LUKAS 23:44-56
LUKAS 23:44-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. En kyk, daar was ook 'n man met die naam Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en •regverdige man. Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die •koninkryk van God. Hy het na •Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in 'n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.
LUKAS 23:44-56 Bybel vir almal (ABA)
Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. En Jesus het hard gesê: “ Vader, Ek gee myself vir U.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.” Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad. Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, 'n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur. Daar was 'n man, sy naam was Josef. Hy was 'n lid van die Joodse Raad en hy was 'n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses. Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus kan kry. Toe het Josef die liggaam van die kruis afgehaal en hy het dit in lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hulle het nog nie voorheen iemand in daardie graf begrawe nie. Dit het alles op die Vrydag gebeur, en daarna het die Sabbatdag begin. Die vroue wat saam met Jesus gekom het van Galilea, het die graf gesien en hulle het ook gesien hoe Josef die liggaam van Jesus in die graf sit. Daarna het die vroue teruggegaan na die stad. Hulle het lekkerruik-olie en salf gereedgemaak, hulle wou dit later aan Jesus se liggaam smeer. Maar op die Sabbatdag het hulle eers gerus, soos die Wette van Moses sê.
LUKAS 23:44-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit. En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig. En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan. En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien. EN daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man — hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.
LUKAS 23:44-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien. Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.
LUKAS 23:44-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien. En kyk, daar was ook 'n man met die naam Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en •regverdige man. Hy het nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hy was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea, en het uitgesien na die •koninkryk van God. Hy het na •Pilatus gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linnedoeke toegedraai en Hom neergelê in 'n rotsgraf waarin daar nog nooit iemand neergelê is nie. Dit was die Voorbereidingsdag, en die Sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Hom uit Galilea gekom het, het hom gevolg en die graf gesien, en ook hoe sy liggaam neergelê is. Daarna het hulle teruggekeer huis toe, en geurige speserye en reukolies gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus, soos die gebod voorskryf.
LUKAS 23:44-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit was omtrent die sesde uur, en daar was duisternis oor die hele aarde tot die negende uur. En die son is verduister, en die voorhangsel van die tempel het in die middel geskeur. En toe Jesus met 'n groot stem uitgeroep het, sê Hy: Vader, in u hande gee Ek my Gees oor; en nadat Hy dit gesê het, het Hy die asem gegee. En toe die hoofman oor honderd sien wat gebeur het, het hy God verheerlik en gesê: Dit was sekerlik 'n regverdige man. En al die mense wat by daardie gesig bymekaargekom het, het die dinge gesien wat gebeur het, en hulle het op hulle borste geslaan en teruggekeer. En al sy bekendes en die vroue wat hom van Galiléa gevolg het, het van ver af gestaan en hierdie dinge aanskou. En kyk, daar was 'n man met die naam van Josef, 'n raadgewer; en hy was 'n goeie man en 'n regverdige. (Hy het nie ingestem met die raad en daad van hulle nie;) hy was van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat self ook op die koninkryk van God gewag het. Hierdie man het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gesmeek. En hy het dit afgehaal en in linne toegedraai en dit in 'n graf neergelê wat in klip gekap was, waarin nog nooit iemand tevore gelê is nie. En daardie dag was die voorbereiding, en die sabbat het aangebreek. En ook die vroue wat saam met hom uit Galilea gekom het, het agterna gekom en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê is. En hulle het teruggegaan en speserye en salf berei; en het die sabbatdag gerus volgens die gebod.
LUKAS 23:44-56 Die Boodskap (DB)
Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!” Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het. Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word. Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het. Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was. Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het. Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou. Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was.
LUKAS 23:44-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.” Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan. Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou. Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man. Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie. Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word. Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus volgens die gebod in die wet.