LUKAS 6:1-5
LUKAS 6:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet. Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
LUKAS 6:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Die dissipels het van die koring-are gepluk en hulle het die korrels met hulle hande uitgevryf en dit geëet. Toe vra party van die Fariseërs: “Hoekom doen julle iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in 'n tempel ingegaan en hy het die brood geneem wat net die priesters mag eet. Dawid het dit geëet en hy het ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
LUKAS 6:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Eenkeer het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en dit met die hande uitgevrywe en geëet. Toe sê 'n paar van die Fariseërs: “Waarom doen julle iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie?” Jesus antwoord hulle: “Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger gekry het nie? Hy het die huis van God binnegegaan en die offerbrode geneem en geëet en ook aan sy manne gegee. Tog is niemand behalwe die priesters toegelaat om daardie brood te eet nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Die Seun van die mens is Here oor die sabbat.”
LUKAS 6:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n keer het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet. Sommige van die •Fariseërs sê toe: “Waarom doen julle iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie?” Maar Jesus het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode gevat en geëet het, en ook daarvan aan dié wat saam met hom was, gegee het, alhoewel niemand behalwe die priesters daarvan mag eet nie? ” Verder sê Hy vir hulle: “Die •Seun van die Mens – Hy is Heer van die Sabbat.”
LUKAS 6:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op die tweede sabbat ná die eerste het hy deur die koringlande gegaan; en sy dissipels het die are gepluk en geëet en dit met hulle hande gevryf. En sommige van die Fariseërs sê vir hulle: Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie? En Jesus antwoord hulle en sê: Het julle nie so baie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was en die wat by hom was nie; hoe hy in die huis van God ingegaan het en die toonbrode geneem en geëet het en ook aan die wat by hom was, gegee het; wat nie geoorloof is om te eet nie, behalwe vir die priesters alleen? En Hy sê vir hulle: Die Seun van die mens is ook Here van die sabbat.
LUKAS 6:1-5 Die Boodskap (DB)
Een sabbatdag het Jesus deur ’n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword. Hulle het toe van die ryp koringare afgepluk, die kaf gou uitgevryf en die koring geëet. ’n Paar Fariseërs wat hulle soos valke dopgehou het, het dit dadelik raakgesien. “En wat is hier aan die gang?” wou hulle weet. “Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Ken julle dan nie julle Bybel nie? Onthou julle nie wat Dawid en sy manne gedoen het toe hulle honger geword het nie? Het julle vergeet hoe hy die reëls oortree het deur in die huis van God in te gaan en van die brood op die altaar te vat en te eet wat spesiaal vir God opsy gesit is? Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Wel, nou is Ek, die Seun van die mens, hier by julle. En Ek is baie belangriker as die sabbat. Ek sê nou wat op die sabbat gedoen mag word en wat nie.”
LUKAS 6:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet. Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.” Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie? Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek. “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.”