LUKAS 18:11-13
LUKAS 18:11-13 Bybel vir almal (ABA)
Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in 'n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is 'n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ”
LUKAS 18:11-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig!
LUKAS 18:11-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’ “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’
LUKAS 18:11-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’
LUKAS 18:11-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die Fariseër het gaan staan en so by homself gebid: God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie, rowers, onregverdiges, egbrekers, of selfs soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek besit. En die tollenaar het ver gestaan en wou nie soveel as sy oë na die hemel opslaan nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: God wees my, sondaar, genadig!
LUKAS 18:11-13 Die Boodskap (DB)
“Die Fariseër het toe begin bid: ‘God, ek sê vir U dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Kyk net: ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg en bedrieg nie. Ek slaap ook nie rond nie. Ja, en ek is ook nie so ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie. “‘O ja, kyk net wat doen ek alles: ek vas twee keer elke week. Ek gee ook ’n tiende van elke sent wat ek verdien.’ “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’”
LUKAS 18:11-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien!’ “Die tollenaar het op ’n afstand bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’