LUKAS 17:11-18
LUKAS 17:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Jesus was nog op pad na Jerusalem. Hy was op die grens tussen Samaria en Galilea. Toe Hy by 'n dorpie wou ingaan, kom daar tien melaatse mans na Hom toe. Hulle het gaan staan voordat hulle naby Hom was en hulle het hard geroep: “Jesus, Meneer, U moet asseblief jammer wees vir ons en U moet ons help.” Jesus het hulle gesien en Hy het vir hulle gesê: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Toe hulle weggaan, het hulle gesond geword. God het hulle rein gemaak. Hulle het gesien hulle is gesond, maar net een van hulle het omgedraai en God geprys, so hard dat baie mense dit kon hoor. Hy het by die voete van Jesus gekniel met sy gesig teen die grond en hy het vir Jesus dankie gesê. Hy was 'n Samaritaan. Jesus was verbaas en Hy sê toe: “God het tien melaatse mans gesond gemaak. Waar is die ander nege? Het hulle nie ook dankbaar gevoel en teruggekom om God te prys nie? Hierdie man is nie 'n Jood nie, maar hy alleen het dankbaar gevoel.”
LUKAS 17:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samaría en Galiléa gegaan. En toe Hy in 'n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op 'n afstand bly staan het. En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig! En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?
LUKAS 17:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan. Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?”
LUKAS 17:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n keer het Jesus op pad na Jerusalem deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea gereis. Toe Hy 'n sekere dorpie binnegaan, het tien melaatse mans Hom tegemoet gekom. Hulle het op 'n afstand bly staan en uitgeroep: “Jesus, Meester, ontferm U tog oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself vir die priesters.” Op pad daarheen is hulle gereinig. Een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met 'n harde stem geloof. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hy was 'n Samaritaan. Jesus antwoord hom toe: “Is daar dan nie tien gereinig nie? Waar is die ander nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te loof, behalwe hierdie vreemdeling nie?”
LUKAS 17:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hy na Jerusalem gegaan het, het hy deur Samaria en Galilea getrek. En toe hy in 'n sekere dorp kom, kom tien melaatses hom tegemoet, wat ver gestaan het. En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons genadig! En toe hy hulle sien, sê hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En terwyl hulle gegaan het, is hulle gereinig. En toe een van hulle sien dat hy genees is, het hy omgedraai en God met 'n groot stem verheerlik, En hy het op sy aangesig by sy voete neergeval en Hom gedank; en hy was 'n Samaritaan. En Jesus antwoord en sê: Is daar nie tien gereinig nie? maar waar is die nege? Daar word nie gevind wat teruggekeer het om aan God eer te gee nie, behalwe hierdie vreemdeling.
LUKAS 17:11-18 Die Boodskap (DB)
Op pad Jerusalem toe het Jesus deur Samaria en Galilea gereis. In een van die dorpe het tien melaatses op Hom afgekom. Hulle het ’n lelike velsiekte gehad wat veroorsaak het dat hulle nie tussen ander mense kon bly nie. Hulle het ’n hele ent van Jesus af gaan staan omdat hulle nie toegelaat is om naby gesonde mense te kom nie. Hulle roep toe hard uit: “Jesus, groot Leermeester, kry ons asseblief tog jammer!” Jesus sê toe vir hulle: “Gaan dadelik na die priester toe. Laat hy vir julle ’n sertifikaat gee as bewys dat julle gesond is.” Op pad soontoe het hulle melaatsheid verdwyn. Hulle vel was skielik weer normaal. Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê. Hy was ’n Samaritaan. Toe sê Jesus vir hom: “Julle is mos tien persone wat nou net gesond geword het. Nou waar’s die ander nege dan? Dit lyk My hulle glo nie God het hulle eens en vir altyd genees nie. Daarom dat hulle nie omgedraai en kom dankie sê het soos jy nie. Jy begryp baie beter as daardie nege Israeliete wie Ek is.
LUKAS 17:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit het gebeur terwyl Jesus deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea op reis was na Jerusalem toe. Toe Hy aan die buitewyke van ’n sekere dorpie kom, het tien mans met ernstige velsiektes Hom tegemoetgekom, maar op ’n afstand bly staan. Hulle het hard na Hom geroep: “Jesus, Meneer, ontferm u tog oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan. Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege? Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?”