LUKAS 21:29-38
LUKAS 21:29-38 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir sy dissipels 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Julle moet kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer die blare begin groei, dan weet julle en kan julle self sien die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die tyd is naby wanneer God Koning sal wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Julle moet oppas, julle moenie julle geld mors en dronk word en bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, want dan sal julle vir God vergeet. En die dag wanneer God Koning sal word, sal dan vir julle te skielik kom. Dit sal wees soos 'n vangstrik wat skielik 'n voël vang. Ja, dit sal skielik gebeur met al die mense wat op die aarde woon. Julle moet altyd gereed wees. Julle moet bid dat julle krag sal hê om weg te vlug van al hierdie dinge wat gou sal gebeur. Julle moet bid dat julle gereed sal wees wanneer die Seun van die mens julle sal oordeel.” Jesus het in die dag vir die mense in die tempel geleer, maar wanneer dit aand geword het, het Hy uitgegaan na die Olyf-berg en Hy het die hele nag daar gebly. En vroeg die volgende oggend het al die mense weer na Hom kom luister by die tempel.
LUKAS 21:29-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. EN Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word. En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.
LUKAS 21:29-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” “Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos 'n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.” Bedags was Jesus in die tempel besig om die mense te leer, maar snags het Hy uitgegaan en buite op die Olyfberg vernag. In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister.
LUKAS 21:29-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: “Kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer hulle reeds bot, merk julle dit self op en weet dat die somer naby is. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die •koninkryk van God naby is. •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie. “Wees op julle hoede dat julle harte nie belas word deur oormatige gefuif en dronkenskap en die bekommernisse van die lewe, en daardie dag julle onverwags betrap soos 'n valstrik nie. Want dit sal oor almal kom wat op die hele aarde woon. Wees te alle tye waaksaam , en bid dat julle in staat sal wees om al hierdie dinge wat gaan gebeur, te ontvlug, en voor die •Seun van die Mens te kan staan. ” Jesus het bedags op die tempelterrein onderrig gegee, maar snags het Hy uitgegaan om op die Olyfberg te oornag. En die hele volk het vroeg opgestaan om op die tempelterrein na Hom te gaan luister.
LUKAS 21:29-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel; Kyk die vyeboom en al die bome; Wanneer hulle nou uitskiet, sien en weet julle van julleself dat die somer nou naby is. So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat die koninkryk van God naby is. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal nie verbygaan voordat alles vervul is nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nie verbygaan nie. En pas op vir julleself dat julle harte nie ooit oorlaai word met swelling en dronkenskap en sorge van hierdie lewe nie, en dat daardie dag julle onverhoeds oorval nie. Want soos 'n strik sal dit kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, dat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat sal gebeur te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. En bedags was Hy besig om in die tempel te leer; en in die nag het hy uitgegaan en gebly op die berg wat die Olyfberg genoem word. En die hele volk het die môre vroeg na hom in die tempel gekom om na hom te luister.
LUKAS 21:29-38 Die Boodskap (DB)
“Julle het netnou gevra wanneer al hierdie dinge gaan gebeur. Wel, luister gou na hierdie voorbeeld uit die natuur. Hoe weet ’n boer die somer is naby? Hy kyk na die vrugtebome. As hulle blaartjies en blommetjies begin maak, weet hy dat die somer net om die draai is. Nou ja, al hierdie dinge wat Ek so pas vir julle vertel het, moet vir julle soos die ‘blaartjies en blommetjies’ wees wat sê dat God se nuwe wêreld voor die deur is. “Luister mooi. Wat Ek nou sê, is spesiaal vir julle bedoel. In julle leeftyd sal hierdie dinge al begin gebeur. Moenie dink dis net praatjies nie. Julle dink die hemel en die aarde staan vas, maar Ek sê vir julle dat my woorde nog honderd maal vaster staan. “Staan reg vir daardie groot dag. Wees gereed. Moenie julle oorgee aan dronkpartytjies en allerhande vieslike sondes nie. Moet ook nie so besig raak met julle werk dat julle vergeet om te kyk hoe laat dit al op God se horlosie is nie. Dan gaan daardie dag julle heeltemal onkant betrap. Moenie soos baie ander mense op die laaste dag benoud begin rondhardloop omdat julle nie gereed is nie. “Ek waarsku julle nou voor die tyd: kry julle lewe in orde. Vandag nog! Bid elke dag dat die Here julle sal oppas en julle sal help om reg te leef. Dan sal julle vol vreugde voor die Seun van die mens gaan staan.” In daardie tyd het Jesus elke dag na die tempel toe gegaan om met die mense te praat oor God se nuwe wêreld. In die aande het Hy op die Olyfberg net buitekant Jerusalem gaan slaap. ’n Groot skare mense het al vroeg elke oggend na die tempel toe gestroom om te hoor wat Hy sê.
LUKAS 21:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het toe aan hulle ’n gelykenis vertel: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Wanneer julle sien dat hulle begin bot, weet julle uit julle eie dat die somer naby is. Net so weet julle ook dat die koningsheerskappy van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. “Ek verseker julle, hierdie geslag sal beslis nie uitsterf voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde sal beslis nie vergaan nie.” “Spits julle daarop toe dat julle sinne nie afgestomp word van te veel eet en drink en deur die bekommernisse van die lewe nie, en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ’n strik oorval nie. Want daardie dag sal oor al die aardbewoners kom. Wees wakker en bid altyddeur vir krag om alles wat gaan gebeur, veilig te deurstaan sodat julle kan verskyn voor My, die Seun van die Mens.” Bedags was Jesus besig om in die tempel onderrig te gee en snags het Hy uitgegaan en op die Olyfberg gaan oornag. En soggens vroeg het die hele volk na Hom kom luister in die tempel.