LUKAS 17:5-6
LUKAS 17:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Die apostels het vir die Here gesê: “Help ons asseblief om sterker te glo.” Toe het die Here gesê: “As julle 'n bietjie geloof het, so klein soos 'n mosterd-saadjie, dan sal julle vir hierdie moerbeiboom kan sê: ‘Trek jouself uit die grond en plant jouself in die see.’ Dan sal die boom doen wat julle sê.
LUKAS 17:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. En die Here sê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant — en hy sou julle gehoorsaam wees.
LUKAS 17:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.
LUKAS 17:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê die •apostels vir die Here: “Gee ons meer geloof!” En die Here antwoord: “As julle geloof soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie wildevyeboom gesê het, ‘Trek jou wortels uit die grond en gaan plant jouself in die see,’ en hy sou na julle geluister het.
LUKAS 17:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die apostels het vir die Here gesê: Verhoog ons geloof. En die Here het gesê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir hierdie wildevyeboom kon sê: Word met die wortel uitgeruk en in die see geplant; en dit moet jou gehoorsaam.
LUKAS 17:5-6 Die Boodskap (DB)
Toe sê Jesus se twaalf apostels vir Hom: “Here, dis so moeilik om al hierdie dinge te doen wat U sê. En ons geloof is so klein. Gee ons asseblief nog geloof.” “Julle sê julle wil meer geloof hê,” het Jesus dadelik gereageer. “Weet julle, julle hoef nie baie geloof te hê om groot dinge vir die Here te doen nie. ’n Klein bietjie is meer as genoeg. Gebruik dit net! Kyk, as julle geloof maar net so groot soos ’n mosterdsaadjie was, sou julle vir hierdie vrugteboom gesê het: ‘Skuif! Gaan staan daar in die middel van die see.’ Dan sou die boom na julle geluister en see toe geskuif het.”
LUKAS 17:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die apostels het toe vir die Here gesê: “Help ons. Ons het meer geloof nodig.” Die Here het gereageer: “Al sou julle maar net ’n geloof só klein soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see’ – hy sou julle gehoorsaam!