LUKAS 4:18-21
LUKAS 4:18-21 Bybel vir almal (ABA)
Die Gees van die Here lei my. Die Here het my gesalf en gesê ek moet die goeie boodskap vir die arm mense bring. Hy het my gestuur om vir die gevangenes te sê hulle is vry, hulle kan uitgaan. Hy het my gestuur om vir die blinde mense te sê hulle sal weer kan sien. Ek moet almal vrymaak wat swaarkry. Ek moet sê dit is nou die tyd wanneer die Here alles sal regmaak. Daarna het Jesus die boek toegemaak en Hy het dit teruggegee vir die persoon wat dit moes bêre. Jesus het gaan sit en almal in die sinagoge het na Jesus gekyk. Jesus het met die mense begin praat en gesê: “Vandag het God laat gebeur wat Ek uit die Bybel gelees het.”
LUKAS 4:18-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
LUKAS 4:18-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”
LUKAS 4:18-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
LUKAS 4:18-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig; Hy het My gestuur om die gebrokenes van hart te genees, om verlossing aan die gevangenes te verkondig en aan blindes herstel van gesig, om die wat gebroke is in vryheid te laat, Om die aangename jaar van die Here te verkondig. En hy het die boek toegemaak en dit weer aan die bedienaar gegee en gaan sit. En die oë van almal wat in die sinagoge was, was op Hom gevestig. En Hy het vir hulle begin sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
LUKAS 4:18-21 Die Boodskap (DB)
“Die Gees van die Here is op my. Hy het my aangestel om goeie nuus te bring vir daardie mense op wie almal neersien; van nou af is hulle vir God baie spesiaal. God het my gestuur om vir die gevangenes te sê dat hulle vonnis vir altyd verby is; en om die blindes weer te laat sien, om almal wat verdruk word te kom bevry, en om aan te kondig: ‘God se bonusjaar is hier, sy groot jaar om stukkende mense se lewe heel te maak.’” Daarna het Jesus die boekrol toegemaak en dit aan die amptenaar van die sinagoge teruggegee. Hy het gaan sit terwyl almal se oë op Hom vasgenael was. Toe sê Hy: “Vandag het al hierdie woorde uit die Bybel waar geword, reg voor julle oë.”
LUKAS 4:18-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig. Hy het My gestuur om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers, en dat die tyd van die Here se goedheid gekom het.” Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk. Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”