LUKAS 23:32-37
LUKAS 23:32-37 Bybel vir almal (ABA)
Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom. Toe sê Jesus: “Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, nou moet Hy Homself red as Hy die Christus van God is, as God Hom gekies het om Koning te wees.” Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink. Hulle het gesê: “As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red.”
LUKAS 23:32-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word. EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp. En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is. En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.
LUKAS 23:32-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot. Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.” Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”
LUKAS 23:32-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!”
LUKAS 23:32-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar is ook twee ander kwaaddoeners saam met hom gelei om gedood te word. En toe hulle by die plek kom wat Golgota genoem word, het hulle Hom daar gekruisig en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. Toe sê Jesus: Vader, vergeef hulle; want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot gewerp. En die volk het gestaan en kyk. En die owerstes saam met hulle het Hom ook gespot en gesê: Ander het Hy gered; laat hy homself red as hy Christus is, die uitverkorenes van God. En die soldate het ook met hom gespot en na hom gekom en vir hom asyn geoffer, en gesê: As jy die koning van die Jode is, red jouself.
LUKAS 23:32-37 Die Boodskap (DB)
Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek. Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.” Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. “Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!”
LUKAS 23:32-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp. Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!” Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.”