LUKAS 22:31-38

LUKAS 22:31-38 Bybel vir almal (ABA)

Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.” Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?” Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.” Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.” Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.” Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”

LUKAS 22:31-38 Die Boodskap (DB)

Jesus draai toe na Simon Petrus toe: “Simon! My liewe Simon, as jy net weet hoe hard die duiwel probeer om julle uit my hand uit te ruk. Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is.” Petrus antwoord toe vinnig: “Here, U moet U nie bekommer nie. My geloof is glad nie so klein nie. Ek sal deur dik en dun by U staan, ook al moet U tronk toe gaan of doodgemaak word.” Toe antwoord Jesus hom: “Petrus, moenie so selfversekerd wees nie. Ek sê vir jou, vannag nog sal jy jou rug vir My draai. Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Daarna draai Jesus na die ander dissipels toe en sê vir hulle: “Onthou julle hoe Ek julle ’n ruk gelede uitgestuur het om vir die mense te gaan sê God se nuwe wêreld is hier? Wel, Ek het toe vir julle gesê om nie ’n beursie vol geld of ekstra klere saam te vat nie. Sê My, het julle toe iets kortgekom? Het julle een aand honger gaan slaap?” “Nee!” het hulle soos een man geantwoord. “Maar kyk, vannag is alles anders! Nou moet julle al julle geld bymekaarmaak. Pak julle klere in. En as julle nie ’n wapen het nie, sorg dat julle een in die hande kry. Julle ken mos daardie woorde in die Bybel: ‘Hy is soos ’n misdadiger behandel’? Wel, Ek gaan dit nou waar laat word. Die tyd is nou hier!” Toe sê die dissipels vir Jesus: “Ons sal doen wat U sê. Ons het darem twee swaarde hier tussen ons as dinge regtig handuit ruk.” “Dis meer as genoeg,” het Jesus geantwoord.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid