LUKAS 24:13-27

LUKAS 24:13-27 Bybel vir almal (ABA)

Dieselfde Sondag het twee van die mense wat ook altyd by Jesus se dissipels was, na die dorpie Emmaus geloop. Emmaus was 60 stadioi van Jerusalem. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?” Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?” Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?” Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was 'n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig. Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf. 'n Paar vroue wat by ons is, het vroeg die oggend by die graf gekom en hulle het nie Jesus se liggaam daar gekry nie. Ons was verbaas daaroor. Die vroue sê ook hulle het engele gesien en die engele het gesê Jesus lewe. Party ander mense wat by ons is, het ook na die graf gegaan. Hulle het gesien alles is presies soos die vroue gesê het. Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie.” Toe sê Jesus vir die twee mans: “Hoekom verstaan julle nie wat gebeur het nie? Hoekom wil julle nie glo wat die profete gesê het nie? Die profete het gesê die Christus moet eers swaarkry en dan sal Hy Koning word.” Toe het Jesus begin om vir hulle te verduidelik wat die boeke van Moses en die profete en die ander boeke van die Ou Testament oor Hom sê.

LUKAS 24:13-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. En Hy sê vir hulle: O Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

LUKAS 24:13-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, 'n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. En nou het 'n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle 'n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “Wat 'n gebrek aan begrip en wat 'n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

LUKAS 24:13-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En kyk, juis op dié dag was twee van hulle op pad na 'n dorp met die naam Emmaus, sestig stadion van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle so praat en bespiegel, kom Jesus self nader en loop saam met hulle, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Waaroor loop julle so met mekaar en redeneer?” Hulle het gaan staan, hulle gesigte somber. Een van hulle, met die naam Kleopas, het Hom geantwoord: “Is u die enigste vreemdeling in Jerusalem wat nie weet van die dinge wat in hierdie dae in die stad gebeur het nie?” Hy vra hulle: “Watter dinge?” En hulle antwoord Hom: “Dit wat gebeur het met Jesus van Nasaret, 'n profeet, magtig in woord en daad in die oë van God en die hele volk, en hoe die leierpriesters en ons volksleiers Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom laat kruisig het. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar intussen is dit nou al die derde dag vandat dit gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons boonop ontstel. Hulle was vanoggend vroeg by die graf, en toe hulle sy liggaam nie vind nie, het hulle kom vertel dat hulle 'n visioen gesien het van engele wat sê dat Hy leef. 'n Paar van ons het na die graf gegaan en dit net so aangetref soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? ” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.

LUKAS 24:13-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En kyk, twee van hulle het dieselfde dag gegaan na 'n dorpie met die naam van Emmaus, wat omtrent sestig myl van Jerusalem af was. En hulle het saam gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het. En terwyl hulle met mekaar praat en redeneer, het Jesus self nader gekom en saam met hulle gegaan. Maar hulle oë was vasgehou dat hulle Hom nie sou ken nie. En Hy sê vir hulle: Watter soort woorde is dit wat julle onder mekaar het terwyl julle wandel en bedroef is? En die een van hulle, wie se naam Kleopas was, antwoord en sê vir hom: Is jy net 'n vreemdeling in Jerusalem en weet jy nie die dinge wat in hierdie dae daar gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle sê vir hom: Aangaande Jesus van Nasaret, wat 'n profeet was, magtig in daad en woord voor God en die hele volk. En hoe die owerpriesters en ons owerstes Hom oorgegee het om ter dood veroordeel te word en Hom gekruisig het. Maar ons het vertrou dat dit Hy was wat Israel moes verlos; en buiten dit alles, is dit vandag die derde dag vandat hierdie dinge gebeur het. Ja, en ook sekere vroue van ons geselskap het ons, wat vroeg by die graf was, verstom; En toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig van engele gesien het wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat by ons was, het na die graf gegaan en dit gevind soos die vroue gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. Toe sê Hy vir hulle: O dwase, en traag van hart om alles te glo wat die profete gespreek het! Moes Christus nie hierdie dinge gely het en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het van Moses en al die profete begin en vir hulle uitgelê in al die Skrifte wat op Hom betrekking het.

LUKAS 24:13-27 Die Boodskap (DB)

Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem. Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. Maar hulle het Hom nie herken nie. “Wat loop julle so ernstig en praat? En hoekom lyk julle so hartseer?” vra Jesus hulle. Kleopas, een van die twee, sê toe vir Hom: “Wat? Ek kan nie glo jy vra so iets nie. Jy kom dan nou uit Jerusalem uit. Het jy nie gehoor wat die afgelope naweek daar gebeur het nie?” “Wat?” vra Jesus toe. “Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat. Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig. Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood. “O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld. Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer. ’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie? Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?” Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het.

LUKAS 24:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En kyk, op dieselfde dag was twee uit hulle geledere op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, elf kilometer vanaf Jerusalem. Hulle was druk in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Terwyl hulle nog so loop en gesels en dinge probeer ontrafel, het Jesus self nadergekom en saam met hulle verder geloop. Hulle oë is egter verhinder om Hom te herken. Hy sê toe vir hulle: “Oor watter sake loop julle só ernstig en redeneer?” Met somber gesigte het hulle gaan stilstaan. Een van hulle wat Kleopas genoem word, antwoord Jesus toe: “U is seker die enigste buitelander in Jerusalem wat nie kennis dra van al die dinge wat gedurende hierdie dae in die stad gebeur het nie.” Jesus reageer en vra hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Dié dinge wat gaan oor Jesus van Nasaret. Hy was ’n profeet, kragtig in woord en daad voor God en die hele volk. Maar die priesterhoofde en ons volksleiers het Hom uitgelewer om tot die dood veroordeel en gekruisig te word. Ons het bly hoop dat dit Hy is wat Israel gaan verlos. Maar dit is ook al vandag die derde dag vandat al hierdie dinge gebeur het. Sommige vroue uit ons geledere het ons nog boonop heeltemal verwar. Hulle was vanoggend baie vroeg by die graf, maar kon nie sy liggaam daar kry nie. Hulle het kom berig dat hulle ’n visioen van engele gesien het wat gesê het dat Hy lewe. Sommige van ons het na die graf toe gegaan en dit net so aangetref soos die vroue vertel het. Maar vir Hóm het hulle nie gesien nie.” Toe sê Jesus vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle om alles wat die profete gesê het, te glo! Moes die Messias nie hierdie dinge ly om sy heerlikheid in te gaan nie?” Hierna het Jesus begin om vanaf Moses en al die profete al die Skrifgedeeltes wat oor Hom handel, vir hulle te interpreteer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid