LUKAS 2:39-52

LUKAS 2:39-52 Bybel vir almal (ABA)

Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea. Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom. Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier. Toe die fees verby was, het Josef en Maria teruggegaan na Nasaret, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie geweet nie. Toe hulle sien Jesus is nie by hulle nie, het hulle gedink Hy is by die ander mense wat saam teruggegaan het. Hulle het 'n dag lank geloop en toe het hulle vir Jesus begin soek by hulle familie en vriende. Hulle kon Hom nie kry nie en hulle het teruggegaan na Jerusalem om Hom daar te gaan soek. Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra. Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord. Toe Jesus se ouers Hom sien, was hulle baie bly, en sy ma het vir Hom gesê: “My Kind, hoekom het jy dit gedoen? Jou pa en ek het jou gesoek en ons was baie bekommerd.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom het julle My gesoek? Het julle nie geweet nie? Ek moet hier wees, Ek moet oor my Vader praat.” Hy het dit vir hulle gesê, maar hulle het dit nie verstaan nie. Jesus het toe saam met sy ouers na Nasaret gegaan, en Hy was gehoorsaam aan sy ouers. Sy ma het alles onthou wat gebeur het, en sy het baie maal daaroor gedink. Jesus het groot geword en nog meer wysheid gekry. God en die mense was lief vir Hom.

LUKAS 2:39-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret. En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom. EN sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan. En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan. En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie. Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle 'n dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek. En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom gesoek. En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde. En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek. En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie? En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie. En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

LUKAS 2:39-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom. Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle 'n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie. Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

LUKAS 2:39-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die Wet van die Here van hulle verwag, het hulle na Galilea teruggegaan, na hulle tuisdorp Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword , en vol wysheid, en die genade van God was met Hom. Jesus se ouers het elke jaar vir die fees van die Pasga na Jerusalem gegaan. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte vir die fees daarheen gegaan. Ná afloop van die fees het hulle teruggekeer, maar die Kind Jesus het sonder sy ouers se medewete in Jerusalem agtergebly. Omdat hulle gedink het dat Hy elders in die reisgeselskap was, was hulle reeds 'n dag lank op pad voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle teruggedraai na Jerusalem om Hom te soek. Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor sy insig en sy antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, was hulle baie ontsteld. Sy moeder sê toe vir Hom: “Kind, hoe kon jy so iets aan ons doen? Kyk, jou vader en ek het angstig na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” Hulle het egter nie verstaan wat Hy vir hulle gesê het nie. Toe het Hy saam met sy ouers vertrek en in Nasaret aangekom, en Hy was gehoorsaam aan hulle. Maar sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense.

LUKAS 2:39-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat hulle alles volbring het volgens die wet van die Here, het hulle teruggekeer na Galilea, na hulle eie stad Nasaret. En die kind het gegroei en sterk geword in gees, vervul met wysheid, en die genade van God was op hom. En sy ouers het elke jaar op die pasgafees na Jerusalem gegaan. En toe hy twaalf jaar oud was, het hulle volgens die gebruik van die fees na Jerusalem opgetrek. En toe hulle die dae vervul het, het die Kindjie Jesus, toe hulle teruggekeer het, in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet nie. Maar hulle het gedink dat hy in die geselskap was, en hulle het 'n dagreis gegaan; en hulle het hom gesoek onder hulle bloedverwante en bekendes. En toe hulle Hom nie kry nie, het hulle teruggekeer na Jerusalem en Hom gesoek. En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind waar hy tussen die dokters sit en hulle hoor en hulle vrae vra. En almal wat hom gehoor het, was verbaas oor sy begrip en antwoorde. En toe hulle Hom sien, was hulle verbaas; en sy moeder sê vir Hom: Seun, waarom het jy so met ons gedoen? kyk, ek en jou vader het jou bedroef gesoek. En Hy sê vir hulle: Hoe het julle My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek in die saak van my Vader moet wees nie? En hulle het nie die woord verstaan wat Hy met hulle gespreek het nie. En hy het saam met hulle afgegaan en in Násaret gekom en hom aan hulle onderwerp; maar sy moeder het al hierdie woorde in haar hart bewaar. En Jesus het toegeneem in wysheid en gestalte en in guns by God en mense.

LUKAS 2:39-52 Die Boodskap (DB)

Nadat Josef en Maria alles gedoen het wat die wet van die Here van hulle verwag het, het hulle teruggegaan Galilea toe, na hulle tuisdorp, Nasaret. Daar het Jesus sy kinderdae deurgebring. Hy het sterk geword na liggaam en na gees. God se goedheid was die hele tyd by Hom. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan om die paasfees te vier. Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte weer soontoe gegaan. Toe die fees verby was, het hulle teruggekeer na Nasaret. Jesus het egter in die tempel agtergebly, maar sy ouers het dit nie agtergekom nie. Hulle het gedink dat Hy by ander familielede en vriende was wat ook op pad terug was. Eers nadat hulle ’n dag lank op die pad was, het Jesus se pa en ma na Hom begin soek. Maar hulle kon Hom nêrens tussen hulle familie en vriende kry nie. Uiteindelik moes hulle toe terugdraai Jerusalem toe om Hom daar te gaan soek. Na ’n lang soektog van drie dae het Josef en Maria vir Jesus in die tempel opgespoor. Hy het daar tussen die skrifkenners gesit. Hy het aandagtig na hulle geluister en allerhande vrae aan hulle gevra. Almal van hulle was verstom oor sy groot insig in die Bybel. Toe Maria en Josef vir Jesus daar sien, was hulle baie omgekrap. Maria het dadelik vir Hom gesê: “Hoe kon jy so iets aan ons doen? Ons is al dood van bekommernis oor jou. Dae lank soek ons oral na jou!” Maar Jesus het geantwoord: “Waarom het u na My gesoek? U weet mos dat Ek in die huis van my Vader moet wees.” Josef en Maria het egter nie mooi verstaan wat Jesus vir hulle sê nie. Daarna het Jesus saam met sy pa en ma na Nasaret toe teruggegaan. Sy ma het alles wat gebeur het in haar binneste weggebêre en gereeld daaraan teruggedink. Jesus het vinnig grootgeword. Almal het gesien dat Hy groot insig in God se Woord het. God was vol vreugde oor Hom. Die mense ook.

LUKAS 2:39-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea. Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom. Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon. Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het. Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek. Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek. Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra. Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde. Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!” “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.” Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie. Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar. En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid