LUKAS 22:1-53
LUKAS 22:1-53 Die Boodskap (DB)
Die paasfees was nou voor die deur. Tydens hierdie fees het die Jode ’n lam geslag en ongesuurde brood geëet. Hulle het dan teruggedink aan hoe God hulle voorvaders daar uit Egipte bevry het. Die godsdienstige leiers was baie omgekrap oor alles wat Jesus in die tempel gesê het. Hulle het toe besluit dis genoeg. Jesus moes doodgemaak word. Maar hulle het nie mooi geweet hoe nie, want die skare was in vervoering oor Hom. Toe kry hulle hulp uit ’n onverwagse oord. Judas Iskariot, een van Jesus se eie dissipels, het agteraf na hulle toe gekom en vir hulle gesê dat hy hulle sou help om Jesus te vang. Die duiwel self het in Judas ingevaar. Die godsdienstige leiers was in ekstase oor Judas se aanbod. “Ons sal jou baie goed betaal,” het hulle vir hom gesê. Hulle het toe saam ’n plan uitgewerk hoe om Jesus te vang. “Ek sal wag vir die regte oomblik, dan sal ek vir julle ’n teken gee sodat julle Hom kan arresteer,” het Judas vir hulle gesê. Die eerste dag van die paasfees waarop die paaslammetjies geslag moes word, het toe aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes geroep en gesê: “Gaan kry asseblief vir ons die paasmaaltyd gereed. Ons moet dit saam vier.” “Waar moet ons dan die paasmaaltyd gaan voorberei?” vra hulle toe vir Hom. “Nie een van ons het dan ’n blyplek hier in Jerusalem nie.” “Gaan gou in Jerusalem in,” sê Jesus vir hulle. “Wees op die uitkyk vir ’n man wat ’n emmer water dra. Stap saam met hom na sy huis toe en sê vir hom: ‘Ons Meester vra: Waar is die kamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd moet kom eet?’ “Dan sal daardie man julle na ’n groot kamer op die boonste verdieping van sy huis toe vat waar alles klaar regstaan vir die paasmaaltyd.” Petrus en Johannes is toe daar weg en het alles net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het toe gou-gou aan die werk gespring en die paasmaaltyd voorberei. Teen sononder het die paasmaaltyd begin. Jesus en al twaalf apostels was daar. Hy sê toe vir hulle: “Ai, as julle net weet hoe Ek uitgesien het na hierdie paasmaaltyd saam met julle. Dis my laaste ete saam met julle voordat my swaarkry en lyding begin. Ja, Ek sal vir seker nie weer so feesvier voordat God se nuwe wêreld in al sy glorie hier is nie.” Toe vat Jesus die beker met die wyn. Nadat Hy vir God daarvoor dankie gesê het, sê Hy: “Neem die wyn en deel dit onder julle almal uit. Weet julle, Ek sal eers weer so saam met julle wyn drink wanneer ons daardie nuwe hemelse wyn aan my Vader se tafel drink.” Toe vat Jesus die brood, sê vir God daarvoor dankie, breek dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet,” sê Hy. “Dit is my liggaam. Dink elke keer aan My as julle saam hierdie brood breek en eet. Onthou dan dat Ek my lewe vir julle opgeoffer het.” Toe almal klaar geëet het, vat Jesus weer die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die teken en die bewys dat God ’n splinternuwe ooreenkoms met julle maak. My bloed wat binnekort gaan vloei, sal al julle sondes wegwas. Dit sal maak dat julle in ’n nuwe verhouding met God staan. “Maar Ek het ook slegte nuus. Een van julle wat hier saam met My aan die tafel sit, gaan My nog in die rug steek. God het besluit dat Ek, die Seun van die mens, moet kom ly. Maar daar wag groot probleme op dié een wat gaan maak dat Ek in die hande van my vyande beland.” Die dissipels was baie geskok daaroor. Hulle het onderlangs vir mekaar gevra: “Wie van ons sal so ’n verskriklike ding aanvang?” Terwyl hulle nog aan tafel sit, het die dissipels aan die stry geraak oor wie van hulle die belangrikste is. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is. Maar julle moenie soos hulle wees nie. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan. “Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My. Julle was bereid om deur dik en dun by My te staan. Daarom het Ek ’n wonderlike geskenk vir julle. Ek gaan vir julle elkeen ’n spesiale plek gee daar in die splinternuwe wêreld wat God aan my sorg toevertrou het. Daar sal ons almal saam feesvier. Julle sal die eregaste aan my tafel wees en saam met My eet en drink. Ja, julle sal selfs saam met My oor Israel se finale lot besluit.” Jesus draai toe na Simon Petrus toe: “Simon! My liewe Simon, as jy net weet hoe hard die duiwel probeer om julle uit my hand uit te ruk. Maar moenie bekommerd wees nie: Ek het spesifiek vir jou gebid! Ek het God gevra om te sorg dat jy nooit sal ophou glo nie. Nou is jou geloof maar swak, maar een van die dae sal dit anders wees. Glo My! Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy asseblief omsien na al die ander gelowiges. Bemoedig hulle dan en sorg dat hulle geloof ook sterk is.” Petrus antwoord toe vinnig: “Here, U moet U nie bekommer nie. My geloof is glad nie so klein nie. Ek sal deur dik en dun by U staan, ook al moet U tronk toe gaan of doodgemaak word.” Toe antwoord Jesus hom: “Petrus, moenie so selfversekerd wees nie. Ek sê vir jou, vannag nog sal jy jou rug vir My draai. Nog voor die haan môreoggend kraai, sal jy drie keer maak of jy My nie ken nie.” Daarna draai Jesus na die ander dissipels toe en sê vir hulle: “Onthou julle hoe Ek julle ’n ruk gelede uitgestuur het om vir die mense te gaan sê God se nuwe wêreld is hier? Wel, Ek het toe vir julle gesê om nie ’n beursie vol geld of ekstra klere saam te vat nie. Sê My, het julle toe iets kortgekom? Het julle een aand honger gaan slaap?” “Nee!” het hulle soos een man geantwoord. “Maar kyk, vannag is alles anders! Nou moet julle al julle geld bymekaarmaak. Pak julle klere in. En as julle nie ’n wapen het nie, sorg dat julle een in die hande kry. Julle ken mos daardie woorde in die Bybel: ‘Hy is soos ’n misdadiger behandel’? Wel, Ek gaan dit nou waar laat word. Die tyd is nou hier!” Toe sê die dissipels vir Jesus: “Ons sal doen wat U sê. Ons het darem twee swaarde hier tussen ons as dinge regtig handuit ruk.” “Dis meer as genoeg,” het Jesus geantwoord. Toe die ete klaar was, het Jesus opgestaan en oudergewoonte weer na die Olyfberg toe gestap. So ook sy dissipels. Daar aangekom, sê Hy vir hulle: “Julle moet ernstig bid dat julle nie in die versoeking beland en teen God sondig nie.” Jesus het toe ’n ent van hulle af weggestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy op sy knieë neergeval en begin bid: “My Vader, kan U nie asseblief u planne verander sodat Ek nie meer die pad wat vir My voorlê, hoef te loop nie? Is daar nie dalk ’n ander uitweg nie? Maar Ek probeer nie nou self allerhande planne maak nie. Maak U die planne! Ek val daarby in.” Terwyl Jesus nog bid, het ’n engel daar na Hom toe gekom om Hom krag te gee vir alles wat op Hom gewag het. Jesus was nou in ’n geweldige stryd gewikkel. Hy het so ernstig gebid dat Hy later papnat van die sweet was. Dit het soos bloeddruppels van Hom afgeloop en op die grond geval. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan en teruggestap na sy dissipels toe. Hulle almal was vas aan die slaap. ’n Paar van hulle het ’n rukkie vantevore met trane in die oë aan die slaap geraak toe hulle sien hoe swaar Jesus kry. Hy sê toe vir hulle: “Word wakker! Dis nie nou die tyd om te lê en slaap nie. Julle moet nou bid dat julle nie voor die sonde swig nie.” Jesus se woorde was skaars koud of Judas, een van sy twaalf apostels, daag daar op met ’n groot skare mense kort op sy hakke. Hy stap toe tot by Jesus en soen Hom daar voor almal. “Judas, is dit hoe jy nou die Seun van die mens uitverkoop? Verraai jy My met ’n soen, wat eintlik veronderstel is om te wys hoe lief jy My het?” het Jesus hom gevra. Die ander dissipels was baie geskok toe hulle agterkom dat Judas sy verraaier is. “Here, sê net, dan baklei ons! Ons sal U beskerm,” sê hulle vir Jesus. Voordat Hy kon antwoord, pluk een van die dissipels skielik ’n swaard uit en kap daarmee die regteroor van een van die hoëpriester se werkers af. “Stop! Hou dadelik op!” het Jesus gou vir hom gesê. Toe raak Hy die werker se oor aan. Dit was dadelik gesond. Daarna draai Jesus na al die belangrike godsdienstige leiers en die soldate toe wat opgedaag het om Hom te kom vang: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Is Ek dalk ’n gevaarlike skelm dat julle met al hierdie wapens op My toesak? Dagin en daguit het Ek daar in die tempel vir julle gepreek. Hoekom het julle My nie toe gevang nie? Hoekom moet julle hier in die middel van die nag op My afkom asof Ek ’n misdadiger is? Maar, nou ja, dis mos die oomblik waarvoor julle al so lank gewag het. Nou is dit regtig ’n baie donker uur.”
LUKAS 22:1-53 Bybel vir almal (ABA)
Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood. Hulle het hierdie fees ook “ Paasfees” genoem. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het planne gemaak om Jesus dood te maak. Dit was geheime planne, want hulle was bang vir die mense. Een van die dissipels se naam was Judas. Hulle het hom ook Iskariot genoem. Die Satan het in Judas ingegaan. Toe gaan Judas na die priesterleiers en die offisiere van die wagte wat by die tempel gewerk het. Judas het met hulle gepraat oor hoe hy hulle kon help om Jesus te vang. Hulle was bly en hulle het besluit om vir Judas geld te gee. Judas het gesê dit is goed. Toe het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Hy moes dit doen waar daar nie ook ander mense is nie. Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.” Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?” Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.” Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.” Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.” Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.” Nadat hulle geëet het, het Jesus 'n beker wyn geneem. Hy het gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir julle sal vloei, is die bloed van die nuwe verbond. Maar kyk, die man wat My sal verraai, eet saam met My by hierdie tafel. Dit is waar dat Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos God besluit het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry.” Die apostels het vir mekaar gevra wie van hulle so iets sal wil doen. Die apostels het toe met mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Die konings van die wêreld wil regeer oor hulle mense, en almal wat regeer, hou daarvan dat die mense sê hulle doen baie goeie dinge vir hulle mense. Maar julle moenie so wees nie. As iemand van julle belangrik wil wees, dan moet hy wees soos die jongste van julle, die een wat al die ander moet bedien. As iemand 'n leier wil wees, dan moet hy almal bedien. Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien. Julle het altyd by My gebly toe dit sleg gegaan het met My. Daarom sal Ek vir julle konings maak soos my Vader vir My 'n Koning gemaak het. Dan sal julle saam met My kan eet en drink by my tafel waar Ek Koning is. Julle sal op trone sit en julle sal die twaalf stamme van Israel oordeel.” Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.” Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?” Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.” Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.” Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.” Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.” Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan. Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.” Jesus het 'n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos 'n mens met 'n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Toe kom daar 'n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan. Hy het by die dissipels gekom en gesien hulle slaap vas. Hulle was moeg, want hulle was baie bekommerd oor Jesus. Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie.” Jesus was besig om te praat, toe kom daar 'n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?” Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak. Toe vra Jesus vir almal wat gekom het om Hom te vang, die priesterleiers, die offisiere van die wagte wat by die tempel werk, en die familieleiers: “Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring? Dink julle Ek wil teen die regering veg? Ek was elke dag saam met julle by die tempel, en julle het My nie gevang nie. Maar nou is dit nag, die tyd wat die vyande van God kies om slegte dinge te doen, en julle kan nou doen wat julle besluit het om te doen.”
LUKAS 22:1-53 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees. En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was. Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee. En hy het toegestem en na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer. EN die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u — waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei. En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei. En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. EN daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie 'n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien. En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel. EN die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk. En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie. EN Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar 'n einde. Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg. EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die slaap van droefheid. En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. EN terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus? En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here, moet ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en stokke? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
LUKAS 22:1-53 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om dit te doen. Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar. Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. Hulle was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. Hy het ingestem en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk nie by is nie. Die dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.” Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?” Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei. Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.” Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.” Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word. “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!” Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen. Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien. “Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.” “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.” Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.” Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?” “Nee, niks nie!” was hulle antwoord. Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” “Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle. Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?” Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?” Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees. Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower? Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”
LUKAS 22:1-53 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood, bekend as die Pasga. Die leierpriesters en die skrifkenners het bly soek na 'n geskikte manier om Hom dood te maak, omdat hulle bang was vir die volk. Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is, een van die twaalf, ingevaar. Hy het weggegaan en met die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag onderhandel oor hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. Hulle was bly, en het afgespreek om hom geld te gee. Hy het ingestem, en aanhou soek na 'n gepaste geleentheid om Hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare. Die dag van die Ongesuurde Brood, waarop die Pasgalam geslag moes word, het aangebreek. Jesus stuur toe vir •Petrus en Johannes, met die woorde: “Gaan berei vir ons die Pasga voor, sodat ons dit kan eet.” Hulle het vir Hom gevra: “Waar wil U hê moet ons voorbereidings tref?” En Hy antwoord hulle: “Kyk, sodra julle die stad binnegaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle tegemoetkom. Volg hom na die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis, ‘Die Leermeester vra u: “Waar is die gastekamer waar Ek die Pasga saam met my dissipels moet eet?” ’ Hy sal vir julle 'n groot bokamer wys wat reeds ingerig is. Daar moet julle voorbereidings tref.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die Pasga voorberei. Toe die uur aanbreek, het Hy en die •apostels saam met Hom vir ete aangeleun. Toe sê Hy vir hulle: “Ek het van harte begeer om hierdie Pasga saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet totdat dit vervul is in die •koninkryk van God nie. ” Daarna het Hy 'n beker geneem, en nadat Hy gedank het, gesê: “Neem dit, en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, van nou af sal Ek beslis nie weer van die vrug van die druiwestok drink, totdat die koninkryk van God gekom het nie.” En Hy het brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, en gee dit vir hulle, en sê: “Dit is my liggaam, wat vir julle gegee word. Doen dit om My in herinnering te bring.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker, wat ter wille van julle uitgegiet word, is die nuwe verbond deur my bloed. Maar kyk, die hand van die een wat My gaan verraai, is saam met My aan tafel. Want met die •Seun van die Mens sal dit gaan soos wat dit bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word.” Hulle het mekaar toe begin afvra wie van hulle dit tog sou wees wat so iets sou doen. Daar het toe 'n twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Maar Hy sê vir hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en diegene wat gesag oor hulle het, word weldoeners genoem. Julle is egter nie so nie. Maar laat die belangrikste onder julle wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos iemand wat dien. Want wie is belangriker, die een wat aan tafel aanleun, of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie? Ek, egter, is tussen julle soos iemand wat dien. “Julle is die mense wat deur al my beproewinge steeds by My gebly het. Ek bemaak aan julle 'n koninkryk, net soos my Vader dit aan My bemaak het, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel. ” “Simon, Simon! Kyk, Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan.” Maar Jesus sê: “Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vandag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie. ” Daarna het Hy vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie, reissak en sandale, het julle iets kortgekom?” “Niks nie!” antwoord hulle. Toe sê Hy vir hulle: “Wie nou egter 'n beursie besit, moet dit saamneem, en so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet sy bokleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle, hierdie Skrifwoord moet in My vervulling vind, ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Want die woorde wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek.” Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dit is genoeg.” Hy het vertrek en, soos gewoonlik, na die Olyfberg gegaan. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy by die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het toe 'n entjie van hulle af weggestap, ongeveer 'n klipgooi ver, gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. ” Daar het 'n engel uit die hemel aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy is deur intense angs oorval, en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed op die grond geval. Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na sy dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. ” Jesus was nog besig om te praat, toe kom daar skielik 'n menigte aan, en die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, is dit met 'n soen dat jy die •Seun van die Mens oorlewer?” Toe diegene wat saam met Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval? ” Daarop het een van hulle die slaaf van die hoëpriester getref, en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gesê: “Hou op daarmee!” Hy het die oor aangeraak en die man genees. Jesus het toe vir die leierpriesters en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels uitgetrek soos teen 'n rower? Ek was daagliks saam met julle op die tempelterrein, en tog het julle nie 'n hand op My gelê nie; maar dit is julle uur – nou regeer die duisternis. ”
LUKAS 22:1-53 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die fees van die ongesuurde brode het naby gekom, wat die Pasga genoem word. En die owerpriesters en skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon doodmaak; want hulle was bang vir die volk. Toe het Satan in Judas ingegaan, met die bynaam Iskariot, wat in die getal van die twaalf was. En hy het gegaan en met die owerpriesters en owerstes gespreek hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. En hulle was bly en het 'n verbond aangegaan om hom geld te gee. En hy het beloof en geleentheid gesoek om hom aan hulle oor te lewer in die afwesigheid van die skare. Toe het die dag van ongesuurde brode gekom, wanneer die pasga geslag moet word. En hy het Petrus en Johannes gestuur om te sê: Gaan berei vir ons die pasga, dat ons kan eet. En hulle sê vir hom: Waar wil jy hê moet ons voorberei? En Hy sê vir hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom in die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester sê vir jou: Waar is die gastekamer waar Ek die pasga saam met my dissipels sal eet? En hy moet jou 'n groot bovertrek wys wat toegerus is; maak daar gereed. En hulle het gegaan en gevind soos Hy vir hulle gesê het, en hulle het die pasga berei. En toe die uur aangebreek het, het Hy gaan sit, en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het begeer om hierdie pasga saam met julle te eet voordat ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. En Hy het die beker geneem, gedank en gesê: Neem dit en deel dit onder julle. Want Ek sê vir julle, Ek sal nie van die vrug van die wingerdstok drink nie, totdat die koninkryk van God kom. En Hy het brood geneem, gedank en dit gebreek en aan hulle gegee en gesê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, deur te sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by my op die tafel. En waarlik, die Seun van die mens gaan, soos bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! En hulle het onder mekaar begin vra wie van hulle dit was wat hierdie ding sou doen. En daar was ook 'n twis onder hulle, wie van hulle as die grootste gereken moes word. En hy sê vir hulle: Die konings van die heidene heers oor hulle; en hulle wat gesag oor hulle uitoefen, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die grootste onder julle, laat hom wees soos die jongste; en hy wat die hoof is, soos hy wat dien. Want wat is groter, hy wat aan tafel sit, of hy wat dien? is dit nie hy wat aan tafel sit nie? maar Ek is onder julle soos die een wat dien. Julle is hulle wat by my gebly het in my versoekings. En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader vir My bestem het; sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel. En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het jou begeer om jou soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy jou bekeer, versterk jou broeders. En hy sê vir hom: Here, ek is gereed om saam met U te gaan, in die tronk sowel as in die dood. En hy sê: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal nie vandag kraai nie, voordat jy drie maal sal ontken dat jy My ken. En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle sonder beurs en sakrek en skoene gestuur het, het julle iets kortgekom? En hulle sê: Niks nie. Toe sê hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem, en so ook sy sak; en wie geen swaard het nie, laat hom sy kleed verkoop en een koop. Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog in my volbring moet word: En hy is onder die oortreders gereken, want aan my dinge het 'n einde. En hulle sê: Here, kyk, hier is twee swaarde. En Hy sê vir hulle: Dit is genoeg. En hy het uitgegaan en soos hy gewoond was, na die Olyfberg gegaan; en sy dissipels het Hom ook gevolg. En toe Hy op die plek was, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En hy is van hulle teruggetrek omtrent 'n klipgooi, en het neergekniel en gebid: en gesê: Vader, as U wil, neem hierdie beker van My weg; laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied. En 'n engel het uit die hemel aan hom verskyn wat hom versterk het. En terwyl hy in angs was, het hy ernstiger gebid, en sy sweet was soos groot druppels bloed wat op die grond geval het. En toe Hy opstaan van die gebed en by sy dissipels kom, vind Hy hulle aan die slaap van droefheid, En hy sê vir hulle: Waarom slaap julle? staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. En terwyl hy nog spreek, daar was 'n menigte, en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit gegaan en na Jesus gekom om hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen? Toe die wat rondom Hom was, sien wat sou volg, sê hulle vir Hom: Here, sal ons met die swaard slaan? En een van hulle het die dienaar van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En Jesus antwoord en sê: Laat julle so ver. En hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en die owerstes van die tempel en die ouderlinge wat na Hom gekom het: Gaan julle uit soos teen 'n dief met swaarde en stokke? Toe Ek elke dag saam met julle in die tempel was, het julle geen hande teen My uitgesteek nie, maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
LUKAS 22:1-53 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Fees van die Ongesuurde Brood, wat ook Pasga genoem word, was baie naby. Die priesterhoofde en die skrifkenners het steeds bly soek na ’n onopvallende manier om van Jesus ontslae te raak, want hulle was bang vir die volk. Satan het in Judas ingevaar wat Iskariot genoem is, een van die twaalf. Hy het toe weggegaan om te onderhandel met die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer. Hulle was opgewonde en het ooreengekom om geld aan hom te gee. Judas het ten volle ingestem en na ’n gunstige geleentheid gesoek om Jesus uit te lewer waar die skares nie teenwoordig is nie. Die Dag van die Ongesuurde Brood waarop die paaslam geslag moes word, het aangebreek. Jesus het vir Petrus en Johannes gestuur en gesê: “Gaan maak die paasmaaltyd gereed sodat ons kan kom aansit.” Hulle vra toe vir Jesus: “Waar verkies U dat ons dit voorberei?” Hy antwoord hulle: “Kyk, wanneer julle die stad binnegaan, sal ’n man julle teëkom wat ’n kan water dra. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.” Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry. Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.” Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar. Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.” Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.” Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word. “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel. Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!” Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen. Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. Jesus het egter gereageer: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en dié wat gesag oor hulle uitoefen, laat noem hulleself weldoeners. “By julle moet dit egter nie só gaan nie, maar die belangrikste een onder julle moet wees soos die geringste, en die een wat leiding gee, soos een wat dien. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is of die een wat bedien? Dit is tog hy wat aan tafel is. Ek is egter in julle midde soos een wat dien. Maar julle is die mense wat deur dik en dun in my swaarkry by My gebly het. “Net soos my Vader ’n koninkryk aan My toegewys het, só bemaak Ek dit ook aan julle sodat julle in my koninkryk kan eet en drink aan my tafel en kan sit op trone om oor die twaalf stamme van Israel reg te spreek.” “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Let op, Satan het God ernstig gevra dat hy julle soos koring kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges ondersteun.” Petrus sê vir Jesus: “Here, ek is gereed om saam met U die pad te loop tot in die gevangenis en die dood.” Jesus het egter gereageer: “Petrus, Ek sê dit nou vir jou: ’n Haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal ontken het dat jy My ken nie.” Jesus het ook vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder ’n geldbeurs of reissak of sandale, het julle enigiets kortgekom?” Hulle antwoord was: “Nee, niks nie!” Toe sê Jesus vir hulle: “Maar nou, wie ’n geldbeurs besit, moet dit saamneem; net so ook ’n reissak. En wie nie een het nie, moet sy klere verkoop om ’n swaard te kan koop. Ek sê vir julle: Dit staan so in die Skrif en moet in My vervul word: ‘Hy is saam met die wetteloses gereken.’ Ja, want wat op My betrekking het, word nou voltrek.” Hulle sê toe daarop: “Here, let op, hier is twee swaarde.” Hy sê vir hulle: “Dis genoeg.” Jesus het uit die stad gegaan na die Olyfberg, soos Hy gewoond was om te doen. En die dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op ’n sekere plek kom, sê Hy vir hulle: “Hou aan bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Jesus het Hom toe van hulle afgesonder, ongeveer ’n klipgooi ver. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geld!” Daar het ’n engel uit die hemel aan Jesus verskyn en Hom versterk. Terwyl Hy intense angs beleef, het Jesus nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos druppels bloed geword wat op die grond drup. Nadat Jesus van die gebed opgestaan en by die dissipels gekom het, kry Hy hulle aan die slaap, gedreineer deur die hartseer. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle aan die slaap? Staan op en bid dat julle nie aan versoeking sal toegee nie.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, het ’n skare daar bymekaargekom. Die man wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor die mense uit geloop en al nader aan Jesus gekom om Hom te soengroet. Jesus het gereageer: “Judas, lewer jy die Seun van die Mens uit met ’n soen?” Toe dié wat saam met Jesus daar was, besef wat met Hom gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard tref?” Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower? Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”