LUKAS 2:4-7
LUKAS 2:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid. Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan. Toe hulle in Betlehem was, het dit tyd geword dat Maria haar baba moes kry. Haar Seun is gebore. Hy was haar eerste kind. Sy het Hom toegedraai in doeke en Hom neergesit in 'n krip, want daar was nie vir Josef en Maria plek waar die ander mense gebly het nie.
LUKAS 2:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
LUKAS 2:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
LUKAS 2:4-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.
LUKAS 2:4-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Josef het ook opgetrek van Galiléa, uit die stad Nasaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word; (omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was:) Om saam met Maria, sy getroude vrou, belas te word, groot van swangerskap. En so was dit dat, terwyl hulle daar was, die dae verby was dat sy verlos sou word. En sy het haar eersgebore seun gebaar en hom in doeke toegedraai en hom in 'n krip neergelê; want daar was nie plek vir hulle in die herberg nie.
LUKAS 2:4-7 Die Boodskap (DB)
Daarom het Josef, Maria se verloofde, van Nasaret in Galilea na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan omdat hy uit Dawid se nageslag kom. Maria, wat in daardie stadium al lank swanger was, het saam met hom gegaan. Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, het die tyd aangebreek dat haar Kind gebore moes word. Sy het toe ’n Seun in die wêreld gebring. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf in doeke toegedraai en neergelê in ’n voerbak waaruit die diere hulle kos geëet het. Daar was geen ander plek vir Josef en Maria in Betlehem nie. Al die gastekamers en herberge was vol.
LUKAS 2:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.