LUKAS 4:38-42
LUKAS 4:38-42 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het weggegaan van die sinagoge en Hy het na Simon se huis gegaan. Simon se skoonma was baie siek in die bed. Sy het koors gehad. Die mense het vir Jesus gevra om haar te help. Jesus het by haar gaan staan en Hy het kwaai gepraat met die koors. Die koors het weggegaan, en sy het dadelik opgestaan en vir hulle kos gegee. Toe die son ondergaan en die Sabbatdag verby was, het almal hulle siek mense na Jesus toe gebring. Jesus het sy hande op elkeen gesit en Hy het hulle gesond gemaak. Daar het ook duiwels uit baie mense uitgegaan en die duiwels het geskree: “U is die Seun van God.” Die duiwels het geweet Hy is die Christus. Daarom het Jesus kwaai gepraat met hulle en gesê hulle moet stilbly. Die volgende oggend het Jesus na 'n stil plek gegaan om alleen te wees. Baie mense het Hom gesoek. Toe hulle Hom kry, wou hulle nie hê Hy moet weggaan van hulle nie.
LUKAS 4:38-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg oor haar. Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale, na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was. En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle sou weggaan nie.
LUKAS 4:38-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Ook bose geeste het uit baie uitgegaan terwyl hulle skreeu: “U is die Seun van God!” En Jesus het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om sulke dinge te sê nie, omdat hulle geweet het dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na 'n eensame plek toe vertrek. Die mense het Hom begin soek, en toe hulle by Hom uitkom, het hulle Hom probeer beweeg om nie van hulle af weg te gaan nie.
LUKAS 4:38-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Jesus die •sinagoge verlaat het, is Hy na Simon se huis en het daar ingegaan. Simon se skoonmoeder was siek met 'n hoë koors, en daarom het hulle Hom gevra om iets vir haar te doen. Hy het oor haar gebuk en die koors bestraf, en dit het haar verlaat. Sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien. Teen sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. Daar het ook demone uit baie mense uitgegaan, terwyl hulle skreeu: “U is die •Seun van God!” Maar Hy het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om te praat nie. Hulle het immers geweet dat Hy die Christus is. Teen dagbreek het Hy vertrek en na 'n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan.
LUKAS 4:38-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het uit die sinagoge opgestaan en in die huis van Simon ingegaan. En die moeder van Simon se vrou is met 'n groot koors geneem; en hulle het Hom vir haar gesmeek. En hy het oor haar gaan staan en die koors bestraf; en dadelik het sy opgestaan en hulle bedien. En toe die son ondergaan het, het almal wat siek was aan allerhande siektes, hulle na Hom gebring; en hy het elkeen van hulle die hande opgelê en hulle gesond gemaak. En duiwels het ook uit baie uitgegaan en uitgeroep en gesê: U is die Christus, die Seun van God. En Hy wat hulle bestraf, het hulle nie toegelaat om te praat nie. Want hulle het geweet dat Hy Christus is. En toe dit dag geword het, het hy weggegaan en na 'n verlate plek gegaan
LUKAS 4:38-42 Die Boodskap (DB)
Nadat Jesus uit die sinagoge gestap het, het Hy na Simon se huis toe gegaan. Daar aangekom, het Hy gehoor dat Simon se skoonma baie siek geword het. Sy het in die bed gelê, vuurwarm van die koors. Haar familie was baie bekommerd oor haar. “Kan U nie iets vir haar doen nie?” het hulle vir Jesus gevra. Hy het toe by haar bed gaan staan en vir die koors gesê: “Gee pad uit haar liggaam uit. Nou dadelik!” Daar op die plek het Simon se skoonma gesond geword. Sy het dadelik uit die bed opgestaan en vir almal kos gemaak. Toe dit aand word, het baie mense hulle siekes na Jesus toe gebring. Jesus het hulle een vir een aangeraak. Hy het sy hande op hulle gesit en hulle almal gesond gemaak. Jesus het ook ’n hele klomp duiwels uit mense verdryf. Wanneer hierdie duiwels die mense verlaat het, het hulle hard geskree: “U is die Seun van God, U is die Seun van God!” Maar Jesus het hulle beveel om stil te bly. Die bose magte het baie goed geweet dat Hy die Messias is, die Een wat deur God gestuur is om mense te kom verlos. Maar Jesus wou nie hê dat die duiwels moes sê wie Hy is nie. Hy wou dit self doen, op sy eie manier. Die volgende oggend toe dit lig word, het Jesus na ’n verlate plek toe vertrek om ’n bietjie alleen te wees. Die skare het agtergekom dat Hy weg is. Hulle het oral in die omgewing na Hom begin soek. Uiteindelik het hulle Jesus opgespoor. ’n Groot klomp mense het op Hom toegesak. Jesus kon amper nie beweeg nie, so baie mense was daar.
LUKAS 4:38-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek. Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei. Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees. Sommige was van bose geeste besete en die bose geeste het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat. Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie.