LUKAS 2:46-52
LUKAS 2:46-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle baie ontsteld. Sy moeder sê toe vir Hom: “Kind, hoe kon jy so iets aan ons doen? Kyk, jou vader en ek het angstig na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” Hulle het egter nie verstaan wat Hy vir hulle gesê het nie. Toe het Hy saam met sy ouers vertrek en in Nasaret aangekom, en Hy was gehoorsaam aan hulle. Maar sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense.
LUKAS 2:46-52 Bybel vir almal (ABA)
Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra. Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord. Toe Jesus se ouers Hom sien, was hulle baie bly, en sy ma het vir Hom gesê: “My Kind, hoekom het jy dit gedoen? Jou pa en ek het jou gesoek en ons was baie bekommerd.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom het julle My gesoek? Het julle nie geweet nie? Ek moet hier wees, Ek moet oor my Vader praat.” Hy het dit vir hulle gesê, maar hulle het dit nie verstaan nie. Jesus het toe saam met sy ouers na Nasaret gegaan, en Hy was gehoorsaam aan sy ouers. Sy ma het alles onthou wat gebeur het, en sy het baie maal daaroor gedink. Jesus het groot geword en nog meer wysheid gekry. God en die mense was lief vir Hom.
LUKAS 2:46-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde. En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek. En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie? En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie. En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.
LUKAS 2:46-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie. Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.
LUKAS 2:46-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind waar hy tussen die dokters sit en hulle hoor en hulle vrae vra. En almal wat hom gehoor het, was verbaas oor sy begrip en antwoorde. En toe hulle Hom sien, was hulle verbaas; en sy moeder sê vir Hom: Seun, waarom het jy so met ons gedoen? kyk, ek en jou vader het jou bedroef gesoek. En Hy sê vir hulle: Hoe het julle My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die saak van my Vader moet wees nie? En hulle het nie die woord verstaan wat Hy met hulle gespreek het nie. En hy het saam met hulle afgegaan en in Násaret gekom en hom aan hulle onderwerp; maar sy moeder het al hierdie woorde in haar hart bewaar. En Jesus het toegeneem in wysheid en gestalte en in guns by God en mense.
LUKAS 2:46-52 Die Boodskap (DB)
Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra. Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel. Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!” Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.” Josef en Maria het egter nie mooi verstaan wat Jesus vir hulle sê nie. Daarna het Jesus saam met sy pa en ma na Nasaret toe teruggegaan. Sy ma het alles wat gebeur het in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Jesus het vinnig grootgeword. Almal het gesien dat Hy groot insig in God se Woord het. God was vol vreugde oor Hom. Die mense ook.
LUKAS 2:46-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!” “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.” Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie. Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.