LUKAS 22:7-19

LUKAS 22:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê: “Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.” Hulle vra toe vir Jesus: “Waar verkies U dat ons dit voorberei?” Hy antwoord hulle: “Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry. Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.” Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.” Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.”

LUKAS 22:7-19 Bybel vir almal (ABA)

Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.” Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?” Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.” Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.” Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.” Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”

LUKAS 22:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.” Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

LUKAS 22:7-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die dag van die Ongesuurde Brood, waarop die Pasgalam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir •Petrus en Johannes, met die woorde: “Gaan berei vir ons die Pasga voor, sodat ons dit kan eet.” Hulle het vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons voorbereidings tref?” En Hy antwoord hulle: “Kyk, sodra julle die stad binnegaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle tegemoetkom. Volg hom na die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra u: “Waar is die gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?” ’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig is. Daar moet julle voorbereidings tref.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.”

LUKAS 22:7-19 Die Boodskap (DB)

Die eerste dag van die paasfees waarop die paaslammetjies geslag moes word, het toe aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.” “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.” “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’ “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.” Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.” Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.” Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid