van die Mens. “Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. “Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.” “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle 'n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” “Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – 'n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. ” Hy het ook 'n gelykenis vir hulle vertel: “Een blinde kan tog nie 'n ander blinde rondlei nie? Sal hulle dan nie albei in 'n sloot val nie? 'n Dissipel is nie belangriker as sy leermeester nie; maar as hy sy opleiding voltooi het, sal hy sy leermeester se gelyke wees. “Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Broer, laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ terwyl jy die balk in jou eie oog nie raaksien nie? Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.” “'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra weer nie goeie vrugte nie. Elke boom word aan sy eie vrug geken. Van 'n doringstruik pluk 'n mens tog nie vye of van 'n doringbos 'n tros druiwe nie. 'n Goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart, en 'n slegte mens bring die slegte voort uit die slegtheid wat in hom is; want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” “ Waarom noem julle My ‘Here, Here!’ maar julle doen nie wat Ek sê nie? “Elkeen wat na My toe kom en my woorde hoor en daarvolgens handel – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos 'n man wat besig was om 'n huis te bou. Hy het gespit en diep gegrawe, en die fondament op die rots gelê. Toe daar 'n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit die huis nie laat ineenstort nie, omdat dit goed gebou was. “Maar wie hoor en nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder 'n fondament op die grond bou. As die vloedwaters dit tref, stort dit onmiddellik ineen. Die verwoesting van daardie huis was geweldig.”
LUKAS 6:12-49 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in daardie dae het hy uitgegaan na die berg om te bid, en hy het die hele nag gebly in gebed tot God. En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep; en van hulle het Hy twaalf gekies, wat Hy ook apostels genoem het; Simon (wat hy ook Petrus genoem het) en Andreas, sy broer, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus, Matteus en Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon wat Selotes genoem word, En Judas, die broer van Jakobus, en Judas Iskariot, wat ook die verraaier was. En Hy het saam met hulle afgekom en in die vlakte gaan staan en die menigte van sy dissipels en 'n groot menigte mense uit die hele Judéa en Jerusalem en van die seekus van Tirus en Sidon af, wat gekom het om na Hom te luister, en om van hul siektes genees te word; En die wat deur onrein geeste geplaag was, en hulle is genees. En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, want daar het krag uit Hom uitgegaan en hulle almal genees. En Hy het sy oë op sy dissipels opgeslaan en gesê: Geseënd is julle armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou ween, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle sal haat en julle van hulle menigte afskei en julle smaad en julle naam verdryf as slegtheid ter wille van die Seun van die mens. Verheug julle in dié dag en spring van blydskap, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want net so het hulle vaders met die profete gedoen. Maar wee julle wat ryk is! want julle het julle vertroosting ontvang. Wee julle wat versadig is! want julle sal honger. Wee julle wat nou lag! want julle sal treur en ween. Wee julle as almal goed van julle praat! want so het hulle vaders met die valse profete gedoen. Maar Ek sê vir julle wat hoor: Julle moet julle vyande liefhê, doen goed aan die wat julle haat, Seën die wat jou vervloek, en bid vir die wat jou beledig. En aan hom wat jou op die een wang slaan, offer ook die ander; en hy wat jou mantel wegneem, moenie ook jou mantel wegneem nie. Gee aan elkeen wat van jou vra; en van hom wat jou goed wegneem, vra dit nie weer nie. En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. Want as julle die liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? want sondaars het ook hulle lief wat hulle liefhet. En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle? want sondaars doen ook dieselfde. En as julle leen aan hulle van wie julle hoop om te ontvang, watter dank het julle? want sondaars leen ook aan sondaars om weer soveel te ontvang. Maar julle moet julle vyande liefhê en goed doen en leen sonder om weer op niks te hoop nie; en julle loon sal groot wees, en julle sal kinders van die Allerhoogste wees, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. Moenie oordeel nie, en julle sal nie geoordeel word nie; veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie; vergewe, en julle sal vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word; goeie maat, ingedruk en saamgeskud en oorstroom, sal die mense in jou boesem gee. Want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En Hy het 'n gelykenis aan hulle vertel: Kan 'n blinde 'n blinde lei? Sal hulle nie altwee in die sloot val nie? Die dissipel is nie bo sy heer nie, maar elkeen wat volmaak is, sal soos sy heer wees. En waarom sien jy die splinter wat in jou broer se oog is, maar die balk wat in jou eie oog is, sien jy nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: Broer, laat ek die splinter wat in jou oog is uitruk, terwyl jy self die balk wat in jou eie oog is nie sien nie? Geveinsde, gooi eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien om die splinter wat in jou broer se oog is, uit te trek. Want 'n goeie boom dra nie slegte vrugte nie; en 'n bedorwe boom dra geen goeie vrugte nie. Want elke boom word aan sy eie vrugte geken. Want van dorings pluk mense nie vye nie, en van 'n doringbos pluk hulle nie druiwe nie. 'n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en 'n slegte mens bring uit die bose skat van sy hart wat sleg is te voorskyn, want van die oorvloed van die hart spreek sy mond. En waarom noem julle My, Here, Here, en doen nie die dinge wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen, Ek sal jou wys met wie hy gelyk is. Hy is soos 'n man wat 'n huis gebou en diep gegrawe en die fondament op 'n rots gelê het; en toe die vloed opkom, het die stroom hewig teen daardie huis geslaan en dit nie kon skud nie, want dit was op 'n rots gegrond. Maar hy wat hoor en nie doen nie, is soos 'n man wat sonder fondament 'n huis op die aarde gebou het; waarteen die stroom wel hewig geklop het, en dadelik het dit geval; en die verwoesting van daardie huis was groot.
LUKAS 6:12-49 Die Boodskap (DB)
Kort daarna het Jesus een aand teen ’n berg opgeklim om te gaan bid. Hy het die hele nag in gebed tot God deurgebring. Die volgende dag het Jesus sy volgelinge na Hom toe geroep. Hy het toe twaalf van hulle uitgekies. Hierdie twaalf mans het Jesus sy apostels genoem, sy spesiale verteenwoordigers. Hulle name is: Simon (Jesus het hom Petrus genoem), Andreas, Petrus se broer, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Tomas, Jakobus, die seun van Alfeus, Simon (die mense het hom “ywerige Simon” genoem), Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskariot (hy het Jesus later verraai). Toe Jesus saam met hulle van die berg af kom, het Hy daar onder op die oop vlakte gaan staan. Baie van sy volgelinge en ’n hele klomp ander mense het daar na Hom toe gestroom. Van oor die hele Judea en Jerusalem, selfs van die kusgebied van Tirus en Sidon af, het mense in ’n groot massa na Jesus toe gekom. Hulle wou Hom hoor preek en ook van hulle siektes genees word. Jesus het dit toe gedoen. Mense wat deur bose geeste beset is, is deur Hom bevry. Almal het probeer om aan Jesus te raak. Hy was so vol krag dat Hy almal wat siek was, gesond gemaak het. Toe kyk Jesus na sy volgelinge en sê vir hulle: “Julle is gelukkig as julle nou arm is. God sal dan vir julle ’n plek gee in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou honger is. God sal sorg dat julle genoeg kos het om te eet in sy nuwe wêreld. “Julle is gelukkig as julle nou hartseer is. God sal sorg dat julle in sy nuwe wêreld lag en feesvier. “Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ’n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel. “Vir al julle rykes wat net agter geld aanhardloop, lê daar groot probleme voor. Julle het julle beloning klaar ontvang. God skuld julle niks meer nie. “Daar wag groot probleme op julle wat julle nou vol eet. In God se nuwe wêreld sal daar nie vir julle plek wees nie. Julle sal buite staan en honger ly. “Daar wag groot probleme op julle wat dink dat die lewe een groot gefuif is. Wanneer God se nuwe wêreld aanbreek, sal julle verskriklik huil, want julle sal moet buite bly. “Daar wag groot probleme op julle wanneer mense heeltyd net mooi dinge oor julle moet sê. Onthou: in die ou dae het die mense ook mooi dinge oor al die vals boodskappers van die Here te sê gehad.” “Kom Ek sê nou vir julle hoe Ek wil hê julle moet leef. Julle moet julle vyande liefhê. Wees goed vir almal wat julle haat. Moenie hulle sleg behandel nie. “Spreek die Here se seën uit oor elkeen wat julle vloek. Moenie iets leliks terugsê nie. Bid vir almal wat julle beledig. “As iemand jou deur jou gesig klap om jou te beledig, moenie terugslaan nie. Nee, sê vir hom om jou sommer nog ’n keer op jou ander wang te klap. “As iemand jou klere wil vat, skenk dan nog ’n ekstra stel van jou beste klere aan hom. “As iemand iets van jou wil hê, gee dit. Wanneer iemand iets van jou gevat het, moenie dit later gaan terugvra nie. “As daar een reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op. “As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom en wat lief is vir julle, moet julle nie verwag om ’n medalje vir goeie diens by God daarvoor te kry nie. Almal doen dit tog, ook die slegte mense wat hulle nie aan God steur nie. En as julle net goeie dinge doen vir dié wat goeie dinge vir julle doen, het julle nog niks besonders gedoen nie. Selfs slegte mense doen dit ook. As julle ook net bereid is om iets te leen aan mense wat dit later aan julle sal teruggee, het julle nog niks buitengewoons gedoen nie. Sondaars doen dit ook. Hulle leen ook dinge aan hulle vriende, solank hulle dit op die ou end net terugkry. “Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die Allerhoogste. Want dit is presies hoe God is. Hy gee baie om vir almal hier op die aarde, of hulle goed is of sleg. Julle moet soos God wees: maak julle hart en julle hande oop vir ander mense. Gee regtig vir hulle om.” “Moenie ander mense oordeel nie. Dan sal God julle ook nie oordeel nie. Moenie ander mense tot in die doderyk verdoem nie. Dan sal God julle ook nie verdoem nie. Vergeef ander mense, dan sal God julle ook vergewe. “Deel julle besittings met ander, dan sal God vir julle sorg. Julle sal nooit te min hê om van te leef nie. Julle sal van kop tot tone oorlaai word met goeie dinge. Ja, julle ganse lewe sal oorloop van goedheid. Al die goeie dinge wat julle met ander deel, sal op verrassende maniere na julle toe terugkom. “As jy blind is, kan jy nie ’n ander blinde rondlei nie. Kort voor lank val julle albei in ’n sloot. “’n Leerling is nooit belangriker as sy onderwyser nie. As hy alles weet wat sy onderwyser hom geleer het, weet hulle ewe veel. Ken daarom jou plek voor God en ander. Wees nederig. “Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewe uit te snuffel terwyl jy blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir daardie groot houtstomp wat in jou eie oog vassit? En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê: ‘My ou broer, kom laat ek gou-gou daardie splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien nie die groot foute in jou eie lewe raak nie. Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit jou vriend se oog te haal.” “’n Goeie boom dra nooit slegte vrugte nie. En ’n slegte boom dra ook nooit goeie vrugte nie. ’n Mens ken ’n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ’n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ’n spul doringtakke nie. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan. “Julle praat so maklik. Kyk net hoe graag sê julle: ‘Here, ons Here,’ maar julle doen net mooi niks wat Ek vir julle sê nie. “Mense wat luister na wat Ek sê en dit doen, is verstandig. Hulle is soos ’n man wat op ’n dag ’n huis begin bou het. Hierdie man het sy huis se fondament baie diep uitgegrawe tot in die rots. Sy huis was skaars klaar toe breek daar ’n groot storm los. Dit het net gereën en gereën. Kort voor lank het ’n massa vloedwater teen sy huis opgedam, maar dit het geen skade aan sy huis aangerig nie. Die huis se fondament was daarvoor veels te sterk. Dit was op rots gebou. So is mense wat doen wat Ek sê. “Aan die ander kant: mense wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie, is soos ’n ander man wat sy huis sommer vinnig aanmekaargeslaan het, sonder ’n behoorlike fondament. Toe die storm daardie huis tref, het al die stormwater dit in ’n paar oomblikke uitmekaargeruk. Daar het net mooi niks van sy nuwe huis oorgebly nie. So sal dit met almal gaan wat nie doen wat Ek sê nie.”