LUKAS 23:26-29
LUKAS 23:26-29 Bybel vir almal (ABA)
Die soldate het vir Jesus weggevat. Daar het 'n man van buite die stad gekom, sy naam was Simon, hy was van die stad Sirene. Die soldate het hom gevat en hulle het Jesus se kruis op hom gesit. Hulle het vir hom gesê hy moet agter Jesus loop en hy moet die kruis dra. Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders. Julle moet weet, daar sal 'n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.”
LUKAS 23:26-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
LUKAS 23:26-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle 'n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit 'n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’
LUKAS 23:26-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die soldate Jesus weglei, het hulle 'n sekere Simon van Sirene gegryp wat van die platteland af gekom het. Hulle het die kruis op sy rug gesit om dit agter Jesus aan te dra. 'n Groot menigte van die volk het Hom gevolg, en ook vroue wat aanhoudend op hulle bors slaan en oor Hom weeklaag. Jesus het na hulle gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My huil nie! Huil liewer oor julleself en oor julle kinders, want kyk, daar kom dae wanneer mense sal sê, ‘Gelukkig is diegene wat onvrugbaar is, en die moederskoot wat nie 'n kind in die wêreld gebring het nie, en die borste wat nie kinders gevoed het nie.’
LUKAS 23:26-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle hom weglei, het hulle een Simon, 'n Cireneer, wat uit die land gekom het, gegryp, en hulle het die kruis op hom gelê, dat hy dit agter Jesus aan kon dra. En 'n groot menigte mense en vroue het Hom gevolg, wat ook oor Hom geweeklaag en beklaag het. Maar Jesus het na hulle omgedraai en gesê: Dogters van Jerusalem, ween nie oor My nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders. Want kyk, daar kom dae waarin hulle sal sê: Geseënd is die onvrugbare en die moederskoots wat nooit gebaar het nie, en die borste wat nooit gesoog het nie.
LUKAS 23:26-29 Die Boodskap (DB)
Daarna het die soldate Jesus weggevat na die plek buitekant die stad waar die mense gewoonlik gekruisig is. Langs die pad sien hulle toe ’n man wat uit die veld nader gestap kom om te kyk wat aan die gang was. Sy naam was Simon. Hy was afkomstig uit Sirene in Afrika. Die soldate tel toe Jesus se kruis op sy rug en sê: “Toe, dra hierdie man se kruis! Stap agter hom aan tot daar waar hy gekruisig moet word.” ’n Groot skare het ook agter Jesus aangestap. Baie vroue het hardop gehuil. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Moenie oor My huil nie. Huil liewer oor julle stad. Want vir julle en julle kinders gaan dit bitter swaar wees hier. Daar sal tye kom dat die mense sal sê: ‘Hoe gelukkig is daardie vroue wat nie kon kinders hê nie.’
LUKAS 23:26-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl hulle besig was om Jesus weg te lei, het hulle ene Simon van Sirene, wat van die veld af gekom het, geforseer om die kruis agter Jesus aan te dra. ’n Groot menigte van die volk het Jesus gevolg, ook vroue wat op hulle bors geslaan en oor Hom gehuil het. Jesus het na hulle toe gedraai en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor Mý huil nie; huil liewer oor julleself en julle kinders omdat daar dae kom wanneer mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nog nie ’n kind in die wêreld gebring het nie, sowel as die borste wat nog nooit gevoed het nie.’