LUKAS 5:17-26

LUKAS 5:17-26 Bybel vir almal (ABA)

Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak. 'n Paar manne het 'n man wat verlam was, op 'n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit. Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense. Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien. Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. 'n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.” Maar Jesus het geweet wat hulle praat. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom sê julle dit? Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.” Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.” Die man het dadelik opgestaan. Almal het dit gesien. Hy het die slaapmat geneem waarop hy gelê het en hy het huis toe gegaan. Hy het aangehou om God te prys. Al die mense was verbaas en hulle het God ook geprys. Hulle was bang en hulle het aangehou om God te eer. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien.”

LUKAS 5:17-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak. Onverwags kom daar mense met 'n verlamde man op 'n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur 'n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?” Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan. Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.”

LUKAS 5:17-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op 'n dag, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook •Fariseërs en wetgeleerdes gesit, wat uit elke dorpie van Galilea en Judea en van Jerusalem gekom het. Die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Net toe kom daar mense aan wat 'n verlamde man op 'n slaapmat dra. Hulle wou hom in die huis indra en voor Jesus neersit, maar as gevolg van die skare, kon hulle geen manier vind om hom in te dra nie, en het toe op die dakstoep geklim en hom en sy slaapmat tussen die dakteëls deur laat afsak, tot tussen die mense, reg voor Jesus. Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Vriend, jou sondes is jou vergewe. ” Die skrifkenners en die Fariseërs het hulleself begin afvra: “Wie is hy dat hy so laster? Wie anders as net God kan sondes vergewe?” Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en het vir hulle gesê: “Waarom het julle bedenkinge in julle harte? Wat is makliker, om te sê, ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê, ‘Staan op en loop’? Maar sodat julle kan weet dat die •Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe ...” – sê Hy toe vir die verlamde: “Ek sê vir jou, staan op, tel jou slaapmat op en gaan na jou huis.” Onmiddellik het hy daar voor hulle opgestaan, die slaapmat waarop hy gelê het, gevat en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal was verwonderd en het God geprys. Hulle is met diep ontsag vervul en het gesê: “Vandag het ons iets ongeloofliks gesien.”

LUKAS 5:17-26 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag was Jesus weer besig om die mense te leer. Baie godsdienstige leiers het ook kom luister na wat Hy te sê gehad het. Fariseërs en kenners van die wet van Moses van oor die hele Galilea en Judea, selfs uit Jerusalem, was in die gehoor. Deur die krag van die Here het Jesus baie siekes gesond gemaak. Intussen het daar ’n klompie mense aangekom wat ’n verlamde man op ’n draagbaar gedra het. Hulle wou hê dat Jesus hom gesond moet maak. Maar daar was so baie mense dat hulle nie naby Hom kon kom nie. Hulle het toe op die dak geklim, ’n klomp dakteëls uitgehaal en die man op die draagbaar met toue laat afsak tot reg voor Jesus. Jesus was baie beïndruk met hulle geloof. Hy sê toe vir die verlamde man: “Vriend, Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te lag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad sal wees oor jou sondes nie. Jou sondes is vergewe.” Hierdie woorde het die Joodse godsdienstige leiers lelik omgekrap. “Wie dink hy is hy dat hy sulke dinge sê?” het hulle onder mekaar gevra. “Hy praat mos nou godslasterlik. Hy het geen respek vir God nie. Net God kan tog sondes vergewe.” Jesus het geweet dat hulle staan en skinder. Daarom het Hy toe vir hulle gesê: “Wat dink julle gaan julle bereik met julle geskinder? Sê ’n bietjie vir My wat is die maklikste: om vir iemand te sê: ‘Jou sondes is afgeskryf’ of: ‘Staan op en loop gesond hier weg’? Natuurlik is dit nie moeilik om enigeen van hierdie dinge te sê nie. Woorde kom maklik. Maar om dit te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Wel, julle weet baie goed dat iemand net sondes kan vergewe as hy die mag het om dit te doen. Ek, die Seun van die mens, het daardie mag. Kyk nou mooi: Ek gaan dit doen sodat julle kan besef met wie julle te doen het.” Jesus sê toe vir die lam man: “Staan op. Vat jou draagbaar en gaan terug na jou mense toe.” Die man het nie ’n oomblik gehuiwer nie. Voor almal het hy opgestaan, sy draagbaar gevat en na sy huis toe gestap. Hy het God hardop geloof en geprys. Die mense kon hulle oë nie glo nie. Hulle is met groot respek vir God vervul. “Nou het ons regtig gesien hoe wonderlik God is,” het hulle vir mekaar gesê.

LUKAS 5:17-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk. ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.” “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?” Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself? Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’? Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.” En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys. Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid