LUKAS 5:8-11
LUKAS 5:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Toe Simon Petrus dit sien, het hy voor Jesus op die grond geval en gesê: “Here, gaan weg van my, want ek is 'n man wat baie sonde doen.” Simon Petrus en die ander mense saam met hom was baie verbaas oor die baie visse wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes was ook baie verbaas. Hulle was die seuns van Sebedeus en hulle het saam met Simon gewerk en visgevang. Jesus het vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy nie meer visvang nie, jy sal mense bymekaarmaak.” Hulle het met die bote tot by die land geroei. Hulle het alles daar gelos en saam met Jesus gegaan.
LUKAS 5:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man! Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en Hom gevolg.
LUKAS 5:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens.” Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.
LUKAS 5:8-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Simon •Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige mens.” Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.
LUKAS 5:8-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: Gaan van My af; want ek is 'n sondige man, Here. Want hy was verbaas, en almal wat by hom was, oor die trek van die visse wat hulle gevang het. En so was ook Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeüs, wat saam met Simon was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang. En toe hulle hul skepe aan land gebring het, het hulle alles verlaat en hom gevolg.
LUKAS 5:8-11 Die Boodskap (DB)
Simon Petrus was verslae oor wat gebeur het. Hy het op sy knieë voor Jesus neergeval en gesê: “Here, U kan nie langer by my bly nie, want ek is ’n groot sondaar.” Petrus en almal saam met hom op die bote was verstom oor hierdie groot visvangs. Ook Petrus se vriende, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was daardeur aangegryp. Jesus sê toe vir Petrus: “Moenie bang wees nie. Jou werk begin nou eers. Van nou af gaan jy mense vang. Jy sal maak dat baie mense in My glo.” ’n Rukkie later, toe hulle die bote veilig vasgemeer het, het hierdie mans hulle bote net daar laat staan en volgelinge van Jesus geword.
LUKAS 5:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Simon Petrus besef wat gebeur het, val hy op sy knieë voor Jesus en sê: “Here, gaan asseblief weg van my af – ek is ’n te groot sondaar.” Want hy was verbyster deur die groot visvangs, net soos die ander by hom. Sy kollegas, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was net so verbaas. Jesus het vir Simon geantwoord: “Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!” En toe hulle aan wal kom, het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg.