LUKAS 22:47-53
LUKAS 22:47-53 Bybel vir almal (ABA)
Jesus was besig om te praat, toe kom daar 'n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?” Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak. Toe vra Jesus vir almal wat gekom het om Hom te vang, die priesterleiers, die offisiere van die wagte wat by die tempel werk, en die familieleiers: “Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring? Dink julle Ek wil teen die regering veg? Ek was elke dag saam met julle by die tempel, en julle het My nie gevang nie. Maar nou is dit nag, die tyd wat die vyande van God kies om slegte dinge te doen, en julle kan nou doen wat julle besluit het om te doen.”
LUKAS 22:47-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus? En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
LUKAS 22:47-53 Afrikaans 1983 (AFR83)
Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”
LUKAS 22:47-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ”
LUKAS 22:47-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hy nog spreek, daar was 'n menigte, en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit gegaan en na Jesus gekom om hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen? Toe die wat rondom Hom was, sien wat sou volg, sê hulle vir Hom: Here, sal ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienaar van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En Jesus antwoord en sê: Laat julle so ver. En hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en die owerstes van die tempel en die ouderlinge wat na Hom gekom het: Gaan julle uit soos teen 'n dief met swaarde en stokke? Toe Ek elke dag saam met julle in die tempel was, het julle geen hande teen My uitgesteek nie, maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
LUKAS 22:47-53 Die Boodskap (DB)
Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond. Daarna draai Jesus na al die belangrike godsdienstige leiers en die soldate toe wat opgedaag het om Hom te kom vang: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Is Ek dalk ’n gevaarlike skelm dat julle met al hierdie wapens op My toesak? Dagin en daguit het Ek daar in die tempel vir julle gepreek. Hoekom het julle My nie toe gevang nie? Hoekom moet julle hier in die middel van die nag op My afkom asof Ek ’n misdadiger is? Maar, nou ja, dis mos die oomblik waarvoor julle al so lank gewag het. Nou is dit regtig ’n baie donker uur.”
LUKAS 22:47-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet. Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?” Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?” Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”