LUKAS 4:1-14

LUKAS 4:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, sodat Hy aan die einde daarvan honger was. Die duiwel sê toe vir Hom: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie. ” Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.” Daarop antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. ” Hierna neem die duiwel Hom na Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan, en sê: “As U die Seun van God is, spring hier af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm, “en ook: “Op hulle hande sal hulle jou dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ” Maar Jesus antwoord hom: “Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ” Nadat die duiwel met al die versoekings klaar was, het hy Jesus 'n tyd lank met rus gelaat. Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei.

LUKAS 4:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het weggegaan van die Jordaan-rivier. Die Heilige Gees was in Jesus en die Gees het Hom na die woestyn gelei. Daar het die duiwel 40 dae lank probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus het niks geëet nie, en toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het vir Jesus gesê: “As Jy die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: ‘ 'n Mens lewe nie net van brood nie.’ ” Toe het die duiwel vir Jesus na 'n hoë plek geneem. Hy het vir Jesus vinnig al die lande in die wêreld gewys. Die duiwel het vir Jesus gesê: “Ek sal vir Jou al hierdie lande en al hulle goed gee, want God het dit alles vir my gegee, en ek kan dit gee vir wie ek wil. As Jy my aanbid, dan sal Jy dit alles kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “In die Ou Testament is geskryf: “ Jy moet jou God die Here aanbid en net vir Hom dien.” Toe het die duiwel vir Jesus na Jerusalem geneem en hy het Jesus op die hoogste plek by die tempel laat staan. Die duiwel sê toe vir Jesus: “As Jy die Seun van God is, spring van hierdie plek af, want in die Ou Testament is geskryf: “ God sal vir sy engele sê hulle moet jou beskerm,” en “hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.” Maar Jesus het vir die duiwel geantwoord: “God het ook in die Ou Testament gesê: ‘ Jy moenie vir jou God die Here iets vra wat jy nie mag vra nie.’ ” Die duiwel het opgehou probeer om Jesus verkeerd te laat doen, en hy het weggegaan van Hom. Later het hy weer gekom. Jesus het teruggegaan na Galilea. Die Heilige Gees het Hom sterk gemaak. In Galilea het al die mense oor Jesus gepraat.

LUKAS 4:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword. Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word. Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God. Toe bring die duiwel Hom op 'n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in 'n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy 'n tyd lank van Hom gewyk. EN Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan

LUKAS 4:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger. Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie.’ ” Hierop het die Duiwel Hom na 'n hoë plek geneem, en in 'n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee , en ek gee dit aan wie ek wil. As u my aanbid, sal dit alles u s'n wees.” Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf, ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ ” En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf, “ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee om jou te beskerm,’ en ook, “ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ” Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir 'n tyd lank van Jesus weggebly. Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei.

LUKAS 4:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Jesus, vol van die Heilige Gees, het van die Jordaan af teruggekeer en is deur die Gees na die woestyn gelei, Omdat hy veertig dae deur die duiwel versoek is. En in dié dae het hy niks geëet nie, en toe hulle verby was, het hy daarna honger gehad. En die duiwel sê vir hom: As U die Seun van God is, beveel hierdie klip dat dit brood moet word. En Jesus antwoord hom en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God. En die duiwel het Hom op 'n hoë berg geneem en aan Hom al die koninkryke van die wêreld in 'n oomblik van tyd gewys. En die duiwel sê vir hom: Ek sal jou al hierdie mag gee en die heerlikheid van hulle, want dit is aan my oorgegee; en aan wie Ek wil, gee Ek dit. As jy dan vir My wil aanbid, sal alles joune wees. En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. En hy het hom na Jerusalem gebring en hom op die toppunt van die tempel gestel en vir hom gesê: As U die Seun van God is, werp uself daarvandaan af. Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee oor jou om jou te bewaar. En hulle moet jou in hul hande dra, sodat jy nie ooit jou voet teen 'n klip stamp nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. En toe die duiwel al die versoeking beëindig het, het hy 'n tyd lank van hom gewyk. En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n roem van Hom uitgegaan in die hele omtrek.

LUKAS 4:1-14 Die Boodskap (DB)

Jesus was vol van die krag van die Heilige Gees toe Hy van die Jordaanrivier af teruggekom het. Die Gees het Hom toe na die woestyn toe gelei. Daar het die duiwel Hom ingewag. Veertig dae lank het hy Hom getreiter met allerhande versoekings. Gedurende daardie tyd het Jesus niks te ete gehad nie. Toe die 40 dae verby was, was Hy baie honger. Die duiwel het hierdie kans aangegryp en vir Jesus gesê: “Jy sê mos jy is die Seun van God. Wys dit nou ’n slag! Sê ’n bietjie vir hierdie klip om in brood te verander.” Maar Jesus het geantwoord: “Daar staan in die Bybel: ‘’n Mens leef nie net van brood nie. God se Woord is belangriker as kos.’” Die duiwel het toe ’n ander strategie gebruik. Hy het Jesus teen ’n berg opgevat en in ’n oogwink al die koninkryke van die wêreld aan Hom gewys. Toe sê hy vir Jesus: “Dit alles is joune, met al hulle mag en glorie. Eintlik behoort hulle aan my. Ek kan met al die volke op die aarde maak net wat ek wil. Maar ek het besluit om dit alles vir jou te gee. Daar is net een voorwaarde: buig voor my. Aanbid my as jou god. Dan is die hele wêreld joune.” Jesus het geweier. Hy het die duiwel geantwoord: “Daar staan in die Bybel geskryf: ‘Jy mag net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien.’” Daarna het die duiwel vir Jesus na Jerusalem toe gevat. Daar aangekom, het hy Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Jesus: “Bewys nou dat jy regtig God se Seun is. Spring hier af! Daar staan mos in die Bybel geskryf: ‘God het sy engele beveel om jou te beskerm.’ En: ‘Hulle sal jou op hulle hande dra sodat jy nie eens jou voet teen ’n klip sal stamp nie.’” Toe sê Jesus vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel geskryf: ‘Jy mag nie die Here jou God uittart nie.’” Daarna het die duiwel moed opgegee. Hy het padgegee en Jesus ’n ruk lank uitgelos. Vol van die krag van die Heilige Gees het Jesus na Galilea toe teruggekeer. Kort voor lank het almal geweet dat Hy terug is.

LUKAS 4:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei, waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger. Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’” Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys. Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil. Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.” Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’” Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af! Want die Skrif sê: ‘God sal aan sy engele opdrag gee om jou te beskerm.’ “En: ‘hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie dalk jou voet teen ’n klip stamp nie.’” Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’” Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid. Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword.