LUKAS 22:31-62
LUKAS 22:31-62 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.” Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?” Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.” Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.” Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.” Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.” Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan. Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.” Jesus het 'n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos 'n mens met 'n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Toe kom daar 'n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan. Hy het by die dissipels gekom en gesien hulle slaap vas. Hulle was moeg, want hulle was baie bekommerd oor Jesus. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie.” Jesus was besig om te praat, toe kom daar 'n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?” Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak. Toe vra Jesus vir almal wat gekom het om Hom te vang, die priesterleiers, die offisiere van die wagte wat by die tempel werk, en die familieleiers: “Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring? Dink julle Ek wil teen die regering veg? Ek was elke dag saam met julle by die tempel, en julle het My nie gevang nie. Maar nou is dit nag, die tyd wat die vyande van God kies om slegte dinge te doen, en julle kan nou doen wat julle besluit het om te doen.” Hulle het toe vir Jesus gevang en hulle het Hom na die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het ook saamgegaan, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Die mense wat vir Jesus gevang het, het 'n vuur aangesteek op die oop stuk grond voor die huis, en hulle het daar gaan sit. Petrus het ook by hulle gaan sit. Een van die meisies wat daar werk, het vir Petrus gesien waar hy by die vuur sit. Sy het lank na hom gekyk en gesê: “Hierdie man was ook saam met Jesus.” Maar Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Mevrou, ek ken Hom nie.” 'n Bietjie later het iemand anders, 'n man wat ook daar werk, vir Petrus gesien en gesê: “Jy is ook een van Jesus se mense.” Maar Petrus het gesê: “Man, ek is nie.” Ná omtrent 'n uur het 'n ander man ook gesê: “Maar ek is baie seker, hierdie man wás saam met Jesus se mense, want hy kom ook van Galilea.” Maar Petrus het gesê: “Man, ek weet nie van wie jy praat nie.” En dadelik, terwyl Petrus praat, het die haan gekraai. Toe draai die Here om en Hy kyk na Petrus. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal vandag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.” Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.
LUKAS 22:31-62 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie. EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar 'n einde. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg. EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. EN terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus? En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis. EN hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg. En toe hulle 'n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit. En 'n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom. Maar hy het Hom verloën en gesê: Vrou, ek ken Hom nie. En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus sê: Man, ek is nie. En ná verloop van omtrent een uur het 'n ander een dit verseker en gesê: Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook 'n Galiléër. Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie. En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai. En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
LUKAS 22:31-62 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.” Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.” Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?” “Nee, niks nie!” was hulle antwoord. Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” “Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle. Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.” Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.” Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!” 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.” Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!” Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!” En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
LUKAS 22:31-62 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie. ” Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter 'n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.” Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ” Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ” Nadat hulle Jesus gevange geneem het, het hulle Hom weggelei en die hoëpriester se ampswoning binnegelei. •Petrus het op 'n afstand gevolg. Hulle het 'n vuur in die middel van die voorhof aangesteek en daar by mekaar gaan sit, met Petrus tussen hulle. Toe 'n sekere diensmeisie hom daar in die lig van die vuur sien sit, het sy na hom gekyk en gesê: “Hy was ook saam met Hom.” Maar hy het dit ontken: “Ek ken Hom nie, vrou!” 'n Rukkie later het iemand anders hom opgemerk en gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus sê: “Man, ek is nie!” Ná ongeveer 'n uur het iemand anders daarop aangedring en gesê: “Sowaar, ook hy was saam met Hom, want hy is ook 'n Galileër!” Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie.” En dadelik, terwyl hy nog besig was om te praat, het 'n haan gekraai. Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk, en Petrus het die woorde van die Here onthou, dat Hy vir hom gesê het: “Voordat 'n haan vandag kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.
LUKAS 22:31-62 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het jou begeer om jou soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy jou bekeer, versterk jou broeders. En hy sê vir hom: Here, ek is gereed om saam met U te gaan, in die tronk sowel as in die dood. En hy sê: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal nie vandag kraai nie, voordat jy drie maal sal ontken dat jy My ken. En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle sonder beurs en sakrek en skoene gestuur het, het julle iets kortgekom? En hulle sê: Niks nie. Toe sê hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem, en so ook sy sak; en wie geen swaard het nie, laat hom sy kleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog in my volbring moet word: En hy is onder die oortreders gereken, want aan my dinge het 'n einde. En hulle sê: Here, kyk, hier is twee swaarde. En Hy sê vir hulle: Dit is genoeg. En hy het uitgegaan en soos hy gewoond was, na die Olyfberg gegaan; en sy dissipels het Hom ook gevolg. En toe Hy op die plek was, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En hy is van hulle teruggetrek omtrent 'n klipgooi, en het neergekniel en gebid: en gesê: Vader, as U wil, neem hierdie beker van My weg; laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. En 'n engel het uit die hemel aan hom verskyn wat hom versterk het. En terwyl hy in angs was, het hy ernstiger gebid, en sy sweet was soos groot druppels bloed wat op die grond geval het. En toe Hy opstaan van die gebed en by sy dissipels kom, vind Hy hulle aan die slaap van droefheid, En hy sê vir hulle: Waarom slaap julle? staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. En terwyl hy nog spreek, daar was 'n menigte, en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit gegaan en na Jesus gekom om hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen? Toe die wat rondom Hom was, sien wat sou volg, sê hulle vir Hom: Here, sal ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienaar van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En Jesus antwoord en sê: Laat julle so ver. En hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en die owerstes van die tempel en die ouderlinge wat na Hom gekom het: Gaan julle uit soos teen 'n dief met swaarde en stokke? Toe Ek elke dag saam met julle in die tempel was, het julle geen hande teen My uitgesteek nie, maar dit is julle uur en die mag van die duisternis. Toe het hulle Hom geneem en Hom gelei en Hom in die hoëpriester se huis gebring. En Petrus het ver weg gevolg. En toe hulle 'n vuur in die middel van die saal aangesteek het en saam gaan sit het, het Petrus tussen hulle gaan sit. Maar 'n sekere diensmeisie het hom gesien terwyl hy by die vuur sit, en hom ernstig aangekyk en gesê: Hierdie man was ook by hom. En hy het hom verloën en gesê: Vrou, ek ken hom nie. En ná 'n rukkie het 'n ander hom gesien en gesê: Jy is ook van hulle. En Petrus sê: Mens, ek is nie. En omtrent 'n uur daarna het 'n ander dit vol vertroue bevestig en gesê: Voorwaar, hierdie man was ook by hom, want hy is 'n Galiléër. En Petrus sê: Mens, ek weet nie wat jy sê nie. En dadelik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai. En die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. En Petrus het die woord van die Here onthou hoe Hy vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En Petrus het uitgegaan en bitterlik geween.
LUKAS 22:31-62 Die Boodskap (DB)
Jesus draai toe na Simon Petrus toe: “Simon! My liewe Simon, as jy net weet hoe hard die duiwel probeer om julle uit my hand uit te ruk. Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is.” Petrus antwoord toe vinnig: “Here, U moet U nie bekommer nie. My geloof is glad nie so klein nie. Ek sal deur dik en dun by U staan, ook al moet U tronk toe gaan of doodgemaak word.” Toe antwoord Jesus hom: “Petrus, moenie so selfversekerd wees nie. Ek sê vir jou, vannag nog sal jy jou rug vir My draai. Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Daarna draai Jesus na die ander dissipels toe en sê vir hulle: “Onthou julle hoe Ek julle ’n ruk gelede uitgestuur het om vir die mense te gaan sê God se nuwe wêreld is hier? Wel, Ek het toe vir julle gesê om nie ’n beursie vol geld of ekstra klere saam te vat nie. Sê My, het julle toe iets kortgekom? Het julle een aand honger gaan slaap?” “Nee!” het hulle soos een man geantwoord. “Maar kyk, vannag is alles anders! Nou moet julle al julle geld bymekaarmaak. Pak julle klere in. En as julle nie ’n wapen het nie, sorg dat julle een in die hande kry. Julle ken mos daardie woorde in die Bybel: ‘Hy is soos ’n misdadiger behandel’? Wel, Ek gaan dit nou waar laat word. Die tyd is nou hier!” Toe sê die dissipels vir Jesus: “Ons sal doen wat U sê. Ons het darem twee swaarde hier tussen ons as dinge regtig handuit ruk.” “Dis meer as genoeg,” het Jesus geantwoord. Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.” Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond. Daarna draai Jesus na al die belangrike godsdienstige leiers en die soldate toe wat opgedaag het om Hom te kom vang: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Is Ek dalk ’n gevaarlike skelm dat julle met al hierdie wapens op My toesak? Dagin en daguit het Ek daar in die tempel vir julle gepreek. Hoekom het julle My nie toe gevang nie? Hoekom moet julle hier in die middel van die nag op My afkom asof Ek ’n misdadiger is? Maar, nou ja, dis mos die oomblik waarvoor julle al so lank gewag het. Nou is dit regtig ’n baie donker uur.” Die mense het Jesus gevange geneem. Van daar af is hulle met Hom reguit na die hoëpriester se huis toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy het gesien dat ’n klompie mense ’n vuur daar in die agterplaas gemaak het om hulle warm te hou. Hy het toe tussen hulle gaan sit. Een van die vroue wat in die hoëpriester se kombuis werk, het hom dadelik herken. Sy sê vir die ander: “Ek het daardie man al saam met Jesus van Nasaret gesien. Hy is een van sy vriende.” Maar Petrus het dit dadelik ontken en gesê: “Vroumens, jy maak ’n groot fout! Ek en daardie man is glad nie vriende nie.” ’n Rukkie later het iemand anders ook vir Petrus herken en vir hom gesê: “Maar jy is dan een van die volgelinge van daardie Jesus!” “Kyk, jy’s heeltemal laf!” het Petrus vinnig gereageer. ’n Uur of wat later het nog iemand vir die ander mense gesê: “Sowaar, daardie man is ook ’n volgeling van daardie man van Nasaret. Luister net na sy aksent. Hulle klomp daar in Galilea sê mos sekere woorde anders as ons hier in Judea.” “Hoor hier, ek was nog nooit eens naby Hom nie,” het Petrus geantwoord. Terwyl hy nog praat, het ’n haan iewers in die vroeë oggendure gekraai. Jesus het geweet dat Petrus so ’n entjie van Hom af tussen die mense staan. Die Here draai toe om en kyk hom stip in die oë. Toe tref die Here se woorde van vroeër die aand vir Petrus soos ’n voorhamer: “Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Petrus het toe in die donker ingehardloop en bitterlik gehuil.
LUKAS 22:31-62 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.” Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.” Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?” Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!” Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop. Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.” Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.” Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup. Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet. Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?” Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?” Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.” Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg. In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit. ’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.” Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!” ’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.” Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!” Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.” Petrus het geantwoord: “Man, ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie!” Eensklaps, terwyl hy nog besig is om te praat, het daar ’n haan gekraai. Die Here het omgedraai en Petrus stip aangekyk. Petrus het die Here se woorde onthou toe Hy aan hom gesê het: “Voordat die haan nog vannag kraai, sal jy drie keer ontken dat jy My ken.” En hy het buitentoe gegaan en onbedaarlik gehuil.