LUKAS 14:25-34
LUKAS 14:25-34 Bybel vir almal (ABA)
Daar was baie mense wat saam met Jesus na Jerusalem gegaan het. Jesus draai toe om en Hy sê vir hulle: “As iemand na My toe kom en hy is minder lief vir My as vir sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters en vir homself, dan kan hy nie my dissipel wees nie. As iemand saam met My wil kom, dan moet hy lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis hang en sterf. As hy dit nie wil doen nie, dan kan hy nie my dissipel wees nie. 'n Mens moet voor die tyd weet hoeveel iets gaan kos. 'n Man wat 'n wagtoring wil bou, moet eers gaan sit en dink hoeveel dit sal kos, hy moet kyk of hy genoeg geld het om dit klaar te bou. As hy nie genoeg geld het nie, dan sal hy net die fondament kan bou, hy sal nie die toring kan klaar bou nie. Almal wat dit sien, sal hom spot en sê: ‘Hierdie man het begin om iets te bou, maar hy kon dit nie klaarmaak nie.’ 'n Koning wat teen 'n ander koning wil oorlog maak, moet eers planne maak en vir homself vra: ‘Sal ek met my 10 000 soldate kan veg teen 'n koning wat 20 000 soldate het?’ As die koning besluit hy kan nie, dan stuur hy van sy manne terwyl die ander koning nog ver is, en hy probeer vrede maak. So is dit ook met julle. As iemand vashou aan al sy goed, en hy wil nie sê mense kan alles vat nie, dan kan hy nie my dissipel wees nie. Sout is goed, maar as die sout nie meer soos sout smaak nie, dan kan niemand dit weer soos sout laat smaak nie.
LUKAS 14:25-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. Of watter koning wat optrek om teen 'n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy 'n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word?
LUKAS 14:25-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie. “Wie van julle wat 'n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. Hulle sal sê: ‘Hier is 'n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’ “Of watter koning wat met 'n ander koning in 'n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? Anders stuur hy 'n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is. “So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.” “Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?
LUKAS 14:25-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Groot skares mense het saam met Hom gereis. Hy het na hulle gedraai en gesê: “ As iemand na My kom en My nie liefhet bo sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. Wie nie sy eie kruis dra en My volg nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, om te sien of hy genoeg geld het om dit te voltooi nie? Sodat dit nie gebeur dat, as hy die fondament lê en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, met hom begin spot en sê, ‘Hierdie man het begin bou, maar kon nie klaarmaak nie.’ Of watter koning trek op om met 'n ander koning oorlog te voer, en gaan nie eers sit en oorweeg of hy met tienduisend man opgewasse sal wees teen die ander een wat met twintigduisend teen hom optrek nie? Indien nie, stuur hy, terwyl die ander een nog ver is, 'n afvaardiging en vra voorwaardes vir vrede. Net so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie.” “Sout is goed, maar as sout sy smaak verloor, waarmee sal dit weer smaaklik gemaak word?
LUKAS 14:25-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar het groot menigtes saam met hom gegaan, en hy het omgedraai en vir hulle gesê: As iemand na my toe kom en sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, ook sy eie lewe, nie haat nie, kan hy nie my dissipel wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat van plan is om 'n toring te bou, gaan nie eerste sit en die koste bereken of hy genoeg het om dit te voltooi nie? So nie, nadat hy die fondament gelê het en dit nie kan voltooi nie, sal almal wat dit sien, hom begin bespot, en gesê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarmaak nie. Of watter koning gaan oorlog voer teen 'n ander koning, en gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend hom te ontmoet wat teen hom kom met twintigduisend nie? Of anders, terwyl die ander een nog ver is, stuur hy 'n gesant en begeer voorwaardes van vrede. So kan ook elkeen van julle wat nie alles wat hy het verlaat nie, my dissipel wees nie. Sout is goed, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit geur word?
LUKAS 14:25-34 Die Boodskap (DB)
Jesus was teen daardie tyd so bekend dat ’n groot skare agter Hom aangestap het. Op ’n dag het Hy vir hulle almal gesê: “Dink julle regtig dat dit so maklik is om een van my volgelinge te wees? Wel, kom Ek sê reguit vir julle, as jy meer omgee vir jou ouers of vir jou vrou of jou kinders of vir enigiemand anders, moet jy nie eens probeer om agter My aan te kom nie. As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou baie belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg! “Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees. En dit is baie moeilik. Ja, dis so moeilik soos om jou eie doodsvonnis te onderteken. Om My te volg moet jy maak soos iemand wat die doodsvonnis opgelê is: jy moet jou kruis optel en agter My aanstap. As jy nie daarvoor kans sien nie, bly liewer weg. “Kom Ek verduidelik dit met ’n voorbeeld: As jy ’n huis wil bou, werk jy mos voor die tyd uit of jy genoeg geld het om dit alles te kan doen, nie waar nie? Anders, as jy nie jou sommetjies behoorlik gemaak het nie, is jou geld dalk te min nadat jy die fondament gegooi het. En wat gebeur dan? Dan lag almal vir jou. Hulle sal sê: ‘Daar’s nou vir jou ’n deurmekaar ou wat ’n huis halfpad bou en dit dan net so laat staan!’ “Nog ’n voorbeeld: As ’n koning met ’n leër van 10 000 soldate besluit om te gaan oorlog maak teen ’n ander koning met ’n leër van 20 000 soldate, moet hy voor die tyd baie mooi dink of hy dit kan regkry. So nie, moet hy liewer ’n afvaardiging na die ander koning toe stuur en met hom probeer onderhandel om ’n vreedsame oplossing te kry. “Weet julle, so gaan dit ook met elkeen van julle wat agter My wil aankom. As julle nie bereid is om julle geld en julle besittings weg te gee aan ander mense wat swaarkry nie, kan julle nie my volgelinge wees nie. “Julle wat sê dat julle my volgelinge is, is soos sout. Julle moet smaak gee aan hierdie smaaklose wêreld. Maar wat help dit as julle self smaakloos is?
LUKAS 14:25-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Groot skares het Jesus gevolg. Hy het omgedraai en vir hulle gesê: “As iemand na My toe kom, moet jy My liewer hê as jou eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters, en ook jou eie lewe gering ag. Anders kan jy nie my dissipel wees nie. En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie. “Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie. Want wie sal met die oprigting van ’n gebou begin sonder om eers kwotasies te kry en te sien of daar genoeg geld is om die rekeninge te betaal? Anders kan jy dalk net die fondament voltooi voordat die geld opraak. En dan sal almal mos vir jou lag! Dan sal hulle sê: ‘Daardie kêrel het mooi begin bou, maar sy geld was op nog lank voordat hy klaar was.’ “Of watter koning sal ooit droom om oorlog toe te gaan voordat hy saam met sy raadgewers gaan sit en beplan het of hy met sy 10 000 man sterk genoeg is om die aankomende 20 000 soldate te verslaan? As hy nie kan nie, sal hy, terwyl die vyand nog ver is, ’n afvaardiging stuur om vredesvoorstelle te maak. Só kan niemand my dissipel word sonder om alles vir My prys te gee nie. “Sout is goed om smaak te gee. Maar as dit sy smaak verloor het, hoe kry ’n mens dit weer sout?