LUKAS 3:1-14

LUKAS 3:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Dit was in die vyftiende jaar nadat Tiberius keiser geword het. Pontius Pilatus het regeer oor Judea. Koning Herodes het regeer oor Galilea. Sy broer Filippus het regeer oor Iturea en Tragonitis. Lisanias het regeer oor Abilene. Annas en Kajafas was hoëpriesters. In daardie tyd het God met Johannes gepraat. Johannes was die seun van Sagaria. Johannes het in die woestyn gewoon. Hy het toe oral vir die mense naby die Jordaan-rivier gaan preek. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het. Johannes het gedoen soos die profeet Jesaja in sy boek geskryf het: Iemand skree in die woestyn. Hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here. Julle moet sy paaie reguit maak. Elke kloof in die berg sal toegaan, en elke berg en heuwel sal plat wees. Die krom paaie sal reguit wees en die ongelyk paaie sal gelyk wees. Almal sal dan sien dat God die mense red. Baie mense het na Johannes toe gekom en gevra dat hy hulle moet doop. Maar Johannes het vir hulle gesê: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. Nee, julle moet wys julle het verander en julle lewe nou soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en daarom dink julle God sal julle nie straf nie. Julle moenie dit sê nie, dit is nie waar nie. Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom afkap wat nie goeie vrugte dra nie, en dit in die vuur gooi.” Die mense vra toe vir Johannes: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het vir hulle gesê: “As jy twee stukke klere het, dan moet jy een gee vir iemand wat niks klere het nie. En as jy kos het, dan moet jy kos gee vir mense wat nie kos het nie.” Die tollenaars het ook gekom sodat Johannes hulle kan doop. Hulle het vir hom gevra: “Meneer, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie meer tolgeld van die mense vat as wat julle mag vat nie.” Die soldate het ook vir Johannes gevra: “En óns, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie mense seermaak of hulle dwing om vir julle geld te gee nie. Julle moet tevrede wees met die geld wat julle kry.”

LUKAS 3:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn. En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig; soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë. En alle vlees sal die heil van God sien. Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen. En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie. En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.

LUKAS 3:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters. In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word. En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.” Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

LUKAS 3:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius •Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn 'n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, soos daar geskryf staan in die •boekrol met die woorde van die profeet Jesaja: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk! Dan sal alle mense sien hoe God verlossing bring.’ ” Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” Daar het ook •tollenaars gekom om gedoop te word , en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?” Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.” Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.”

LUKAS 3:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die vyftiende jaar van die regering van Tiberius Caesar, Pontius Pilatus was goewerneur van Judéa, en Herodes was viervors van Galilea, en sy broer Filippus viervors van Ituraea en van die landstreek Trachonitis, en Lisanias, die viervors van Abilene, Annas en Kajafas wat die hoëpriesters was, het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. En hy het in die hele land rondom die Jordaan gekom en die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig; Soos geskrywe is in die boek van die woorde van die profeet Jesaja, wat sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie gelyk. Elke dal sal gevul word, en elke berg en heuwel sal laag gemaak word; en die krom paaie sal reguit gemaak word en die ruwe paaie glad gemaak word; En alle vlees sal die verlossing van God sien. Toe sê Hy vir die skare wat uitgegaan het om deur Hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die toekomstige toorn? Dra dan vrugte wat bekering verdien, en begin nie by julleself te sê: Ons het Abraham vir ons vader nie; want Ek sê vir julle dat God magtig is om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê: elke boom wat dus nie goeie vrugte dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi. En die skare het Hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? Hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee rokke het, laat hom meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, laat hom net so doen. Toe het ook tollenaars gekom om gedoop te word en vir Hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Moenie meer eis as wat julle aangewys is nie. En die soldate het hom eweneens geëis en gesê: En wat moet ons doen? En Hy sê vir hulle: Moet niemand geweld aandoen nie en moenie vals beskuldig nie; en wees tevrede met jou loon.

LUKAS 3:1-14 Die Boodskap (DB)

In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer: Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea. Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer. In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin. Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer. Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het: “Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is. Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is. Dan sal almal God se verlossing kan sien.’” ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel? Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.” Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.” Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.” ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?” “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?” Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.”

LUKAS 3:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was nou die vyftiende regeringsjaar van Tiberius, die Romeinse keiser. Pilatus was goewerneur in Judea, Herodes Antipas was heerser in Galilea, sy broer Filippus was heerser oor Iturea en Tragonitis, en Lisanias was heerser oor Abilene. Annas en Kajafas was die hoofpriesters. In dié tyd het ’n boodskap van God gekom na Johannes, seun van Sagaria, wat in die woestyn gebly het. Johannes het van plek tot plek aan albei kante van die Jordaanrivier beweeg en gepreek dat mense gedoop moes word om te wys dat hulle tot inkeer gekom het, en so vergifnis van sonde ontvang het. Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het: “Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed. Maak vir Hom ’n hoofweg. Vul die valleie op, en maak die berge en heuwels gelyk! Maak die krom paaie reguit, en maak die ruwe plekke gelyk! En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.’” Hier is ’n voorbeeld van Johannes se prediking aan die skares wat gekom het om gedoop te word: “Julle broeisel slange! Wie het julle gewaarsku om God se komende oordeel te ontvlug? Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.” Die skare het gevra: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het geantwoord: “As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes. As jy kos het, deel dit met hulle wat honger is.” Selfs tollenaars het gekom om gedoop te word en gevra: “Leermeester, wat moet ons doen?” “Wys julle eerlikheid,” het hy geantwoord. “Maak seker dat julle nie méér belasting invorder as wat vereis word nie.” “Wat moet óns doen?” het die soldate gevra. Johannes het geantwoord: “Moenie geld afpers nie, en moet niemand afdreig of vals beskuldig nie. En wees tevrede met julle salaris.”